RESENSIE
Balletbestes grasieus maar beknop
Cape Town City Ballet
HMS Bloemhof-skoolsaal
Foto’s: Nardus Engelbrecht
In ’n wêreld vol gesinchroniseerde TikTok-dansies wonder party mense tereg of daar nog ’n plek is vir ballet. Kan ons nog vir langer as sewe sekondes konsentreer en die grasieuse bewegings waardeer, of het skermtyd ons afgesny van klassieke kuns?
Ballet was nog altyd in ’n klas van sy eie, en ek is duidelik nie die enigste een wat so dink nie. Die kleinerige Bloemhof-skoolsaal was stampvol en ’n paar ekstra stoele moes ingedra word vir die gehoor wat op die tydelike verhoog afkyk.
Die vertoning was kort en kragtig met uittreksels uit die geselskap se kontemporêre en klassieke repertoire – net genoeg om jou lus te maak vir meer. Ongelukkig is die skoolsaal redelik kompak, terwyl jy vir ’n balletproduksie ruimte en ’n ordentlike dansvloer nodig het. Die venue skep dus nie die spasie en atmosfeer wat ballet verg nie. Die beligting het in hierdie geval ook nie veel waarde toegevoeg nie. In sulke omstandighede is dit te verstane dat die dansers nie altyd stewig op hul voete was nie, maar die geselskap is besonder vaardig en het genoeg oomblikke geskep wat my verwonderd gelaat het.
Die uittreksels uit die kontemporêre werke Moon Behind the Clouds en Polarity sorg vir ’n goeie balans van klassieke tegniek, eksperimentele bewegings en emosie. Daar is iets sensueels aan die dansers wat stil oor die verhoog beweeg, bewus van hul lywe en elke spier wat tot sy uiterste beproef word. In so ’n vertoning kom uittreksels uit die klassieke repertoire – in hierde geval Romeo and Juliet, Giselle en The Nutcracker – ongelukkig nie tot hulle reg nie. Die storievertel-element gaan verlore en dalk laat sulke solo’s sonder konteks my te veel aan kompetisies dink.
Ek het die vertoning ontspanne verlaat, dankbaar dat ons ná meer as twee jaar van isolasie weer sulke toewyding kan gadeslaan.
- Cape Town City Ballet se laaste vertoning is op 15 Oktober in die HMS Bloemhof-skoolsaal. Bespreek by Webtickets.