RESENSIE

Luister as die plante praat

Jennifer Pape
Plante praat: Die gees van genees
US Botaniese Tuin
Foto’s: Nanette Evenhuis

Ek het Plante praat gaan bywoon met die vooropgestelde idee dat iemand soos Ernst van Jaarsveld my oor helende plante gaan vertel, en iemand sing dalk ’n liedjie tussenin. In stede daarvan word ons deur vier aardse kaalvoetvroue genooi om op ’n reis van natuurstories te gaan. Om deel te word van hierdie stories, kry ons elkeen ’n gevlegte “diepluisterkrans”, ’n beker inheemse kruietee en eetgoed uit die veld.

Khadija Heeger vertel ons oor die gees van plante in lieflike rymende taal. Woorde vloei ritmies soos ruiselende blare. Die reuk van die kruietuin is betowerend.

Amy Brown bring ons terug na ons wortels of eerder ons ontworteling in dié wêreld. Ons staan op groot wit spoelklippe, maak ons oë toe om te luister. Waar kom ons elkeen vandaan en hoe vorm die klippe en bosse ons?

Ons hoor ’n bekfluitjie speel by die piesangbos. Karli Heine is ’n boom, sy lag maklik en wonder hoe dit is om te beweeg, sy vind die flitsende lewe om haar ietwat onverstaanbaar. Daar is ’n strelitzia wat haar pla en vlêrmuise irriteer haar in die nag. Sy maak geraas met haar takke terwyl die majestieuse piesangbos agter haar toring.

Dan hoor ons die woorde: “ Phila, phila… Phila, phila.” Ukhona Ntsali Mlandu roep ons nader om haar te volg tot in die Namibwoestyn langs ’n ou Welwitschia mirabilis waar twee nuuskierige akkedisse saam sit en luister na ons plek hier as deel van die natuur. “Phila” beteken “gaan goed” of “genees”, ’n boodskap, miskien, van die natuur.

Plante praat was vir my ’n wonderlike ervaring. Elke optrede het soomloos deel gevorm van die natuur en plante om ons, elke boodskap uniek, maar tog deel van die tema “die gees van genees”. Wat ’n gawe gedagte van die vervaardiger, Shihaam Domingo, wat dié plan help beraam en bymekaargetrek het. Geluk aan almal betrokke.

  • Plante Praat se vertonings is op 12 Oktober om 15:00, 13 Oktober om 10:30 en 15:00, 14 Oktober om 10:30 en 15:00, 15 Oktober om 10:30 en 15:00 by die US Botaniese Tuin. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn