Die akteur De Klerk Oelofse is die wenner van R1 miljoen in ontwikkelingsfinansiering vir die Toyota Stellenbosch Woordfees se eerste The Perfect Pitch-teaterinisiatief.
Die wenner is op Donderdagaand 8 Oktober 2026 aangekondig ná afloop van die agt uitgesoekte finaliste se konsepvoorleggings aan ’n paneel en ’n gehoor by die fees. Die komediant Alan Committie was die seremoniemeester by die Adam Small-ouditorium in Stellenbosch.
Die teatermakers het elk vyf minute gekry om hul droomproduksie aan sakeleiers en beleggers te verkoop. “Ek wil net aan die paneel sê, dit kan nét gedoen word met ’n volle orkes,” was De Klerk Oelofse se opmerking oor sy wenkonsep, Sodom en Cremora. “Of ons nou die universiteite waar ek dit ook wil opvoer se orkeste gebruik of die geld uithaal vir ’n professionele orkes, ons gaan dit doen,” het hy geskerts.


Die res van die finaliste was Brett Bailey (Alice in Pondoland), Jason Jacobs (Sout), Dylan McGarry (Whale Fall), Byron Klassen en Miché van Wyk (Khomani & Euridika: Die lied onder die koperstof), Brendon Daniels (Spat), Nicola Hanekom (Die deurnagtrein van slaapwaens) en Carel Nel (Vastrap).
Die paneellede was verteenwoordigers van organisasies wat almal bydra tot die inisiatief: Cornelia Faasen (NATi), Carel Nolte (EasyEquities), Pieter Toerien (Pieter Toerien Productions) en Saartjie Botha (Toyota Stellenbosch Woordfees).
“Ek is vanaand opnuut herinner aan die waarde van feeste. Dis iets wat ek lanklaas beleef het. En ek kan julle verseker, omdat hulle vanaand hier ’n platform gehad het, sal daardie agt vertonings êrens gerealiseer en aangebied word. En dis waarom feeste daar is,” het Pieter Toerien gesê.
Carel Nolte het verder R20 000 aan elk van die ander finaliste toegeken. “Dis ’n groot voorreg om persoonlik sowel as namens EasyEquities deel te kon wees van hierdie inisiatief. En ons wil hê meer organisasies moet betrokke raak sodat ons meer geld en wenners kan hê,” het Nolte gesê.
Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, het gesê die inisiatief is gebore uit die behoefte aan nuwe maniere om finansiering te kry om die fees moontlik te maak deur produksies op die planke te bring. “Om ’n fees te reël, verg baie tyd en harde werk, maar die hardste werk van alles is om geld te kry. Ons begin elke jaar met nul. Ons sluit die fees Sondag af, dan praat ons met borge en donateurs, maar uiteindelik begin ons met programmering voor ons enige befondsing verseker het. So dis ’n groot risiko om ’n fees aan te bied. En dis ongelooflik lekker om te kon sien: jô, maar die werk is goed! Dis moeilik om enige inisiatief vir die eerste keer aan te bied, ons het waardevolle lesse geleer, en ons hoop om The Perfect Pitch volgende jaar weer aan te bied, hierdie keer met ’n bietjie meer struktuur,” het Botha gesê.





