nagtegaal

Nagtegaal-teksprys-wenner: Dianne du Toit Albertze betower met ‘uitmuntende tegniek’

Die wenner van die gesogte Nagtegaal-teksprys vir 2025 is die Namakwalandse skrywer, aktrise en teaterskepper Dianne du Toit Albertze.

Die Nagtegaal-teksprys is die grootste teksskryfkompetisie in Suid-Afrika en het in 2024 herleef in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees. Vir haar wenteks, Huis van sand, ontvang Du Toit Albertze naas prysgeld van R100 000 ook mentorskap en ondersteuning met die finale afronding van die teks, asook ’n speelvak by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees. Boonop het die bekroonde aktrise vir wie sy die hoofrol geskryf het, Tinarie van Wyk Loots, alreeds daartoe ingestem. 

“Die wentoneelstuk is gekies op grond van uitmuntende gebruik van teatertegnieke, insluitend minimale stelwerk wat die verbeelding aanwakker, en fisieke spel wat die emosionele landskap verryk,” sê die dramaturg en paneellid Nico Scheepers.

“Die skrywer se unieke stem is duidelik sigbaar in die dapper temakeuses en genuanseerde karakterisering. Wat besonders uitstaan, is die konsekwente visie wat deurgaans gestalte kry – ’n duidelike estetiese en dramaturgiese rigting wat beide innoverend en roerend is.”

Dianne du Toit Albertze
Dianne du Toit Albertze FOTO: Cyan Peppah

Die naaswenners is André Gerber in die tweede plek met sy teks Die kabinet en Lee Doubell in die derde plek met Kom komeet, kom. Gerber en Doubell ontvang onderskeidelik R50 000 en R25 000, asook mentorskap. Die pas afgelope kompetisie het 77 inskrywings van sowel gevestigde as opkomende skrywers gelok. Danksy die gehalte het die keuringspaneel besluit om nog twee skrywers vir mentorskap te nooi, wat elk R12 000 se prysgeld sal ontvang. Hulle is Philip Rademeyer met Patria en Jackie Lätti met Die pop

Die paneel bestaan uit gerekende teaterskeppers en skrywers: Deon Opperman, Jason Jacobs, Jolyn Phillips, Saartjie Botha en Scheepers. Hul besluite is beïnvloed deur die volgende kriteria: Diversiteit in rolverdeling wat as vereiste by die teks ingeskryf moet wees, ’n sterk narratief, verhoogmatigheid, ’n eksperimentele benadering en literêre meriete. 

Vir Dirk Nagtegaal, mede-stigter van die Nagtegaal-teksprys in 2002, was die motivering nog altyd geleentheid en die vertoning van gehalteteater. 

“Die paneel se besluit om nog twee skrywers vir mentorskap te nooi, spreek tot wat hier met die kompetisie reggekry is – dit het ons land se voorste skrywers gelok,” sê Nagtegaal. 

Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, is baie opgewonde oor die prys en die pryswenner. “Die prestige, prysgeld en die geleentheid om werklik aan ’n teks te skaaf voor dit opgevoer word, sorg vir groot opwinding en motivering in die bedryf.”

Ná ’n moeilike vier jaar weg van teater, het Du Toit Albertze “lank gebid vir hierdie verligting”. 

“Ek het al baie produksies sonder ’n sent gedoen. Ek het vrede gemaak dat my tyd in die Afrikaanse teaterwêreld verby was. Hoewel die beste werk deur spanne en ondersteuning moontlik gemaak word, moet jy in die teaterwêreld dikwels uit en op jou eie werk. So dié prys en mentorskap is van onskatbare waarde,” vertel Du Toit Albertze. Sy was onlangs vir die eerste keer in vier jaar weer op die verhoog in haar eenvrouvertoning Katrina Kakkerlak by Kaapstad Toneelhuis. Sy is ook die skrywer van die eerste transroman in Afrikaans, bottelnek breek bek, wat in 2022 die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys gehaal het.

Huis van sand gaan oor ons kinderjare wat ons as grootmense inhaal. Toksiese vroulikheid, dit wat van ma na dogter oorgedra word, van een generasie na die volgende – veral trauma en hoe ’n familie mekaar kan vernietig en tog ook mekaar kan bystaan en omhels,” vertel Du Toit Albertze. 

Huis van sand verken die verhouding tussen ma en dogter, Sandy en Babs (Van Wyk Loots), in ’n karavaanpark in die wêreld van Du Toit Albertse se komvandaan – Springbok. Babs en Sandy leef op die leftovers van hul verlede. Die vier mure van hul karavaan ken klomp geheime en al is dit ’n humble huisie, is dit ma en dogter se pondokpaleis, die girls se sandkasteel. Sandy het haar swerwersbestaan langs die N7 koebaai gegroet om ’n lewe te begin in Rodney se karavaan net buite Springbok. Die bottel eers gebêre om Babs groot te maak. En saam met dit kom groeipyne en erfsondes. As volwasse vrou probeer Babs haar bes om die bloed van haar herinneringe skoon te was en aan te beweeg as onderwyseres by die plaaslike laerskool. Tog kom haal die stofstorms haar keer op keer in. Die kouevuur van Sandy en Babs se onthou vat die gehoor op ’n verbeeldingsvlug, ’n treinrit tot diep binne waar die grense begin grys word. 

Verdere besonderhede oor Huis van sand se volledige rolverdeling, regisseur en vertonings by die Toyota Stellenbosch Woordfees, sal met verloop van tyd op ons platforms en in die feesprogram in Junie bekend gemaak word. 

Die 25ste Woordfees vind van 11 tot 19 Oktober in Stellenbosch plaas. Inskrywings vir 2026 se kompetisie is nou oop tot 5 Desember 2025. Vind die inskrywingsvorm hier onder.

Facebook
Twitter
LinkedIn