Dit is tyd vir die negende US Woordfeeskortverhaalbundel-kompetisie. Al die vorige bundels is baie goed deur skrywers en die leserspubliek ondersteun en ook gunstig deur kritici ontvang. Hierdie kortverhaalbundels sal in die komende jare dien as ’n dokument van die tydsgees waarin veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulself tans bevind.
Die skrywer van die wenverhaal sal prysgeld van R30 000 ontvang. Die res van die skrywers wat in die bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 kry.
Skrywers wie se verhale vir die bundel gekies word, sal gedurende Julie 2024 in die media bekend gemaak word. Die wenverhaal sal eers tydens die bekendstelling van die bundel by die 2024 Toyota US Woordfees aangekondig word.
Die bundel sal oudergewoonte die jaar se feestema as titel hê, maar die feestema sal eers in 2024 bekend gemaak word. Die kortverhaalskrywers wat aan die kompetisie deelneem, hoef egter hoegenaamd nie die feestema in ag te neem nie en kan skryf waaroor hulle wil.
Kompetisiereëls en riglyne vir inskrywings:
• Slegs Afrikaanse kortverhale sal aanvaar word.
• Die kompetisie is oop vir alle skrywers. Werknemers en familielede van die Toyota US Woordfees word nie toegelaat om deel te neem nie.
• Slegs een inskrywing word per skrywer aanvaar. Die verhaal moet ’n minimum van 1 500 woorde lank wees, met 3 000 as die maksimum woordtelling.
• Verhale moet nuutgeskryf wees en nie voorheen op enige platform gepubliseer wees nie.
• Kopiereg van die verhale berus by die skrywers, maar kopiereg van die bundel setel in die Toyota US Woordfees. Indien verhale wat in die bundel verskyn later ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan die Toyota US Woordfees sowel as volledige erkenning met publikasie.
• Keuring word streng anoniem gedoen. Die skrywer se naam en kontakbesonderhede moet op die aanlyn inskrywingsvorm ingevul word, maar NIE by die verhaal ingesluit word nie. Slegs die titel moet duidelik sigbaar boaan die verhaal verskyn, ten einde anonieme keuring te verseker.
• Verhale moet in MS Word-formaat aangebied word en elke bladsy moet genommer wees. Gebruik SLEGS die titel van die verhaal as titel van die dokument (file name). Let wel: Geen PDF’s sal aanvaar word nie.
• Indien daar enige blatante verwysing na die skrywer in die verhaal gemaak word waaruit beoordelaars sy/haar identiteit kan aflei, sal die verhaal summier gediskwalifiseer word.
• Verhale sal geredigeer word voor publikasie, met goedkeuring daarvan deur die skrywer.
• Daar is geen voorgeskrewe tema vir die verhale nie – skrywers is vry om enige tema te gebruik.
• ’n Maksimum van 25 verhale sal vir die bundel gekies word.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is om 17:00 op 1 April 2024. (En nee, dis nie ’n April-grappie nie.)
Inskrywings wat later as 17:00 op 1 April 2024 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie. Inskrywings sal met ontvangs erken word, maar let wel: eers vanaf 1 Februarie 2024.
Klik hier vir die aanlyn inskrywingsvorm en meer besonderhede.
Klik hier vir meer inligting oor die Woordfeeskortverhaalbundel-projek.
Navrae kan per e-pos aan woordfeesbemarking@sun.ac.za gerig word. Slegs skriftelike navrae sal beantwoord word.