Die program vir die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees is NOU beskikbaar en kaartjieverkope open op 26 Junie. Maar indien jy nie kan wag nie en die fees wil ondersteun, kan jy by ons lojaliteitsprogram aansluit en voor in die tou spring om jou kaartjies nou te koop. Dié program bied verskillende vlakke van betrokkenheid aan lojaliteitslede – nie net as teken van ondersteuning nie, maar ook as ’n persoonlike belegging in kultuur en ’n viering van gemeenskap en kunste.
Die kaartjiekantoor by Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch open 26 Junie. Die handelsure is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:00. Die gewilde gedrukte feesgids sal ook dan hier beskikbaar wees.
Saartjie Botha, direkteur van die Woordfees, sê sy dink vanjaar se program is dalk die beste tot nóg toe. Van toneel en musiek tot letterkunde, dans, films, visuele kunste en nog baie meer – die fees spog met ’n kragtige aanbod wat gehalte, verskeidenheid, diepte en vermaak vier. “Vanjaar se program is ’n spesiale kopknik na die letterkunde, die ontstaansrede en ’n kwarteeu later steeds die hart van die fees,” sê Saartjie.
Hierdie jaar se tema, “deel”, weerspieël ’n kollektiewe verlange na herverbinding – om te luister, te gee, te vier wat ons in gemeen het en om ons uiteenlopende stemme te eer. “Om te deel, is nie om te verminder nie. Die Woordfees se manier van deel skep méér, maak heel, vermeerder – uitkomste, geleenthede en genade. En dit, uiteindelik, is die sukses van ’n kunstefees – dit is ’n betekenisvolle vermenigvuldiger,” sê Saartjie.
Hoogtepunte op die Spier Toneelprogram sluit in die langverwagte terugkeer van Breyten Breytenbach se Boklied onder regie van Marthinus Basson, Die ander dogter met Sandra Prinsloo, Liefde, Lafras met Antoinette Kellermann, die wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys vir teater, Huis van sand deur Dianne du Toit Albertze, sowel as die naaswenner, Die kabinet deur André Gerber.
Die EasyEquities Skrywersfees spog met ’n sterk en uiteenlopende program saamgestel deur Bibi Slippers. Vir die eerste keer het die Woordfees twee feesdigters: Antjie Krog en Siphokazi Jonas. Daar is ook die nuwe Dag van poësie sowel as ’n Dag van geskiedenis.
Die dinamiese kunsduo Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix deel die eer as vanjaar se feeskunstenaars.
Die Toyota Stellenbosch Woordfees vier vanjaar haar 25ste bestaansjaar danksy die volgehoue ondersteuning van individue, maatskappye en instellings soos: Het Jan Marais Nationale Fonds, Toyota, Universiteit Stellenbosch, Netwerk24, Spier-wynlandgoed – om maar net ’n paar te noem.
Neem deel en wees deel vanaf 11 tot 19 Oktober.