RESENSIE

Om jouself te verloor om weer te vind

Jo-Ann Floris
Bientang: Bloedspoor/!nau
HMS Bloemhof-skoolsaal
Foto’s: Natalie Gabriels

Hoe word ’n mens ’n “laaste?” Hoe word ’n mens ’n “iemand”? Met haar verwerking van haar digbundel Bientang wat in 2020 verskyn het, stuur die skrywer Jolyn Phillips die verhoogproduksie op ’n verkenningstog. Maar dit gaan nie net oor die vrou Bientang wat in ’n grot in Hermanus bly nie; dit stel ook vrae oor herkoms, identiteit en erkenning van die bloedlyn wat ons nie kan verander of afsny nie.

Dit is ’n uiters talentvolle en veelsydige groep akteurs wat onder leiding van die regisseur, Amelda Brand, gestalte gee aan die stuk. Dit is ’n heerlike reis om mee te maak deur hulle oë. Hulle gaan haal Bientang netjies van die agterkant van die restaurantspyskaart af waar haar “geskiedenis” as die laaste Strandloper geskryf staan en kom sit haar voor die gehoor neer.  Die vrou wat verkies het om die wêreld agter te laat en die grot haar huis te maak, kom staan en kyk jou in die oë.

Die stuk is deurspek met see- en grotsimboliek wat Bientang se vele fasette verken. Heel aan die begin is ’n beskrywing van !nau, ’n oorgangsfase, wat vereis dat jy moet jou lossny van een ding (in haar geval die samelewing) en nuut word. Identiteit kom nogmaals  ter sprake: Wat word jy ná die oorgangsfase?

Daar is ’n oomblik in die stuk waar Phillips se karakter vir haar oom gaan vra oor hulle familiegeskiedenis. Hy klou vas aan die idee dat hulle Iers is en nie van die Khoi afstam nie. Dít herhaal hy ’n paar keer wat Bientang moedeloos laat vra: “Hoe het ons dan bruin geword?”

Die stuk gee nie antwoorde nie en skryf nie voor nie – en daarin lê die magic. Dit laat die gehoor toe om daardie vraag vir hulleself uit te werk, want die reis na identiteit is verskillend vir almal. In Phillips se gedig skryf sy oor lord Montagu, plante- en natuurkenner wat dit sy missie maak om Bientang te vind, maar dat die grotvrou aan hom sê om nie aan die plante name te gee wat hulle nie wil hê nie. Net so het elkeen hulle eie reis om hul naam en identiteit te vind – die stuk wys hoe dit gedoen kan word.

Terwyl ’n mens luister na die musiek, wat presies die regte snare raak, het ek vir ’n oomblik gedink  hoe  goed Bientang: Bloedspoor/!nau as volledige musical sou kon werk. Al die elemente is daar.

 

  • Bientang: Bloedspoor/!nau se laaste vertoning is op Saterdag 15 Oktober om 12:30 in die HMS Bloemhof-skoolsaal. Ouerbegeleiding vir kinders jonger as 13 jaar. Bespreek kaartjies by Webtickets of koop by die deur.

 

Facebook
Twitter
LinkedIn