RESENSIE

Skokiaan eerder as soetwyn

Jan-Jan Joubert
Die Suid-Afrikaners
Japie Krige-saal
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur

Daar gaan uiteenlopende menings wees oor Die Suid-Afrikaners. Hierdie vertoning is nie onbesproke nie en gaan ook nie onbesproke bly nie. Baie gebeur. Dis ’n totale aanslag. Binne 90 baie vol minute.

Die gehoor beleef baie: hetero- en homoseksuele omgang, twee Piëta-tonele, twee of drie keer se lyf wys deur Sean van Noordwyk, Wian Taljaard in en uit twee modieuse tabberds, ‘n paar vuurwapenskote, deurtastende besprekings oor Afrikanerskap, godsdiens, Suid-Afrikanerskap en klimaatsverandering en, les bes, ’n dawerende weergawe van die Kanadese volkslied.

Die stuk speel af in ’n dissonante, post-apokaliptiese Suid-Afrika. Klimaatsverandering het almal behalwe ’n ommuurde Kanada se doppie geklink. ’n Buitengewoon bronstige paartjie – ’n dokter (Van Noordwyk) en fopdosser (Taljaard) – besluit om twee welvarende susters (Borthwick en Viljoen, eersgenoemde meer gekrui) wat alleen op ’n plaas oorleef, te beroof sodat hulle ’n skeepsreis na Kanada  kan bekostig.

Net daar word die vuurpyl op ’n snelle vlug gestuur wat volop verwikkeling en ontwikkeling en drama oplewer wat nie hier herhaal kan word nie. Daar is ironie, verraad en spanning te kies en te keur, maar ook oomblikke van ware patos en skreeusnaakse, absurde lag van lekkerkry (my persoonlike gunsteling is wat volg op “Dit was nie persoonlik nie…”).

Die fees het maar pas begin, maar Wian Taljaard se vertolking van Casper gaan beslis deel vorm van enige bespreking oor bekronings vanjaar. Hannah Borthwick lewer ook uitstekende spel. Die verhoogontwerp is pragtig, doelmatig en stylvol.

Daar is ’n paar ware “kultus-oomblikke” in hierdie vertoning wat ’n mens waarskynlik jou lewe lank gaan bybly, maar vir my het dit soms gevoel ek staan soos ’n verkeersman op die Hoefie in Welkom met al die verkeer wat gelyk op my afkom. Ek is seker ander mense sal dit beter verwerk, maar vir my was dit net te veel. Die gehoor op openingsaand, Maandag 10 Oktober, was tjoepstil in die minibussie terug feeskern toe na afloop van die vertoning. Net drie mense het uitgestap, wat, gegewe die demografie van die gehoor, enigsins verrassend was.

Hierdie stuk sal jou aanstaan as jy skokiaan bo ’n soetwyntjie verkies en nie omgee om ’n stewige dosis van Afrikaans se omvangryke vloek-woordeskat weg te slaan nie. Sommige sal baie van Die Suid-Afrikaners hou, ander gaan hulle neus optrek. ’n Mens is in elke geval nie ’n oomblik verveeld nie, daarvoor is die stuk te kleurryk. Dit het my met ’n gevoel van hit and miss gelaat met wonderlike aspekte, maar in die geheel onvolkome. Ek wens ek het anders gevoel. Baie mense sal.

  • Die Suid-Afrikaners word  op 11 Oktober om 18:00, 15 Oktober om 20:30 en 16 Oktober om 13:00 in die Japie Krige-saal opgevoer. Geen onder 16’s nie. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn