RESENSIE

Eg, eerlik en onbeskaamd

deur Herschelle Benjamin
Produksie: Droomkraan-kronieke
Foto’s: Karoo Kaarte

Kunste Onbeperk se navorsingsprojek en teaterproduksie Karoo Kaarte was ongetwyfeld ’n hoogtepunt by die KKNK in 2022 (én vanjaar, hoor ek) en het dank-vader-tog ’n besonderse talent te voorskyn gebring. Niemand anders as die skrywer en regisseur Tiffany Saterdaght wat by twee produksies op die Woordfees-program betrokke is – Droomkraan-kronieke en Fietsry vir dommies.

Maar dis nie net Saterdaght wat op die voorgrond staan nie – sy en haar span bring die mense van Oudtshoorn in ’n egte Afrika-teaterwonderstuk, wat jou van die begin tot einde meesleur, byeen. Dít is die verbeeldingryke en vernuftige Droomkraan-kronieke waarmee my feesprogram behoorlik aan’t stuur gesit is! 

Dié ensemblestuk kan nie enigsins sterker aanbeveel word nie, en doen die word-of-mouth gestand. Die storievertelling ontwikkel met en rondom die skoen – nie heeltemal in die lyn van “as die skoen pas” nie, maar meerendeels “om in ander se skoene te loop”. En hier is dit die mense van Die Hoorn wat deur talle mondelinge geskiedenisvertellings weerspieël word op die verhoog, amper soos rotstekeninge in die Kango-grotte. 

Die stories en herinneringe word om vuur, tafel en kraan vertel. Dit word oorvertel aan kind en kraai, selfs die bangmaakstories net soos in die tradisie van die digter C.J. Langenhoven wat sy rus in Oudtshoorn gevind het. Die fisieketeaterdele van die stuk is oorrompelend, veral met Carlo Daniels wat sentraal staan en wat, met ondersteuning van sy medespelers, jou amper laat snak na asem. Dis ’n egte, eerlik en onbeskaamde teks wat talle skrywers jare sal neem om neer te pen. 

Die verhoog word ten volle benut om verskillende magiese landskappe te herverbeel en die spelers laat jou jou ore spits op dierklanke, straatgesange en krete. Die skadupoppespel is onoortreflik soos die klein popdogtertjie Ginger ’n lewe van haar eie kry sonder dat dit die aandag van die akteurs af weglei. 

Dis die einde van die stuk, waar al die jong spelers op die verhoog amper outobiografies vertel oor die tyd toe hulle besef het dat hulle nie meer kinders is nie, wat soos ’n vuishou in die maag slaan.

As daar enige kritiek sou wees, sal dit wees dat die tegniese span net versigtig moet luister na die volume van die klankbaan met die mondelinge vertellings, want soms was die spelers se stemme op die verhoog nie hoorbaar nie. En lighting cues kon plek-plek met ’n sekonde vinniger gebeur.

Maar die haakplekke neem niks weg van dié trefferproduksie se belangrikheid en impak in die lewe van ’n gehoor wat moontlik nooit regtig sal verstaan hoe dit moet voel om in die skoene van die Klein-Karoo se mense te loop nie.

 

  • Droomkraan-kronieke
    8 Oktober 10:00 & 13:00 | 9 Oktober 10:00
    Rhenish Girls’ High School
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket.
Facebook
Twitter
LinkedIn