RESENSIE

'Droomwerk': Brava en bravo

deur Herschelle Benjamin
Produksie: Droomwerk
Foto’s: Xolani Tulumani

Met die intrapslag by die Ebenezer-saal van Rhenish Girls’ High School vir die vertoning van Droomwerk kan ’n anderste teenwoordigheid aangevoel word. Dis verwelkomend, maar ontlok jou ook onmiddellik. Twee figure lê op bleek hospitaalbeddens aan weerskante van mekaar op die verhoog. Die seeskulpe aan die voorkant vang jou oog. Die klankbaan blêr saggies in die agtergrond. Die ligte in die wings van die verhoog, reeds in fokus. ’n Man met ’n das loop heen en weer… Iets is aan die kom. Wat presies, weet jy glad nie. 

Dit is jou waarnemings van die verhoog soos jy wag vir die donkerte om oor die saal te val sodat Droomwerk kan begin. Daar is reeds ’n stille roering in jou afwagting vir die stuk soos vooraf deur die span geskep. Wat het gebeur en wat sal nog gebeur met die mans op die verhoog? ’n Storm is aan’t broei. 

Met die opening van die stuk kom wys die hospitaalsusters die verweefdheid tussen die verlede en die hede deur dit saam te snoer met hulle asemhaling. Kan dit wees dat die vergete Odendaal-stammoeder, die slavin Diana van Madagaskar, herleef in dieselfde ruimte as senator Piet Odendaal soos wat hy ’n senaattoespraak voorlees oor die behoud van rassuiwerheid vir die “uitverkore” Afrikaner-volk en sy nasate? Ja, wonderbaarlik, dis spookstemme in die kop van jonge Petrus Odendaal soos hy met sy geestesongesteldheid in ’n psigiatersaal lê.

Dít is die verwikkeldheid waarmee die digter-dramaturg Pieter Odendaal deur sy karakters met jou stoei, maar ook sy gehoor. Die vraagstukke rondom ons vervlegte bloedlyne, ons intergenerasietrauma, ons geestesgesondheid as samelewing en die onopgelosdheid in ons geskiedenis. Waar lê ons stories nog vol gate deur die historiese uitwissing en ontkenning? Dit is als in jonge Petrus, vertolk deur Ben Albertyn, waar als vergestalting kry – tot die agteruitgang van sy eie gemoedstoestand. 

Maar Petrus wil beter word, en baklei dat sy voorsate se stemme in sy kop beantwoord word. Dis Diana van Madagaskar op soek na haar Susanna én Nasionale Party-senator Piet Odendaal, wat binne hom terugkeer na die hede. 

Droomwerk is ’n roerende familiedrama met ’n geweldige emosionele impak deur Pieter Odendaal en die regisseur Kanya Viljoen sorg dat dié stuk verder as teater beweeg. Dis ’n spirituele geleentheid. Dis ’n ritueel om verkenning. Dis ’n uitnodiging om na binne te delf. Dis ’n ontmoeting.

Viljoen se regisseurshand is meesterlik en wek impak met haar vakmanskap. Dis opwindend om haar te sien groei tot die kruin van haar loopbaan. Elke toneelstuk is ’n herinnering dat Viljoen gehoorsale nog baie sal voltrek met haar produksies. 

Die rolverdeling lewer skitterende vertolkings met spesiale vermelding van Ben Albertyn en Jill Levenberg wat kragtoere in patos lewer wat jou as gehoorlid in hoendervel laat! Bravo en Brava!  

Dis ’n moetsiendramastuk op vanjaar se fees. 

  • Droomwerk
    12 Oktober 20:30 | 13 Oktober 10:00 | 14 Oktober 20:30 | 15 Oktober 14:30
    Rhenish Girls’ High School
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket.
Facebook
Twitter
LinkedIn