RESENSIE

Die admin van skei is geen trougeskenk werd nie… of is dit?

Jo-Ann Floris
Honestly, ek verstaan jou nie!
HMS Bloemhof Skoolsaal

Mike en Hope sny na aan die been van Die Huwelik. Die Idilliese Samesyn.

Dan, die groot vraag: Egskeiding, of nie?

Die tweetjies het twee jaar lank nogal mooi gehou, maar die drade het begin lostorring. Mike is werkloos, Hope die broodwinner. Vir haar lyk dit of Mike geen ambisie het nie. Al wat Mike hoor, is, wel, ‘n vrou wat kerm.

Rytjie vir rytjie word hulle huwelik losgetorring, soos ‘n trui wat ‘n gaatjie in gekry het, en as ‘n mens aan die draadjie trek, dan kom die steke en vir een los.

Hy doen mos wat van hom verwag word, se Mike. Hy maak (soms) kos, hy probeer die stukkende lig regmaak (maar blameer Hope dat dit nie werk nie, want sy sê hom voor hoe om dit te doen).

Haar ongeduld met hom en haar skoonma (met wie sy haaks is) is net die spreekwoordelike oortjies van die seekoei. 

Sien, sy voel hy het opgehou om haar te sien as die vrou op wie hy verlief geraak het, dat hy haar nie meer hoor nie, dat hy haar nie meer sien nie.

Hy kan dieselfde vir haar se, gooi Mike dit terug.

Die woorde tussen die twee raak ‘n harde, kwetsende tweestryd.

Tussenwerpsel: Kudo’s aan die span vir die regie, teks, en keuse van akteurs. Brutney Singrew en Marunzo Thomas vertolk die happerige paartjie uitstekend, en hulle vul mekaar aan.  Dis ‘n plesier om te sien hoe hulle net gestalte gee aan die karakters, sodat ‘n mens elke word glo wat hulle sê, elke toneel mee kan vereenselwig. Die gehoor se reaksie, en instemmende en ondersteunende geluide het dit bevestig.

Terug by die toneel.

Al gaan die stuk met baie ernstige kwessies om, is daar genoeg fyn humor wat sorg dat die gehoor nie oorweldig voel deur slegte nuus nie.

Dis hier waar die skrywer en regisseur dit goed gespeel het – dit is só goed beplan dat dit net ‘n welkome verposing bied voor die volgende baklei en gestry begin.

Hope vat nie nonsens nie. “Relationships are shit!”, basuin sy dit uit.

Dis berader in, berader uit.

Dan, die groot vraag: Sou dit nie maar beter wees om te skei nie?

Maar o wee, skei verg baie admin. Prokureurs is duur, die papierwerk, die verdeling van bates. Maar daar was tog iets wat hulle in die eerste plek bymekaar gebring het, en daai band is moeiliker om te sny.

Hulle roep die gehoor in. Met stembriefies moet hulle die paartjie help kies:  Skei of bly.

Ons weet nie watter kant toe die stemmery gedraai het nie.

Ons sien wel wat die paartjie besluit het.

Maar dis vir ons om te weet en vir julle om uit te vind.

 

  • Vrydag 14 Oktober om 15:00. Kaartjies by die deur of bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn