RESENSIE

Dis in die grys middel waar harte breek

Susan Booyens
Iewers in die grys
Drostdy Teater

Op die lang, aantreklike jongman Adriaan Havenga se breë skouers rus daar veel in dié produksie: Hy is vervaardiger, skrywer, regisseur, medeverantwoordelik vir die musiek en beligting, en, laaste maar nie die minste nie, een van die twee akteurs op die verhoog. Gelukkig vir hom is sy medespeler die bekroonde en talentvolle René Cloete, ’n bondeltjie energie wat op vanjaar se fees ook lof inoes vir haar spel in Agulhasvlakte (waarin sy op soortgelyke wyse moet beweeg van sorgvrye kind na gepynigde volwassene) en boonop te sien is in die kortfliek Nagvoël.

Saam skep dié twee voormalige US-dramastudente binne 60 minute ’n boeiende, roerende drama wat begin met ’n romkom-meetcute as tieners met groot drome en eindig op die terrein van tragiese tranetrekker dekades later. Tussendeur word hul vriendskap en liefde getoets deur van die dilemmas van ons tyd, soos rassisme, geestesgesondheid, regstellende aksie, en wie die geleenthede kry – en wie nie. 

Die Drostdy-teater se sitplekke is rondom ’n klein vierkantige verhogie opgerig met al inkleding ’n paar Persiese matte op die vloer. In die openingstoneel hoor jy veldgeluide en opgeneemde dialoog, met die betraande stem van ’n man wat in ’n vooruitflits pleit: “Ek hoop jy kan my vergewe…”

Dan is ons in die hede en twee verleë slimkoptieners maak onhandig vriende op die speelgrond van ’n voormalige model C-skool in die jaar 2003. Die uitbundige Heather, een van die min bruin kinders, is die topleerling en wil bitter graag ’n dokter word. Sy jubel as sy uitvind die skaam nuwe wit outjie, Gideon, het soortgelyke planne, al skram hy weg om oor sy probleme tuis met ’n bipolêre pa te praat. 

Die skerpsinnige, maklik vloeiende dialoog is van die mees waarheidsgetroue vir jong mense wat ek in onlangse tye op die verhoog gehoor het, en dit vloei natuurlik en met heerlike geestige ritme uit die akteurs se monde. Sommer gou beplan hulle daaraan om eendag saam ’n dokterspraktyk oop te maak, “Beukes & Nienaber se spreekkamer”, en die mooiste huis op die dorp te koop. As Heather erken sy wil eendag vier kinders hê, terg Gideon haar met “Jou arme vagina!”

Maar uit die staanspoor is die spanning daar of hulle gelyktydig toelating tot die mediese kursus gaan kry, en indien nie, wat die implikasies daarvan vir hul vriendskap – of is dit iets meer? – gaan wees. Frases soos “omdat jy bruin is” en “omdat jy goed is” en vrae oor punte en gemiddeldes eggo tot vandag in jong Suid-Afrikaners se gesprekke oor die toekoms. 

Die drama ontleen sy titel aan ’n keuse oor gunstelingdinge as die vriende mekaar vrolike kenmekaar-blitsvuurvrae vra terwyl hulle rug-aan-rug sit. Heather voel Gideon se voorkeur vir grys wys hy’s “onseker” en hy verdedig dit as “die middel van twee uiterstes”. Hulle tel die sterre, bou lugkastele en die toekoms lyk blink, maar is te skaam om mekaar matriekafskeid toe te vra. Heather stem in om saam met Paul, “wat soos koshuiseiers ruik”, te gaan. Haar opinie van Gideon se metgesel is “sy’s so maer, drie Astro’s dan lyk sy swanger” en spot hom oor sy twee linkervoete met “dis onwettig om so sleg te dans!”

Die drama ontleen sy titel aan ’n keuse oor gunstelingdinge as die vriende mekaar vrolike kenmekaar-blitsvuurvrae vra terwyl hulle rug-aan-rug sit.

Die tyd van die matriekafskeid bring egter ’n wending, en met vorentoe-spronge word die twee jong mense groot en die ongenaakbare werklikhede van leef in dié land beproef hulle diep verbintenis tot die uiterste. Gaan kyk Iewers in die grys as jy enigsins kan, want van René Cloete en Adriaan Havenga gaan ons nog baie in die toekoms hoor, en dan kan jy sê jy was daar die jaar toe hulle twee saam die Drostdy-teater se matte aan die brand gespeel het. 

Helena Baard verdien ook vermelding vir die verbeeldingryke, emosiebelaaide choreografie en veral tonele waar mimiek en dans ingespan word om tydsverloop en interne worsteling uit te beeld. Die vonk en teerheid tussen die twee akteurs in intiemer tonele raak regtig ’n mens se hartsnare. Welgedaan, span. 

  • Iewers in die grys se vertonings is op 12 Oktober om 13:00 en 16 Oktober om 16:00 in die Drostdy-teater. Ouerbegeleiding. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn