RESENSIE

Sandra Prinsloo is ons eie Callas

deur Herschelle Benjamin
Produksie: Master Class
Foto’s: Verskaf

Laat hoor die luide applous, gooi die blomme op die verhoog en jubel en juig, want Sandra Prinsloo betower soos ouder gewoonte in die wêreldklasproduksie, Master Class. Ek hoor ’n gehoorlid na afloop van die stuk by die deur vra: “Is daar iets wat sy nie kan doen nie?”

Master Class is ’n twee ure lange Tony-bekroonde stuk deur Terrence McNally oor die swanesangjare van die operadiva Maria Callas. Sonder enige tierlantyntjies met die stel en verhoogplasings, word die gehoor begroet asof jy self ’n meesterklas van Callas én Prinsloo bywoon. Die stel is sekondêr aan die werklike meesterklastoneelspel wat wag. Dis Prinsloo op haar stukke!

Net toe haar maestro-pianis sy plek inneem, maak Callas ’n betekenisvolle binnekoms met ’n netjiese pakkie, pêrels om die nek en pelsjas oor die skouers – sy weet sy het die look. Dis wat Callas ook van haar studente, oftewel victims soek – ’n binnekoms om te wys jy is hier en nie bang vir die gehoor nie, en ’n look. Dis belangrik vir enige operasanger. Daarmee wil sy nie eintlik weet of hulle kan sing nie, want enigiemand kan sing, maar sy wil weet of hulle met hulle siel kan sing. Dít is waaroor opera eintlik gaan – die musiek wat die storie lei, maar die operasanger wat sielvolle uiting aan die betekenis daarvan gee.

Dis g’n maklike taak nie, tog nie onmoontlik nie. Sy verwag nie dat hulle haar naboots nie, maar dat hulle diep binne hulleself delf om die rol hulle eie te maak. Haar studente is òf te bang, te oormoedig òf te onseker. Sy is die pasaangeër en wyse professor. Sy probeer verduidelik dat die lewenslesse en ’n loopbaan as kunstenaar met mekaar vervleg is – dit is waar vermoëns, deursettingskrag en volhoubaarheid ontwikkel. Tog, hier in haar laaste jare, lê die verlede vlak in haar geheue. Dit dring deur terwyl sy klasgee en laat haar in vervoering ’n terugblik gee vir die gehoor-studente wat eintlik net gekom het om haar te sien.

Dié meta-teaterstuk waarin die vierde muur glad nie bestaan nie, betrek die gehoor in verwondering. Elkeen op die verhoog is totaal en al bewus van die wêrelde waarin hulle beweeg – die een op die verhoog waar Callas as meester betower en die een in die Adam Small-ouditorium waar hulle voor ’n gehoor sit wat na die klas, maar ook die teaterstuk, kom kyk het.

Net wanneer jy dink jy weet wat jy van Prinsloo gaan kry, bewys sy keer op keer dat haar eie loopbaan nog ver van verby is. En dank die Vader tog! Daar sit jong akteurs in die gehoor van die US-dramadepartement wat hulle eie les kom ontvang het. Prinsloo is om al die regte redes jare reeds volksbesit. Ons eie La Divina!

 

  • Master Class
    9 Oktober 16:30 & 20:00 |10 Oktober 15:00
    Adam Small-ouditorium
    Kaartjies beskikbaar by Quicket
Facebook
Twitter
LinkedIn