RESENSIE

Huiskonsert met stories en soet ribbetjies

Marina Griebenow
Mutton Hour
US Museum Anneks
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Niemand kon onweerstaanbare geregte optower en beskryf soos Nettie Pikeur nie – en dít sonder prentjies. Mutton Hour met Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt in die rolverdeling kan weer nie doen sonder prentjies nie, maar die titel suggereer tog ook die huislikheid en geselligheid van skaapvleis. Dit is dus gepas om eers Nettie se resep vir soet ribbetjies te deel:

Jy benodig
1 eetlepel klam bruinsuiker
’n halwe koppie brandewyn
’n halwe koppie dik sojasous
sap van 2 suurlemoene
’n halwe koppie bier

Só maak jy
Meng al die bestanddele saam. Siedaar! Jy het die marinade.
Verf die marinade oor die vleis en sit dit vir ’n paar uur of oornag in die yskas.
Braai die ribbetjies soos jy dit gewoonlik braai, maar verf dit ná elke omdraaislag met nog ’n bietjie marinade.
Pasop dat die vleis nie brand nie – met die suiker in die marinade is dit geneig om swart te brand as die kole te warm is.
Wanneer die rib gaar is, laat dit eers vir 10 minute rus sodat die vleissappe nie verlore gaan nie.  Laat die ribbetjie ’n bietjie afkoel voor jy dit voorsit. Gooi nog sout oor indien nodig.

Schutte en Van der Walt verduidelik aan die begin Mutton Hour is eintlik bedoel om as huiskonsert opgevoer te word. (Dis natuurlik waar die ribbetjies goed te pas sal kom.) Aan die einde van die vertoning moedig hulle mense weer eens aan om die produksie te bespreek vir verjaardae, voorstellings en bar mitzvahs.

Mutton Hour is ’n uur van stories en guitigheid wat steun op ’n eeue oue Japannese tradisie van stories vertel wat bekend staan as kamishibai. In kamishibai word die stories vertel met behulp van storieborde en pragtige illustrasies, amper nes goeie kinderboeke. Dis egter nie sommer enige hierjy wat kamishibai suksesvol kan beoefen nie. Jy moet letterlik jou storie ken!

Mutton Hour is ’n uur van stories en guitigheid wat steun op ’n eeue oue Japannese tradisie van stories vertel wat bekend staan as kamishibai.

Kamishibai is reeds sowat ’n dekade al in Suid-Afrika bekend danksy die bekroonde optredes van die 2018 Standard Bank Jong Kunstenaar vir teater, Jemma Kahn. Die spore van haar betrokkenheid by Mutton Hour as mentor, skrywer en illustreerder lê diep.

Sowel Schutte as Van der Walt is gesogte stemkunstenaars. Hulle word onder meer gereeld op RSG gehoor in voorlesings en voordragte. Veral Schutte is bekend as ’n gewilde storieverteller en reeds in die eerste storie, “Die weduwee se ruik”, oorrompel sy met haar vaardigheid, fyn tydsberekening en aanvoeling. Van der Walt staan nie ’n tree terug vir Schutte as dit kom by stories vertel nie, maar dis ook sy veelsydigheid as sanger, perkussiespeler en loslit danser wat die gehoor sjarmeer.

Die stories word afgewissel met ’n draai van die “Wheel of Missed Fortunes” met temas wat die akteurspaar dan vir die gehoor moet uitbeeld. ’n Gelukkige gehoorlid staan selfs ’n kans om kaartjies na een van die ander Woordfees-produksies te wen, ’n prys wat beslis nie te versmaai is nie.

Dis uitmuntend dat kamishibai nou ook in Afrikaans gedoen word. Stories is immers nie beperk tot een groep of een taal nie. Dis iets wat almal ter wêreld gemeen het: niemand kan ’n goeie storie weerstaan nie. Boonop het Schutte en Van der Walt nou vir my ’n puik idee gegee vir my volgende verjaarsdagviering: soet skaapribbetjies en ’n skeut Afrikaanse kamishibai.

  •  Mutton Hour is nog te sien op 12 Oktober om 14:00 en 17:00, 13 Oktober om 18:00 en 20:00, 14 Oktober om 17:00, 15 Oktober om 13:00 en 15:00, en 16 Oktober om 11:00 en 15:00 by die US Museum Anneks. Niemand onder 16 jaar nie. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn