RESENSIE

Die kroon van ons eie skepping

deur Jo-Ann Floris
Produksie: My kroon se krank
Foto’s: Kobus Marx

Twee vet vlegsels en ’n kroes karos op die vloer.

Ja, die permanent fixtures van ’n hairdresser. En dis ’n hairdresser in die in Kroon se Krank, nie ’n haarsalon nie.

Want daar is ’n verskil tussen die twee, en dis nie net die draad van die hare van die mense wat in daai stoele inskuif nie.

Sien, hairdressers is die lewensaar van bruin gemeenskappe. Jy kom daar vir mooimaak voor trou, begrawe, voorstel, verlowing, kerk, Oukrismis en Oujaar. Stap in met ’n mopkop, stap uit like a million dollars en hare wat skud.

Die beste plek om oor identiteit te praat, is om die hairdresser te gebruik (die woord, by the way, dui beroep en location aan – ons ken van ’n ding stretch).

Nou, so kroes soos die hare is, so kras val die woorde van aunty Pat. Dit skuur teen ’n mens se vel om verskeie redes. Dit herinner aan die uncle, antie wat steeds dink dis okay om te maak of alle swart mense korreltjiehare en knopstêrre het.

Wat maar te gemaklik val in die “hulle en ons’” – maar ten hemele skrou as die skoen aan die ander (wit of swart) voet is.

Ja, aan die draad van jou hare sal jy geken word. Dit bepaal in watter ry jy staan. Hoe mense jou ag.

Wag, laat ek gou dink: Was daar nie ’n tyd toe mense ook so in rye moes staan nie? Jy kan by daai deur in, jy gaan daar agter by daai venstertjie koop. Nee, jy kan nie hier swem nie.

Toe vat ons wragtag dieselfde resep en raak gemaklik genoeg met die ding wat ons die seerste gemaak het, verfyn hom tot ’n hare-sambok en slaan ander daarmee.

Toe skrik ons ons hare in ’n stywe perm toe daai mense begin terugslaan. Soos Debbie, wat genoeg gehad het van ander mense wat besluit hoe haar hare moet lyk. Afro werk vir haar, dankie. Maar enigiets kan werk, nes jou gemoed jou lei.

Haar niggie Roxanne sit op twee stoele oor die hare-ding. Met ’n wit boyfriend wat dink haar hare kom vanself so sag en straight, is sy in diepe ontkenning dat sy haar wortels ontken.

En ook, sy doen dit mos vir haarself, nie vir hom nie. Mos.

Debbie, met haar avocado oil, avo pulp en Shoprite-sakkie om op die kop te sit om te help met deep conditioning, se geduld raak op met mense wat sommer self die pencil test doen. Maar omdat sy haar hare natural dra, maak dit haar reg en aunty Pat en Roxie verkeerd?

Die stuk gee nie vir jou daai antwoord nie, en dis reg so.

Daai paadjie is een wat net jy kan en moet stap, totdat jy hom so gemaklik uitgetrap het soos ’n paar ou slippers.

Die hare kan nou skud, dit kan staan, dit kan pony, dit kan weave.

Maak dit jou kroon.

Soos hulle vir die royals sê: Heavy is the head that wears the crown.

Ja, mense, so hou ons almal in besigheid. Die hairdresser, die avo industry, die pantyhose-makers (swirlkouse mos) en ons recycle.

Wie’t gesê ons hare kan nie pom-pom nie?

  • Kroon se krank
    10 Oktober 12:30 | 12 Oktober 15:30
    HMS Bloemhof-skoolsaal
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket of by die deur.
Facebook
Twitter
LinkedIn