RESENSIE

Die lewe van die 21ste eeuse volwassene

Willem Bester
’n Gek vir jou
HMS Bloemhof-skoolsaal
Foto’s: Nardus Engelbrecht

In ’n Gek vir jou is Ané Koegelenberg en Christie van Niekerk twee narre wat liefde soek op Stellenbosch. Hulle lag en speel en werk, sit hulle beste voetjie voor vir die foto’s wat hulle aanlyn pos, gaan klub op die dorp, hanteer die volgende dag broos die onvermydelike wingerdgriep… In kort: Hulle moet tipiese uitdagings van die 21ste eeuse jong volwassene in ’n studentemilieu trotseer.

As iemand wat daagliks met Die Stellenbosse Student werk, wil ek heelhartig die beeld van die student-as-hanswors beaam. Hoe dan anders? Die jongste navorsing toon immers dat volwasse toerekeningsvatbaarheid heelwat later gevestig word as wat voorheen gedink is. En dan moet ’n mens des te meer wonder oor ’n generasie wat byna van geboorte af opgeneem en gebeeldsend is – baie van hulle met verpligtinge en skedules wat lyk asof ’n hiperaktiewe kleuter tetris op ’n kalenderapp probeer speel het. Is daar nog tyd vir mens word met alles wat dit behels – van foute maak tot liefde vind?

Toegegee, die teikengehoor is seker nie hoofsaaklik die ouers en grootouers nie – maar vir die ouer garde ís daar steeds ’n mate van voyeurisme oor wat die jongspan in hulle eie habitat aanvang.

’n Gek vir jou het aan Koegelenberg en Van Niekerk die louere besorg in 2022 se  Première-teaterfees – merkwaardig vir ’n stuk sonder ’n enkele reël dialoog. Dit is sowat 45 minute lank en iets wat net ’n jong mens kon uitdink en opvoer. Dít is meestal ’n seëning, maar hier en daar het dit wel aan die studentikose gegrens. Toegegee, die teikengehoor is seker nie hoofsaaklik die ouers en grootouers nie – maar vir die ouer garde ís daar steeds ’n mate van voyeurisme oor wat die jongspan in hulle eie habitat aanvang. Kunstenaars aan die begin van ’n loopbaan gaan immers tipies nie ver verkeerd deur uit eie ervaring te put nie.

Die twee akteurs is kennelik fyn op mekaar ingestel: In so ’n stuk fisieke teater is ’n goeie vertrouensverhouding juis belangrik. Hulle het ook self die regie en ontwerp behartig. Die ontwerp is minimalisties sodat jou aandag heeltyd op die aksie gevestig is, en rekwisiete maak telkens hulle verskyning uit sluitkassies, soos ’n verrassing. 

Die speltempo was meestal goed. Soms het ’n mens wel ’n bietjie meer swaartekrag gesoek. Nie gravitas nie, maar swaartekrag: Effens minder frenetiese gebare. In terme van komedie was die klubtoneel juis soveel snaakser omdat die meer gematigde spel, teen luide musiek, die ritueel van studentekaart vir die uitsmyter wys, ’n drankbestelling vir die kroegman mimeer en dan maatjies soek soveel bekender gemaak het.

Ek moes wel rondkyk toe die Afrikaanse kletsrymer Angie oeh se eksplisiete “Seks in Afrikaans” op die luidsprekers verskyn; die “middeljariges” rondom my het nie te ontsteld gelyk nie, maar ek dink tog ’n strenger ouderdomsperk  behoort te geld.

Alles in ag genome was dit ’n heel aangename en bedrewe 45 minute se teater… iets wat studente en jonges van hart beslis sal geniet.

 

  • 14 Oktober om  09:30 en 15 Oktober om 18:00. Ouerbegeleiding word aanbeveel. Bespreek by Webtickets.

 

Facebook
Twitter
LinkedIn