ONDERHOUD

Nico se vele ysters in die Woordfees-vuur

deur Ilza Roggeband
Foto’s: Keara Edwards en Verskaf

Niemand kan sê Nico Scheepers is bang vir werk nie. By die Woordfees is hy by nie minder nie as vyf produksies betrokke. ILZA ROGGEBAND het met hom gaan gesels en ’n paar brandende vrae aan hom gestel.

  

Nico Scheepers is regisseur van Braam en die engel en is saam met Nell van der Merwe ook verantwoordelik vir die tegniese versorging, kostuums, stel- en beligtingsontwerp. Regisseur en skrywer van Tollie Parton. Vertaler, verwerker en beligtingsontwerp vir Bul. Regisseur, vertaler, stel- en beligtingsontwerp vir ’n Akkerboom. Regisseur en vertaler van See muur. ’n Mens is skoon uitasem net om dit te lees, maar Nico skram nie weg van ’n uitdaging nie. 

Jou eerste gewaarwording van teater as ’n medium

My liewe tannie Nellie het tienertoneel afgerig by die hoërskool en toe ek baie klein was, het ek het saam op die bus Pretoria toe gegaan vir ’n tienertoneelkompetisie. Ons het toe in die Staatsteater ’n produksie van Aladdin gaan kyk. Die oomblik toe die djin in ’n rookwolk van die verhoog af verdwyn, was dit die eerste keer dat ek magic voor my oë sien gebeur het. Ek voel vandag nog so. Teater is die laaste regte egte magic wat jy kan ervaar. As ’n akteur ’n swart sak op die verhoog rondswaai en vir die gehoor sê dis ’n vlermuis, dan glo hulle dit. 

Jou gunsteling-kinderfliek van alle tye

Dis baie moeilik, want my kop gaan dadelik: Watter animasiefilm? Maar ek is ook een van daardie mense wat vasskop teen die idee dat animasie net vir kinders is. Animasie is ’n medium, nie ’n genre nie. My gunstelingfliek? Dis of My Neighbour Totoro van Hayao Miyazaki of snaaks genoeg Paddington 2. Ek het My Neighbour Totoro seker al meer as ’n honderd keer gekyk en elke keer vang dit my en elke keer sien ek iets nuut. Paddington 1 en 2 is baie underrated. Paddington 2 is naby aan perfek en een van die hartroerendste flieks wat ek die afgelope tyd gekyk het. 

Droom jy in die nag wanneer jy slaap? 

Ek droom al van ’n kind elke aand. Selfs as ek diep slaap. Dit voel altyd of jy op reis was iewers in die aand. Ek hoop nie dit gaan ooit weg nie. Dis lekker om te weet jou onderbewussyn het sy eie planne en jy kan maar net volg. 

Hoekom Braam en die engel? 

Dis al vir baie jare ’n droom van Hugo Theart, ons vervaardiger, om dit op die verhoog te doen. Ek en Grant van Ster en Shaun Oelf van Figure of 8 Dance Collective het al saam gewerk en wou baie graag weer saamwerk. Hugo het ons genader om Braam en die engel te verwerk vir die verhoog. Dis ’n beeldskone boek wat my aangegryp het en ek het dadelik prentjies begin sien, en as jy prentjies begin sien en die idee kry dat iemand anders dit dalk gaan doen en jy raak jaloers, dan moet jy iets doen. Ek is ongelooflik dankbaar vir die geleentheid. Dis altyd lekker om net te kan droom en te kan speel en die storie vertel wat jy wil kyk. 

Braam en die engel
Seemuur

Wat was jou grootste skop-in-die-maag oomblik nog met ’n Akkerboom?

My mooiste oomblikke is wanneer iemand wat De Klerk ken, by hom aansluit, want dan is daar ander magiese elemente in die agtergrond. Die produksie het klaar al twee akteurs van balans af, so as daar ’n persoonlike konneksie tussen hulle is, dan dra dit die akteur op ’n ander manier. Een van my gunstelinge was toe De Klerk dit saam met Frank Opperman gedoen het. Dit was net ná hulle pa en seun in die TV-reeks Nêrens, Noord-Kaap gespeel het en dit was wonderlik om te sien wat daardie twee energieë op die verhoog doen. En nee, ek gaan natuurlik nie sê wie op die Woordfees by De Klerk gaan aansluit nie. 

 

Jy gaan nog ’n rak moet kry! Jy het net die afgelope tyd twee groot toekennings gewen. Die Deleen Bekkerprys van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die beste TV-draaiboek vir Donkerbos en die SAFTA as beste regisseur van ’n dramareeks, ook vir Donkerbos. Is toekennings belangrik? 

’n Mens doen dit nie vir die toekennings nie. Jy doen werk waarop jy trots is. Ek wil net werk skep. Om in die aand moeg by die huis te kom, maar met ’n glimlag en die besef dat jy betaal word daarvoor. Dis die beloning. Ek sal dit heel moontlik verniet doen, want dis so lekker om dit te doen en saam met hierdie mense te werk en stories vertel. So as daar ’n soeklig op ’n produksie val en dit wen iets … Enige erkenning is wonderlik. Jy sê altyd baie, baie dankie, maar toekennings voel vreemd, want enige puntesisteem vir die kunste is waansinnig, maar tog dit is hierdie punte wat mense kry om produksies te kom kyk. Ek kyk eers na die wenners van die Booker- en die Pullitzer-pryse voordat ek ’n boek koop. Dit is asof dit ’n stempel is. Kaartjies is duur, so mense wil hulle geld goed spandeer en ek kan verstaan dat hulle dit dan eerder op een met ’n ‘stempel’ sal spandeer. Maar dis soos die lotery. Menings is subjektief en as die soeklig op jou werk val, kan jy net dankie sê en dan skouer aan die wiel sit met die volgende produksie. 

 

Wat doen jy om af te skakel? Wat is jou skuldige plesiertjies? 

Ek kyk verskriklik baie realiteits-TV, maar glad nie Amerikaans nie. Ek kan hulle nie hanteer nie. Dis soos met die nuwe seisoen van Project Runway. Daar word vir tien minute klere gemaak en dan word daar vir 40 minute gehuil. Enige Britse reeks soos The Great British Bake-off of The Great Pottery Throw Down kyk ek graag. Maar die manier waarop ek eintlik afskakel, is om games te speel. Ek speel Playstation en dink dis omdat dit ’n heel ander vorm van media is waarin ek myself kan verloor. Ek swaai graag soos SpiderMan in New York rond ná ’n lang dag van repetisies. 

 

Jy is ook betrokke by Tollie Parton. Vertel meer? 

Wynand het my genader en ek het my wit geskrik. Ek het nog nooit komedie of stand-up of drag geskryf nie. Toe sit ek pen op papier en ek is trots op die eindproduk. Kan nie wag om te sien wat die reaksie gaan wees. Ons sê ’n paar waarhede wat mense nie altyd wil hoor nie. Ek is super opgewonde oor die debuut by die Woordfees.

Tollie Parton
Rehane Abrahams FOTO: KEARA EDWARDS

Verhoog, TV, film. Wie in enige van hierdie wêrelde sal jy  vir ’n dag of ses soos ’n skaduwee wil volg? 

In film, is my grootste droom om animasie te doen en dit sal ’n droom wees om Hayao Miyazaki te volg en te kyk hoe hy werk en praat oor stories. In TV sou ek sê Nathan Fielder, die man agter Nathan For You en The Rehearsal. Hy is besig om ’n nuwe vorm van TV-komedie uit te werk en ek vind hom fassinerend. Op die verhoog, die Britse regisseur Marianne Elliot wat onlangs nuwe verwerkings gedoen het van Angels in America en Stephen Sondheim se Company, wat ek die voorreg gehad het om onlangs in New York te sien. Dit was die beste musiekteater-ervaring van my hele lewe. 

Wat is die produksies by die Woordfees wat jy wil gaan kyk? 

My skedule is nogal stampvol, maar waarvoor ek móét tyd maak, is Die vegetariër. Ek het Droomkraan-kronieke by die KKNK gemis, maar hoor net die mooiste goed van almal wat ek ken en dan ook graag Magnet Theatre se Oedipus at Colonus #Aftersophocles

  • Braam en die engel kan jy sien by die HMS Bloemhof-sentrum. 11 Oktober 15:30 | 13 Oktober 17:30 | 14 Oktober 09:00 | 15 Oktober 10:00
  • Tollie Parton kan jy sien by die KykNET HS Stellenbosch. 11 Oktober 20:00 | 12 Oktober 17:00 | 14 Oktober 21:30
  • Bul kan jy sien by Hoërskool Lückhoff. 8 Oktober 20:00 | 9 Oktober 13:00 | 10 Oktober 20:30
  • See muur kan jy sien by die US Museum Anneks. 9 Oktober 18:30 en 20:00 | 10 Oktober 10:30 18:00 | 11 Oktober 15:30 20:00 | 12 Oktober 11:00 | 13 Oktober 10:30 12:30 | 14 Oktober 17:00 en 20:00
Facebook
Twitter
LinkedIn