RESENSIE

Kyk weer… hoe lyk dit nou?

Marchelle van Zyl
Nipped in the butt
HMS Bloemhof-skoolsaal
Foto’s: Nardus Engelbrecht

“We’re doctors. We are here to help.”

Vier jong dokters geniet ’n welverdiende smoke break. Die verhoog is ’n nie-amptelike rookarea. Die enigste inkleding op stel is jou tipiese onpersoonlike bankies en ’n onversorgde potplant wat dien as asbak. Die geenrookteken word onseremonieel geïgnoreer. 

Dit is duidelik die dokters is nou net deur ’n helse skof. Van hulle het pasiënte verloor en hulle is duidelik geskok en ontsteld oor hoe die dag verloop het. Die een sigaret ná die ander word in stilte opgesteek om die stres te verwerk.

Die vier dokters werk duidelik al lankal saam en elkeen se persoonlikheid kom baie duidelik na vore in hulle dialoog en persoonlikheid. Elke karakter is volrond geskep én vertolk. 

Alexander (Merwe van Gent) is die selfversekerde chauvinis wat dink hy is god se geskenk aan die mensdom. Liv (Nichola Viviers) is die godsdienstige dokter wat glo alles is die Here se wil en daar is ’n doel en rede met elke ding. Meena (Kerscha Titus) verbeel haar sy is Amerikaans nadat sy ’n jaar lank ’n uitruilstudent in Amerika was, maar is “eintlik van Worcester”. Warren (Johann Dippenaar) is die vredemaker, die voorbeeldige, saggeaarde dokter wat almal wil tevrede hou. 

Hulle redekawel, hulle debatteer oor die lewe en praat oor hoeveel pasiënte hulle al verloor het of nie. Die gekibbel eskaleer wanneer ’n hawelose bedelaar (Anna-Louise Boshoff) daar aankom en met hulle begin praatjies maak. Sy voel effens broos, maar sy is skerp en sit die dokters op hulle plek. Sy gaan om melk en kos te koop en los die toksak onder die bankie. Die dokters maak dan ’n grusame ontdekking wat die verloop van die gebeure heeltemal omvergooi. 

Altesame 20 minute lank speel die tafereel voor jou af. Dis skerp, kwinkslag op kwinkslag, maar stadigaan word die komedie ál swarter en die karakters se poging tot humor minder snaaks – totdat dit ’n klimaks bereik en die stuk eindig. En dan begin dit wéér. Die gebeure word dan presies herhaal. Jy wag vir die catch. Jy hou die akteurs dop om te sien watter bewegings is anders… gaan jy hulle uitvang dat hulle iets verander? En jy wag…

Ná die vertoning is ek effens verslae en deurmekaar by die deur uit. Ek was bewus daarvan dat ek nou net baie opwindende teater meegemaak het deur ’n klomp nuwe jong, opkomende akteurs en ’n baie talentvolle skrywer en regisseur, Nisa Smit. 

Hoe sal mense voel as hulle ’n stuk vir die tweede keer sien? Sal hulle dieselfde emosies ervaar of hoe sal hulle dan na die stuk kyk?

Die dialoog is vinnig en skerp, die storie boeiend, en die akteurs on point en afgerond. Smit se teks het nou ook befondsing gekry om in Afrikaans vertaal te word. Ons sal definitief die jong mense dophou. 

Maar, nou: Hoekom die herhaling? Wat probeer sy nou eintlik vir ons sê? “Soms sien ons ’n stuk wat ons ruk. Dit ontlok emosies en dan weet ons nie hoekom nie,” sê Smit. Hoe sal mense voel as hulle ’n stuk vir die tweede keer sien? Sal hulle dieselfde emosies ervaar of hoe sal hulle dan na die stuk kyk?

Wanneer jy die stuk vir die tweede keer begin kyk, hou dit die kyker aan die raai: Gaan iets verander? Gaan die uitkoms dieselfde wees? 

Dit gee hoop én wanhoop, verduidelik sy. “Jy hoop dit gaan verander, maar aan die ander kant weet jy dit gaan nie.” Dis amper ’n soort gehoordeelname, want die kyker word nou deel van die ervaring en nie meer ’n onafhanklike kyker nie. “Die gehoor voel vasgevang, kan nie aanbeweeg nie.” En nou fokus die kyker op ander aspekte van die stuk wat jy dalk die eerste keer nie raakgesien het nie; fokus op ander karakters. 

Die eksperimentele teaterstuk is interessant, want jy vind ook dat die gehoor heeltemal anders reageer wanneer hulle dit die tweede keer sien. Hulle lag nie meer vir dieselfde grappies nie. Jy word vasgevang in ’n situasie waar jy maar net in die emosies moet sit, dit ervaar en kan dink oor die effek van teater, vertel Smit. 

Die stuk laat ’n mens ook wonder: Indien jy ’n tweede kans gegun word in dieselfde situasie, onder dieselfde omstandighede, sal jy weer dieselfde ding doen? Sal jy weer dieselfde besluite neem?

  • Op 16 Oktober om 17:00 is daar ’n ekstra show. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn