RESENSIE

Schalk sing toe wel sleg

Naudé van der Merwe
Schalk Sing Sleg!
Daisy Jones Bar

Die titel van hierdie show laat ’n mens nie wonder nie: Schalk sê hy gaan sleg sing. In jou agterkop dink jy hy gaan miskien sleg sing, maar in jou voorkop weet jy dit gaan die geval wees. En dan sing hy sleg. Geen misterie hier nie.

Ná verskeie suksesse, plaaslik en internasionaal, op TV en op die verhoog, as stand-up comic en akteur, betree Schalk Bezuidenhout die Afrikaanse musiekwêreld met hierdie produksie. Of so iets. Hy sê hy wou nog altyd in ’n band wees, maar sy musiektalent as kind het hom in die steek gelaat. Nou, saam met Wesley van der Westhuizen (klavier, kitaar), kry hy die geleentheid om liedjies te sing, dansies te doen én grappe te vertel.

Die gehoor by die Daisy Jones Bar het ’n bietjie tyd nodig gehad om op te warm. Dit was duidelik Schalk moes aanvanklik nogal hard werk om almal aan boord te kry, maar dit het mettertyd gebeur. Van die gehoorlede om my het na hulle asem gesnak die eerste paar keer toe Schalk ’n vloekwoord of tien laat val het en ongemaklik rondgeskuif as die woorde “vulva” of “piel” by sy mond uitkom. Ek het gewonder of hulle weet by watter soort show hulle is. Die kaalkop oom verder af in die ry het wel die tyd van sy lewe gehad. Hy’t ’n skud-skud lag gehad, een van daai waar geen klank uitkom nie en sy oë heeltyd skrefies trek.

Die program is, onder meer, vol toilet-, kondoom-, Covid-, kykNET-tannie-, matriekvakansie-, ex-girlfriend-, vegan- en – uit die aard van die titel – ’n groot gros Afrikaansemusiek-humor (veral oor Spoegwolf). Van dit voel oorbekend, en ander grappe en liedjies is nuut en vars en werklik snaaks.

Hy sê hy wou nog altyd in ’n band wees, maar sy musiektalent as kind het hom in die steek gelaat.

Maar tog, agter al die grappe en gelag, is daar iets hartseers omtrent hierdie vertoning waarop jy nie heeltemal jou vinger kan lê nie, soos wat seker die geval is met die meeste werklike goeie stand-up comics.

Hy sing aan die einde: “Soms voel ek stukkend, maar ek moet op my stukke wees. Ek smag na julle lag om wat ek wegsteek te genees.”

Damn, Schalk. 

Maar hierdie is nie Nanette van Hannah Gadsby nie, so dit eindig met almal wat weer lag-lag by die deur uitgejaag word terwyl die venue gereed maak vir die volgende show. Die een meisie sien wie volgende optree en vra heel ernstig vir haar vriendin: “Wat is ’n Tollie Parton?”

  • Die laaste vertoning van Schalk Sing Sleg! is op 13 Oktober om 18:00 in die Daisy Jones Bar. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn