RESENSIE

Dans met ’n slaansak breek jou hart

deur Susan Booyens
Produksie: Shadow Boxing
Foto’s: Verskaf

Uit. 

Die mag en veelheid betekenisse van dié kort woord het selde al soveel trefkrag gehad as aan die slot van dié voorhamerhou van ’n eenmanvertoning. Ook in samestelling. Uitklophou. Uitdager. Uitkom. Uitgemergel. Uitstekend.

Die beeld van ’n eensame jong bokser wat teer en grasieus saamdans met ’n slaansak wat uit die dak hang as instaan vir ’n minnaar sal my nog lank bybly. Nes die skokharde klapklanke van sy voetstampe op die planke sy vuishoue tot in die gehoor se murg en been eggo. Hoe harder hy slaan, hoe dieper begeer hy om sag te wees. 

Met net ’n oefensak, blikemmer, bokshandskoene en ’n stoel waaroor ’n snyersbaadjie gedrapeer is vertel die jong Daniel Newton meesterlik fisiek, woedend en weerloos as die karakter Flynn sy lewensverhaal: ’n gewoonteverloorder van ’n bokser-pa, geboelie op skool, sy verbetenheid om homself te bewys deur self boksglorie tot by ’n titelgeveg na te jaag, die waagmoed om as gay sportman in die 1980’s uit die kas te kom en ’n nadraai wat die gehoor behoorlik teen die toue het.

Dié talentvolle spruit van die Suid-Afrikaanse teaterswaargewigte Lara Foot en Lionel Newton het vroeër vanjaar ’n gesogte Fleur du Cap-teaterprys gewen vir beste vertolking in ’n revue, kabaret of eenpersoonstuk, en het in Augustus Shadow Boxing op die Fringe van die Edinburgh-fees in Skotland aangebied. Die ervare regisseur en choreograaf Mdu Kweyama verdien ook lof vir sy hand in ’n emosioneel intense en hoogs fisieke produksie, geskryf deur die Britse TV- en verhoogakteur James Gaddas.

Die sweet spat letterlik terwyl ons sien hoe Flynn homself liggaam en siel opoffer op die kruispad van manlikheid, seksualiteit, geweld en identiteit in sy soeke na aanvaarding. Wanneer hy eindelik intimiteit bereik en smag na sagtheid, breek iets in Flynn as die parkvryer pleit vir hardhandigheid en geweld. 

Daniel, ’n oudstudent van die Universiteit van Kaapstad se dramaskool, speel absoluut sy hart uit en lyk naderhand vuisvoos, al skaduboks hy net met ’n denkbeeldige opponent. Sy sliertige hare werk fantasties vir die rol, maar met die beligting net van bo kan mens soms nie sy gesigsuitdrukkings duidelik genoeg sien nie. En dis in die stiller oomblikke dat die grootste slaankrag lê.

Op pad uit die teater onthou ek ’n frase uit Fairground Attraction se liedjie “A Smile in a Whisper”:

“We’re threading a needle with boxing gloves
When we try and talk about love…”

 

  • Shadow Boxing
    8 Oktober 19:30 | 10 Oktober 21:00
    Adam Small-laboratorium
    Ouderdomsbeperking 13 jaar
    Bespreek by Quicket
Facebook
Twitter
LinkedIn