RESENSIE

Herken jy haar?

deur Ilza Roggeband
Produksie: Vrou ens.
Foto’s: Verskaf

Jy hoor haar voordat jy haar sien. Die lokaal langs die museum is effens weggesteek, maar volg die stem van Sussa se ma, en jy sal wel daar uitkom. 

Mandri Sutherland is een van daardie aktrises wat jou weer laat besef dat mense in ons vermaakbedryf van die vindingrykste in die land is. Hulle woeker en maak planne. Werk saam en as daar ’n spasie is, kan hulle konsert hou. Soos haar profiel op Instagram sê: Actress. Writer. Voice artist. Doing huiskonserte since 2021.

In Vrou ens. is Mandri ’n verkleurmannetjie wat van een karakter na die ander voor jou oë verander. Sy begin met die karakter wat ons leer ken het en verduidelik dan aan die gehoor dat die spasie eintlik die kerk se biegkamer is. Vandaar kom vertel haar verskillende karakters hulle stories. Daar is onder meer die oorywerige ma wat nie kan glo haar dogter is nie as hoofdogter gekies nie, die vrou wat haar Afrikaanse wortels vergeet het, en nou Luna is wat in Seepunt bly, en die vrou wat ná ’n geselsie met ’n dominee in die gimnasium nou ’n liggaamsbouer is, of bôddiebilder soos sy dit noem. 

Hier is die gehoor nie in donkerte gehul nie en sy buit dit uit op die beste moontlike manier. Die skaamste man in die gehoor het sekerlik in ’n stadium gewens hy het eerder heel agter in ’n hoekie gesit. 

As Suid-Afrikaanse, en Afrikaanse vrou, sal jy dalk dele van jouself herken. Indien nie, gaan jy sonder twyfel vroue herken wat al jou pad gekruis het.

En nes jy dink hierdie konsert is net pret en plesier, het Mandri jou in trane met ’n monoloog oor haar ouma. In die begin was daar nog hier en daar iemand wat gegiggel het, maar teen die einde kon jy ’n speld hoor val.

Tiara op die kop vir Mandri Sutherland. Mag sy van krag tot krag gaan. Sy het beslis die talent daarvoor.

 

  • Vrou ens
    13 Oktober 19:00 | 14 Oktober 10:30 en 14:00 | 15 Oktober 12:00 en 15:30
    US Museum-anneks
    Geen o.16
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket.
Facebook
Twitter
LinkedIn