RESENSIE

Frank en Tarryn: Die sterre is in gelid

deur Ilza Roggeband
Produksie: Busrit in die aand
Foto’s: Rikus Terblanche

’n Hele paar jaar gelede het Karen Meiring, toe nog hoof van die KKNK, vertel dat wanneer hulle skedulering vir die volgende fees begin doen het, was die baskitaarspeler Schalk Joubert die eerste een wat hulle moes bespreek. Schalk was óral. Saam met rockers en ballade-sangers, in groot konserte en elke dan en wan sy eie vertonings. 

Deesdae is daar nog iemand wat sekerlik hoog op die skeduleringslys is: Frank Freeman, die talentvolle kitaarspeler met die krulkop wat op feeste van een produksie na die ander moet jaag. Van die produksies waarby hy betrokke is, is Hoe ons voel, Skoonveld, Neil Sandilands en Saam (all)een. Busrit in die aand is egter sy eie produksie wat hy saam met Tarryn Lamb fees toe gebring het. 

Hulle vertel dat hulle jare gelede ontmoet het toe Tarryn nog lid van Blackbyrd was en hulle by K-Day op Lourensford opgetree het. Blackbyrd se kitaarspeler was nie beskikbaar nie en dis waar Frank in die prentjie gekom het. 

Die sterre was in lyn die dag toe dié twee se paaie gekruis het. In Busrit in die aand, een van Elisabeth Eybers se gedigte wat hulle ook berym het, sing hulle van hulle eie oorspronklike musiek, asook van ander soos Laurika Rauch, en Theuns Jordaan. DJ Opperman, deejay nie DJ soos die digter nie, is verantwoordelik vir die voorafopgeneemde bindingsteks, en Frank en Tarryn word verder deur Werner von Waltsleben (tromme) en Schalk van der Merwe (baskitaar) ondersteun. 

Tarryn het sonder twyfel een van die beste vrouestemme in die land wanneer dit by kontemporêre musiek kom en die hoop is dat sy net van krag tot krag sal gaan. Frank het ’n debuutalbum op pad en Busrit in die aand is reeds opgeneem en ’n video is op YouTube beskibaar.

Mag hierdie die begin van ’n lang en vrugtevolle samewerking wees.

 

 

Facebook
Twitter
LinkedIn