RESENSIE

Intieme blik op ’n spesiale vriendskap

deur Ilza Roggeband
Produksie: Hoe ons voel
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Met die eerste Musiekindaba, wat verlede jaar aan die begin van Desember op Stellenbosch gehou is, was daar nie net praatjies en meesterklasse aangebied nie, daar is ook ’n paar musiekproduksies spesiaal vir die Musiekindaba vervaardig. Een daarvan was Hoe ons voel met Amanda Strydom wat ’n brief aan haar vriend Ralph skryf en tussendeur liedjies sing wat nie net hy en sy geskryf het nie, maar ook meester-liedjieskrywers soos Koos du Plessis en Kris Kristofferson. 

Die meeste van ons ken natuurlik vir Ralph Rabie as Johannes Kerkorrel, die sanger en liedjieskrywer wat tragies in 2002 besluit het die aarde is nie meer sy woning nie. 

Die verhoog in die Adam Small-ouditorium is amper kaal. Links sit Coenraad Rall agter ’n swart vleuelklavier, regs is Frank Freeman en sy kitare. In die middel is daar ’n lessenaar en ’n stoel, ’n lessenaarlig en ’n bos blomme. Ook ’n blou ballon wat aan die een kant van die lessenaar stil in die lug sweef. Agter, heel bo, hang ’n maan. 

Amanda – kaalvoet in driekwart-jeans, met ’n swart top aan en tulband om haar kop – vertel van haar en Ralph se eerste ontmoeting, hoe hulle saam gesing het, hoe hy vir haar van sy nuwe liedjies gespeel het en poskaarte van hom wat sy van oor die water ontvang het.

Daar is humor en herinnering; verlange na ’n vriend wat nie meer hier is nie. Op ’n kol skryf sy in haar brief aan hom wat alles verander het sedert hy weg is – sosiale media en Űber, die feit dat CD’s nie meer bestaan nie, maar dat langspeelplate weer beskikbaar is. Ook waarvoor hy dankbaar kan wees dat hy dit misgeloop het – van die pandemie tot beurtkrag.

Die teks, wat deur Amanda geskryf is, gee ’n intieme kykie op haar en Ralph se verhouding. Met tye voel dit asof jy as gehoorlid deur ’n gordyn loer of agter ’n deur staan en luister, en dit is een van die redes waarom die produksie ’n sukses is. Jy voel nie soos ’n indringer nie. Jy voel soos iemand wat ’n spesiale blik op ’n spesiale vriendskap kry.

Ook die musiek is uitstekend gekies en die toegif ná die tweede staande toejuiging was perfek: Koos du Plessis se “Skielik is jy vry”.

Mag hierdie twee vertonings van Hoe ons voel nie die laastes wees nie.

 

  • Hoe ons voel
    12 Oktober 18:00 | 13 Oktober 14:30
    Adam Small-ouditorium
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket.
Facebook
Twitter
LinkedIn