RESENSIE

Iewers is ’n kabaret wat wag om uit te kom

deur Ilza Roggeband
Produksie: Meer lag as beseer: ’n Stoute komiese ervaring vir mense bo 16 
Foto’s: Verskaf

Hallo Jackie,

Hoop dit gaan goed?

Stellenbosch is maar winderig en koel hierdie jaar, maar ek hoop die laaste paar dae van die fees gaan windstil en mooi wees.

Ek het gisteraand jou kabaret Meer lag as beseer: ’n Stoute komiese ervaring vir mense bo 16 kom kyk gekyk. Ek weet hoe lank jy al werk om ’n plek in die vermaakson te kry – en ons weet almal dis nie maklik nie – en was bly vir jou toe ek sien jy is gekeur vir die Toyota US Woordfees vanjaar.

Jy weet, een van die moeilikste dinge vir ’n joernalis wat resensies doen, is om te skryf oor iemand wat hulle ken. In een van Hennie van Greunen se stukke is daar die woorde: “Besluit of jou eerlikheid ’n salf of ’n mes is”. Ek hoop jy sien hierdie resensie as ’n salf.

Ons was twintig toeskouers in die gehoor toe jy op die verhoog gestap het. Veertien van ons het bly sit tot die einde. Dit kan wees dan hulle velle te dun was of dat hulle iets anders gekry het as wat hulle verwag het. Maar kom ons wees eerlik: Die kabaret het nog werk nodig. Nog baie werk.

Ek weet dit kos geld om veral mense wat hulle ding ken, te kry om te help. Maar hier wil ek dit vir jou op die hart lê: Kry hulp. Kry ’n regisseur met ’n fyn oog wat satire ken. Werk aan jou teks. Kry ook hier hulp. Dit moet jou siel breek wanneer jy iets, soos gisteraand, voorlees en daar is nie eens ’n effense gegiggel nie. Net stilte.

Wanneer dit by vloek kom, weet ons woorde verloor hulle impak as dit te veel gebruik word. Dekades gelede sou die meeste mense geskrik het vir die woord “fok”, maar deesdae is dit amper net nog ’n woord. Jackie, jy kan poes soveel keer as wat jy wil, sê – dis jou goeie reg – maar dit verloor impak ná ’n tyd. Dis nie om preuts te wees nie, dit gaan werklik oor impak. Hou dit eerder vir daardie oorstoot-drie-in-beseringstyd as om dit die hele tyd voor jou gehoor se gesigte te gooi.

Die tafel met bykomstighede gaan net werk as dit wérk. Kyk weer na die praktiese hoe en waar en besluit of dit werklik nodig is. Om ’n mus op te sit is een ding. ’n Voorskoot met bandjies ’n heel ander ding.

Jy is ’n talentvolle sanger en liedjieskrywer. Jou liedjie oor jou vriendin was sielvol, die liedjie oor die spelfoute het gewerk. En toe jy verduidelik het hoe daar op die titel van die produksie besluit is, moet ek bieg, ek sou stem vir Gemoedsbekakking vir geesdriftiges.

Om te skok is goed. Om mense te laat dink en met ander oë na dinge te kyk ook. Om te skok net om te skok … Nie werklik nie. Weer eens: Impak.

Jackie, hier is ’n kabaret wat wag om uit te kom. Jy het ’n stem. Jy ken jou sit agter ’n klavier. Jy is ’n slim skrywer. Iemand moet jou net help om al die drade bymekaar te kry.

Mag die wind gaan lê en die son warm skyn.

Ilza

Facebook
Twitter
LinkedIn