RESENSIE

Mag Dikelo se drome waar word

deur Ilza Roggeband
Produksie: NEXT!!! Auditions are not for the faint of heart
Foto’s: Verskaf

Daar is niks so lekker soos ’n verrassing by ’n fees nie. Soms het jy ’n idee wat vir jou op die verhoog gaan wag, maar dan word jy verstom deur suiwer talent. 

Eers waaroor die kabaret gaan: Relebogilethata, ’n jong vrou van Mount Frere in die Oos-Kaap, het drome om in musiekteater te werk. Om die pot aan die kook te hou, werk sy as kelnerin en gaan sy vir soveel moontlik oudisies. Meer kere as wat sy wil onthou, word daar egter vir haar gesê: Nee, nie vandag nie. Dit keer haar egter nie om aan te hou probeer nie. 

Die liedjies wat gesing word terwyl Relebogilethata vir die een oudisie na die ander gaan, sluit musiekblyspeltreffers in soos “All that jazz”, “He had it coming”, “Out here on my own” en “Don’t rain on my parade”. Ook “The click song” en “Pata-pata” uit eie bodem. 

Sy sing haar hart uit, maar keer op keer hoor sy die gewraakte woorde: “Next!”. 

Dikelo Mamiala, wat die rol van Relebogilethata speel, se eie verhaal is baie na aan haar karakter s’n. Haar ouers is albei in die akademie en sy is weliswaar nie ’n kelnerin nie, maar werk sedert 2009 in die IT-bedryf. Sy het geen formele opleiding in musiekteater nie, maar dit is waar haar passie lê. 

Hierdie is ’n sterk kabaret met ’n sangeres wat kán sing. Daar was meer as een keer wat ek gedink het: “Hierdie lokaal is heeltemal te klein vir so ’n groot stem”. Dis nie net oor ’n sangeres wat sukkel om haar merk te maak nie, maar spreek ook kwessies aan soos vir watter rolle swart vroue in aanmerking kom. “Hoekom ?”, vra sy op ’n kol, “is dit dat swart operasangeresse die rol van Mimi in La bohème kan sing, maar dit steeds moeilik is vir swart sangeresse om rolle in musiekblyspele los te slaan?” “Is dit dalk”, vra sy, “omdat opera-gehore meer opgevoed is?”

Teen die einde verklaar sy : “Musical theatre will love me, they just don’t know it yet”.

Dikelo word uitstekend deur Jacques du Plessis op klavier begelei en die skrywer en regisseur is Amanda Bothma. Daar is nog slegs een vertoning by die Eendrag-teater. As musiekteater en ’n sterk stem jou hoendervleis gee, kry so gou moontlik ’n kaartjie.

 

  • NEXT!!! Auditions are not for the faint of heart
    9 Oktober 15:00
    Eendrag-teater
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket.
Facebook
Twitter
LinkedIn