RESENSIE

Waar gaan haal jy jou nostalgie?

deur Ilza Roggeband
Produksie: Verlangebos
Foto’s: Verskaf

Dis ’n ouer gehoor wat Saterdag die Drostdy-teater byna van hoek tot kant volsit. Heel moontlik luisteraars wat nie een van Nic de Jager se programme op RSG misloop nie.

Die produksie word beskryf as volksmusiek wat vervleg word met gedigte van Boerneef tot Breyten Breytenbach. Die musiek kom uit die FAK-sangbundel, meestal uit die eerstes met “Ek verlang na jou” deur Jan de Wet (en bekend gemaak deur Sonja Herholdt) uit een van die latere bundels wat deel van die produksie is.

Op die verhoog is De Jager, die sanger Louis Loock en die musikante Rina Goldberg op klavier (sy het ook die program saamgestel), Schalk Joubert op baskitaar, Sunday Kelechi op tjello en Schalk Wasserman wat vir die perkussie verantwoordelik is. Die regisseur is Ira Blanckenberg.

Van die immergewilde FAK-liedjies soos “Groen is die land van Natal”, “Kom dans, Klaradyn”, “My Sarie Marais” en “Die mannetjie” is op die speellys en die nostalgie kom pluk jou aan die kraag. Dis egter met ’n lied soos “Die lied van Jong Suid-Afrika” wat jou laat wonder presies wáár mense hulle nostalgie gaan haal?

Die een ding wat gesteur het, is dat Loock bykans deurentyd die lirieke vanaf papiere op ’n musiekstaander gesing het. Die musiekstaander raak later soos ’n muur tussen die sanger en die gehoor omdat daar geen oogkontak of uitreikaksie is nie. Die oomblikke wanneer Loock wel sonder die hulp van die lirieke op die staander sing, plaas dit die produksie op ’n hoër vlak.

Verlangebos begin met De Jager wat Olga Kirsch se bekende woorde sê: “Hoe het dit skielik laat geword?”en sluit af met Loock wat S.L. le Roux se beryming van J.R.L. van Bruggen se “Heimwee” sing.

De Jager het egter die laaste spreekbeurt en hy gebruik Breyten se woorde:

“Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ’n asem lank
en die sterre op die Anderplek donker.”

Wanneer die 82-jarige De Jager van die verhoog af stap, met Loock wat beskermend naby is, roer dit jou hart en raak dit jou siel. Hier was beslis meer hoogtepunte as laagtepunte.

  • Verlangebos 60 minute
    7 Oktober 12:00 | 8 Oktober 17:00 | 10 Oktober 17:00
    Drostdy-teater. Kaartjies by die deur.
Facebook
Twitter
LinkedIn