VOORSKOU

Koop kuns by Woordfees se eerste kunsveiling

Woordfeeskantoor
Strauss & Co kunsuitstalling
Foto’s: Verskaf

Die Toyota US Woordfees bied vanjaar die eerste keer ’n opwindende veiling van nuwe kunswerke aan. Meer as 50 gevestigde en opkomende kunstenaars is genooi om werke te verskaf.

Die Woordfees se kunsveiling in samewerking met Strauss & Co vind plaas op Saterdag 15 Oktober vanaf 11:00 in die Stellenbosse stadsaal. Die kunswerke word vir die duur van die fees in die stadsaal uitgestal, en die pryse wissel sodat almal in die visuele skouspel kan deel. Toegang tot die veiling is gratis en kunsversamelaars dwarsoor die wêreld kan die veiling volg.

Klik op die foto’s om die volle kunswerk en kunstenaarsbesonderhede te sien. 

Met die samestelling van vanjaar se feesprogram was die uitgangspunt om ná twee moeilike pandemiejare die maksimum werk- en inkomstegeleenthede vir soveel as moontlik kunstenaars te skep. Hierdie beginsel geld ook vir die visuele kuns. In die onlangse verlede het die Woordfees gemiddeld drie groep- en twaalf solo-uitstallings per program ingesluit. Veral vir solo-uitstallings het kunstenaars heelwat moeite gedoen om werk te skep wat om ’n tema of konsep wentel. Verkope het egter nie altyd aan verwagtinge voldoen nie, deels omdat die werk slegs vir die duur van die fees uitgestal is en nie twee tot drie maande soos die gebruik is in galerye nie. 

Weens die verskuiwing van die Woordfeesdatums was ons gebruiklike uitstalruimtes nie in die aanloop tot die fees beskikbaar nie. Gegewe hierdie logistieke uitdaging, en in ’n poging om meer kunstenaars te laat voordeel trek uit die fees, het ons besluit om vanjaar slegs ’n opwindende veiling van nuwe werk aan te bied. 

Opwindende werk van groot name soos Emma Willemse, Joshua Miles, Dylan Lewis, Selvin November, Strijdom van der Merwe, Olaf Bisschoff, Andrew Ntshabele, Karin Preller en Collen Maswanganyi gaan onder die hamer kom. 

  • Die kunsveiling vind op 15 Oktober om 11:00 in die Stellenbosse stadsaal plaas. 
Facebook
Twitter
LinkedIn