SPIER TONEEL

Daneel deins nie weg van dié dubbeldoor

Produksies: ge-gebergtes en Grootmeisie
Deur: Diane de Beer
Foto’s: Nardus Engelbrecht, Gys Loubser, Hans van der Veen

Daneel van der Walt saal ’n wilde perd op en speel die vroulike hoofrol in twee belangrike stukke by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees: Rachelle Greef se Grootmeisie wat met die Reinet Nagtegaal-teksprys bekroon is, en Saartjie Botha se ge-gebergtes. Gelukkig, het sy aan Diane de Beer gesê, is daar mense agter die skerms wat ’n mens mooi oppas.

Om in twee stukke deur twee uiteenlopende maar uitmuntende skrywers te speel – Rachelle Greef se Grootmeisie en Saartjie Botha se ge-gebergtes – kan uitdagend en selfs skrikwekkend wees, maar Daneel van der Walt sien vir baie kans.

Saartjie se manier van skryf is heeltemal anders as Rachelle s’n, sê sy. “Albei van hulle het om baie uiteenlopende redes hulle stukke geskryf. Saartjie het geskryf uit wat sy ervaar noudat haar ma in die ouetehuis is en die stories wat sy daar gehoor het, terwyl Rachelle sê die stuk gaan nie oor haar nie, maar dalk tog ’n bietjie oor haar verlede.

“Saartjie het dus meer uit haar hede geskryf en Rachelle uit haar verlede. Die stukke kom as’t ware uit verskillende plekke van jou lyf, hart en psige, en dit raak jou ook op verskillende maniere. Die feit dat albei vroue is, is net ’n bonus. Dis vir my baie mooi dat ek twee vroue se stemme verder kan vat op die verhoog.”

Grootmeisie met Lee-Ann van Rooi as regisseur en Jefferson J. Dirks-Korkee, Wian Taljaard en René Cloete in die rolverdeling is die nuwer stuk. Rachelle skryf nie so dikwels vir die verhoog nie, sê Daneel, maar wanneer sy ’n drama aanpak, weet ’n mens hier kom ’n ding.

Dis g’n verrassing dat sy met die teks van Grootmeisie haar tweede Reinet Nagtegaal-teksprys gewen het nie.

Daneel speel die rol van die vrou om wie die stuk draai, en jy kan maar weet die poppe gaan dans met Lee-Ann wat gereeld vir Daneel sê sy “kan maar gooi”. “Dit is net die aanmoediging wat ek wil hê. Ek is so bederf met hierdie voortreflike span en vergaap my aan die talent op die verhoog,” sê sy. “Ek het ook lanklaas met ’n teks gewerk wat vrá jy moet gooi – boonop met die ondersteuning van die regisseur.

“Baie mense sal sê menopouse gaan oor hot flushes en estrogeen, maar dit gaan ook nie net oor die gewig wat jy aansit of die veranderinge in jou liggaam nie, want die proses verloop anders vir elke vrou. Vir party is dit hormonaal, ander ervaar dit weer totaal anders. Die vroulike liggaam is baie meer kompleks as dié van mans op wie alles getoets word. Die mediese veld is so agter as dit by die vroulike liggaam kom, ons leer maar bymekaar.”

Wat in Grootmeisie gebeur, is dat Daneel Merwe, beter bekend as Danny, vanweë al die verskuiwings in haar liggaam terugduik in haar verlede, en met die terugblik val sy uitmekaar.

“Dit is ’n complete en utter undoing, maar in daai uitmekaarval, vind sy weer haarself en keer terug as ’n mens wat baie meer gegrond is. Sy begin soos ’n warrelwind en eindig soos ’n boom,” verduidelik Daneel.

Dit is ’n complete en utter undoing, maar in daai uitmekaarval, vind sy weer haarself en keer terug as ’n mens wat baie meer gegrond is. Sy begin soos ’n warrelwind en eindig soos ’n boom.

Vir haar is dit ’n “mooi en mal” stuk, presies soos sy daarvan hou. “Ons doen dit op Brechtiaanse manier van weer terugval na jouself, as dit sin maak? Maak ek sin? Dit is ’n lyn uit die stuk,” gesels sy voort.

“Dit is lekker om op die verhoog iets aan te spreek wat nie juis aangespreek word nie. Eintlik moet ons skaam kry hieroor, soos wat ons veronderstel is om skaam te kry vir ons maandstonde of moet stilbly oor die vroueliggaam. Die wêreld is vol falliese simbole, maar praat oor vrouegoed? O nee, ons kan nie daaroor praat nie, ook nie oor depressie nie, want dit maak mense ongemaklik. Depressie gebeur ook met vroue en dis nie ’n skande nie, dis die lewe.”

Daneel sê sy is mal oor toneelstukke waar sy aan die einde totaal pê voel. “Ek hou daarvan om fisiek en psigies kláár te wees aan die einde van ’n stuk – en dis presies wat Grootmeisie doen.”

Saartjie se ge-gebergtes met Wessel Pretorius as regisseur is weer iets gans anders. Dit gaan oor ’n man, prof. Herman Delport, wat ná die dood van sy dogter en die moeilikheid om haar lyk van oorsee af terug te bring, ’n kombinasie van eensaamheid, frustrasie en absolute hartseer ervaar.

“ ’n Deel van die probleem is ook die moeilikheid wat ’n mens ervaar met tegnologie, wat ons almal uiteindelik ongelooflik isoleer. Oom Herman oorleef ’n selfdoodpoging en keer terug na die aftreeoord waar mense sukkel om dit te hanteer omdat hulle nie opgelei is om met psigo-sosiale stresfaktore te werk nie.”

Daneel speel die psigiater wat ’n bietjie moed verloor en afgetakel word deur die gebroke mense wat sy elke dag sien. Oom Herman se vermoë om sy verlatenheid te verwoord in sy gesprekke met die psigiater, maak haar ’n bietjie sagter.

Om nou teenoor ’n nuwe oom Herman te speel – Carel Trichardt het die rol by Nic de Jager oorgeneem – verander ook dinge. “Almal het hulle eie pas, ’n manier van doen en speel, en dis interessant om te sien hoe dit ook die ritme van die stuk beïnvloed,” verduidelik sy.

Dit is lekker om op die verhoog iets aan te spreek wat nie juis aangespreek word nie. Eintlik moet ons skaam kry hieroor, soos wat ons ons veronderstel is om skaam te kry vir ons maandstonde of moet stilbly oor die vroueliggaam.

By hulle laaste repetisie het hulle gesels oor hoe lekker dit is om deel te wees van ’n geselskap met mense wat so lief en wonderlik is soos Birrie le Roux (stel- en kostuumontwerper), Sylvaine Strike (choreograaf) en Charl-Johan Lingenvelder (komponis en musikale verwerker) wat so goed is met wat hulle doen.

“Dis ’n voorreg vir die spelers om vasgehou te word deur so ’n groot span wat Saartjie en Wessel Pretorius, die regisseur, insluit, en natuurlik Lulu Kieser, die verhoogbestuurder, wat altyd vir almal instaan en regstaan.

“Hoe gaan ek cope met twéé stukke? Wel, ek doen dit mos nie alleen nie. Ons akteurs word goed ondersteun deur die mense agter die skerms wat ons baie mooi oppas. Maar hoe ek gaan cope, sal ons moet sien!”

ge-gebergtes
3 & 4 OKT 10:00 | 5 OKT 19:30 | 6 OKT 10:30
Open Window-kampus
R210-R350 | R240-R380 by die deur
Geen 0.14

Grootmeisie
5 OKT 10:00 | 6 OKT 17:00 | 9 OKT 20:00 | 10 OKT 13:00 & 16:00
Open Window-kampus
R210-R350 | R240-R380 by die deur
Geen 0.14

Facebook
Twitter
LinkedIn