SPIER TONEEL

Laat die dansers voor loop

Produksie: FEDA-wenner: The Desert Station
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Verskaf 

Daar is seker nie ’n groot verskil tussen die konsepte van plek en ruimte nie. ’n Mens kan dalk die onderskeid tref deur ’n plek te definieer as iewers waar iets of iemand is – met ander woorde, ’n plek waar jy iets onthou, of ’n plek waar iets belangrik gebeur het. ’n Ruimte voel of dit tussen plekke moet wees, soos by ’n lughawe, in ’n wagkamer of op ’n perron of parkeerterrein.

Dit is hier, in ’n liminale spasie tussen die verlede en die toekoms, waar Redhill School se dramagroep, wat hierdie jaar die wenners van die Festival of Excellence in Dramatic Arts (FEDA) was met hulle produksie Desert Station, vrede probeer maak met ’n traumatiese geskiedenis en ’n pad vorentoe.

Desert Station bied ’n vars perspektief wat kommentaar oor Suid-Afrika en versoening aanbetref, en dit van ’n ouderdomsgroep wat ’n mens nie noodwendig dink ’n spreekbeurt in die gesprek wil hê nie omdat hulle nie daar was nie.

Die mooiste van hierdie produksie moet wees hoe die groep van nege tieners, tussen 16 en 18 jaar oud, saam beweeg en dans, hoewel dit waarskynlik indrukwekkender is as die volledige groep van 22 lede dit saam doen. Die dansers het nie almal formele dansopleiding nie en daar is hier en daar foute, maar die klem bly steeds op die idee van beweging en, in teenstelling, om te wag – en om aan te beweeg van ’n geskiedenis wat deel is van jou, maar nie joune is nie, en oorgeërfde herinneringe en verwagtinge wat nie joune is om te dra nie.

Daar is ’n gevoel van dringendheid in die dans wat uitgevoer word, en dit word beklemtoon deur die musiek wat daarvoor gekies is. Die sprekers maak strak oogkontak met lede van die gehoor in hulle spreekbeurte. As die eerste persoon begin praat, weet jy dat jou rol is om te luister en dat hulle iets het om te sê.

Een interessante waarneming is dat beweging ook gesien kan word as ’n vorm van weerstand, opstand en teestand. Suid-Afrikaners wéét van in rye staan om te stem, hulle weet van dans en stap in optogte, en in dié stuk is dit ook duidelik. Hier en daar is waaghalsige spronge en die verkenning van fisieke ruimte (so tussen een en twee meter bo die vloervlak van die verhoog). As ons ooit moet baklei vir iets waarin ons glo, hoop ek hulle kry die dansers om voor te stap. ’n Mens moet ook erkenning gee aan die vertroue wat jy tussen hierdie dansers ervaar met elke vryval, en die disipline wat dit moes neem om maande en maande te bestee om dit tot op dié vlak te kry.

Die choreografie en regie word deur Jordann Dunn behartig, ook een van die dansers in die groep. Die teks en dialoog is deur Bailey Snyman geskryf, met samewerking van die groepslede. Die gebruik van rekwisiete is in sekere opsigte bietjie direk en te voor die hand liggend, met die gebruik van die ou Suid-Afrikaanse vlag wat die verlede verteenwoordig en waarmee dan weggemaak word. In ’n sekere sin is die stuk se boodskap sterk genoeg om daarsonder klaar te kan kom sonder om betekenis te verloor. Andersins is die simboliek van die trein en die perron en die woestyn baie gepas.

Een interessante waarneming is dat beweging ook gesien kan word as ’n vorm van weerstand, opstand en teestand. Suid-Afrikaners wéét van in rye staan om te stem, hulle weet van dans en stap in optogte, en in dié stuk is dit ook duidelik.

Daar is nie ’n narratief wat die stuk lei nie en geen definitiewe begin en einde nie. Die dialoog is meestal gebaseer op oorvertellings van ouers en grootouers, wat die gehoor eintlik deur die dans en die liminale ruimte saam met die groep lei. Dit kom wel ietwat liries oor, soos iemand wat ver oor die horison staar, maar dra seker by tot die gevoel wat die tieners wil skep, wat ’n mens seker die beste kan opsom as om haastig vir niks te wag. 

Een ding is seker: jy moet braaf wees om hierdie temas te ondersoek sonder dat dit wanhopig of klaerig voorkom, en dit is presies wat ’n mens in hierdie stuk ervaar. Dit is nié kinders wat gaan wag vir hulle trein nie – hulle is gereed om van die perron af te klim en te begin stap as dit moet. Hulle lotsbestemming hang nie af van dit wat vir hulle nagelaat is nie. Dit is moeilike temas, maar dit gee ’n kyker tog hoop dat dié generasie die inisiatief sal neem om oor die verlede te praat en om daarvandaan aan te beweeg, sonder dat hulle voel hulle word van iets ontneem of dat iemand hulle iets skuld.

’n Mens hoef nie ’n kenner te wees van danstegniek en al die spronge en trustfalls wat jy hier sien om te weet dat mense nie só dans oor iets waaroor hulle nie ernstig is of nie in glo nie. Ek weet nie of dit is hoe hoop lyk nie, maar ek weet dit is hoe dit lyk as mense vir hulleself besluit. Dit is hoe dit lyk as jongmense hulle ruimte en erfenis hulle eie maak – en plek maak vir hulle eie toekoms.

FEDA-wenner: The Desert Station
3 OKT 16:00  | 4 OKT 13:30
HMS Bloemhof-skoolsaal
R120 | R150 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn