SPIER TONEEL
Klaaglied vannie kjeeners
Produksie: Wie call die shots?
Skrywer: Dianne Albertze
Foto: Nardus Engelbrecht
Wie call die shots? is ’n aanklag teen wapenmisbruik, misdaad en die tekort aan beskerming vir ons kjeeners. Dis ’n rouklag uit die mond van die suigeling. By tye voel dit of die stuk Russian roulette met die kyker speel en ’n mens voel of jy wil koes, skryf Dianne Albertze.
Ses seuns staan met hulle rug na die gehoor. Ses seuns draai hulle rug op ’n land wat hulle nie kan beskerm nie. Saggies begin hulle neurie. Die deuntjie sit reeds in ons onthou as ’n nasie. Die woorde raak ál meer herkenbaar soos ‘n vergete vriend uit die verlede.
Swerwers sonder rigting
Soekers wat nooit vind
Só word die ses seuns dan ook kjeeners vannie wind.
In alle rigtings waai die seuns soos stofwolke op soek na ’n plek om te hoort en ’n oor om te luister. Fisieke taal wat vloek en tjank. Stoele word geslat met pote wat soos gunshots dreun. Hier ’n nommerbende-teken, daar hanne wat wil keer. En heel agter ’n klein laaitie met ’n rooi tas aan’t bewe. Soms kry hulle nie teruggebaklei nie. Dan word die lyf soutpillaar, of erger: ’n grafsteen.
Een vir een kom die wenners van die Proscenium-dramakompetisie na vore met hulle stories. Elkeen in skakerings van vaalbruin, grys en kakiei geklee. Die kleur van die grond. Die plek waarna ál meer vroue en kjeeners oppad is. ’n Koeёlskoot-lyn tref die gehoor wanneer een van die spelers lostrek en sê: “In die grond is ons almal dieselfde kleur.”
Hierrie kjeeners wil gehoor word. Soms met min woorde. Tonele waar daar slegs met lywe gepraat word. Skaduwees van boeliegedrag en groepsdruk skakeer van die interaksies. Jong mans wat probeer uitvind waar hulle inpas. Ook wanneer hulle van die vloer af mag opstaan, want jy moet maak of daar geskiet word, verduidelik een van die spelers vir ons. Juis met die storie van klein Ashwin leer ons hiervan. Die laaitie se eerste geskenk van Vader Krismis was ’n gun. ’n Speelgun wat water skiet. Sy ma-goed het bly skel, maar hoor is min. Die kjeent wil mos speel en skiet alles en almal. Tot hy by die spazashop met die werklikheid gekonfronteer word.
Die ritme van Wie call die shots? is ’n mengelmoes van energieke dans en fisieke teater wat op jou neerdaal soos ’n reёnstorm van koeёls en ander kere weer ’n skietstilstand van aria-agtige, digterlike vertellings.
Of ’n stem uit die donker wat moeg tot desensitized is. Hy vra wie van ons in die begraafplaas sal oorleef (hy bedoel sy woonbuurt). ’n Plek waar kjeeners tot laat toe nog speel in die strate, met of sonder toesig. Hy is ’n kjeent wat nie meer een kan wees nie. Wat word dan van ons as ons onskuld van ons geroof word? Onvoltooide grootmense? Lywe wat met ’n leemte saamleef?
En moenie dat ek van die ma’s vergeet nie. In een fragment transformeer die spelers in ouer vroue, moontlik tekeninge van hulle eie moeders. Die’s wat nie meer uitkyk-anties kan wees nie, want daar is net te veel plekke en mense om voor uit te kyk. Met karikatuuagtige gebare kleur die klomp die swaar storie in met humor (tot die humor is galbitter). Die ma’s xhou van die skel, skertsend tog met meegevoel oor wie dan nou moet pa staan vir al die kwessies: die gebrekkige bystand van die goewerment, misdaad in die gemeenskappe en o, die drugs, wat een bieg, “die kinnes so skeel lat kyk dat hulle nie eens die bullet kan raaksien wat hulle tref nie”.
Monolo en beweging word nes ’n skewe bolla saamgebind. Albei elemente – choreografie en teks – is beeldryk en veelvlakkig, maar sukkel soms om deur die rekkie van die drama vasgebind te word. Die ritme van Wie call die shots? is ’n mengelmoes van energieke dans en fisieke teater wat op jou neerdaal soos ’n reёnstorm van koeёls en ander kere weer ’n skietstilstand van aria-agtige, digterlike vertellings.
As gehoorlid kan jy later die struktuur voorspel, nes ’n rit op ’n rollercoaster, want ná elke teer oomblik kom daar weer chaos. Hierdie resensent wou meer verras word met ’n verbreking van konvensie tussendeur die rigiede struktuur. Sodoende sou die verloop net so rou en ontroerend soos die inhoud kon wees.
As gehoorlid kan jy later die struktuur voorspel, nes ’n rit op ’n rollercoaster, want ná elke teer oomblik kom daar weer chaos. Hierdie resensent wou meer verras word met ’n verbreking van konvensie tussendeur die rigiede struktuur. Sodoende sou die verloop net so rou en ontroerend soos die inhoud kon wees.
Tog verras die tematiek en kwessies wat aangespreek word ’n mens nie. En dinge het nog xhoei glad nie verander in ons land nie. Moontlik selfs erger geraak, nes die eerste woorde van Laurika se “Kinders van die wind”: “Ek ken ’n ou, ou liedjie…” Dis ’n liedjie wat nooit verander nie.
Miché van Wyk en Byron Klassen is egter twee teaterskepper wat al met Gat bewys het dat hulle veral saam ’n gedugte span maak. Met hulle kan jy as gehoorlid maar tekstuur, aardsheid en sterk storievertelling verwag.
Die stel bestaan uit ses stoele met ses tasse as props. Verder hang daar blou skooltasse uit die dak. Dit roep Billie Holiday se “Strange Fruit” by my op. In die donker beligting lyk dit as’t ware nes klein lyfies wat aan galgtoue hang.
Die klankbaan bestaan uit songs soos die polities gelaaide “Weeping” van Bright Blue as ’n soort temalied en dan weer liedjies soos A.P. Carter se “When I’m Gone” wat nes Rauch se lied deur die akteurs gesing word.
Wie call die shots? is ‘n aanklag teen wapen-misbruik, misdaad en die tekort aan beskerming van ons kjeeners. Dis ‘n rouklag uit die mond van die suigeling. By tye voel dit of die stuk Russian roulette met die kyker speel en ’n mens voel of jy wil koes.
Maar hierdie drama vra dat jy die geweer reguit in die gesig moet kyk. En luister. Teenwoordig moet wees. Moet saamvoel. Moet besef. Ophou rugdraai, want as ons as ’n land nie nou gaan begin luister na onse kjeeners nie, dan gaan die wind hulle een-een kom wegwaai.
Wie call die shots?
4 OKT 15:30 | 5 OKT 14:00
kykNET Idasvallei Primêr
R150-R220 | R180-R250 by die deur




