SPIER TONEEL: FRINGE

Op soek na die pad uit die sirkels

Produksie: Ons is nog hier
Skrywer: Maliza Adendorff
Foto’s: Verskaf

Aanvanklik weet die gehoor nie hoe en waarom die trio hulle hier bevind nie. Jy wonder ook wat jou rol in die storie is, veral as die spelers die gehoor vra om belangrike stukke te help soek wat die prentjie kan voltooi.

Simone (Franka Kirby), Layla (Adri-Jo Waterboer) en Shanice (Cara Rossouw) se eerste “een, twee, drie, vier” push-ups, hulle voetjie-voor-voetjie-balanseer op die bedraam, high knees tot by die hopscotch, en die terugrol in die push-up-posisie sal selfs die sterkste gestel moeg maak. Dit beklemtoon nie net die drie se ingeperktheid nie, maar ook hoe uitputtend dit is om te probeer sin maak van hoe hulle in die situasie beland het én hoe hulle weer daaruit gaan kom.

Aanvanklik weet die gehoor nie hoe en waarom die trio hulle hier bevind nie. Jy wonder ook wat jou rol in die storie is, veral as die spelers die gehoor vra om belangrike stukke te help soek wat die prentjie kan voltooi. Dit is asof die storie die spelers dryf eerder as andersom. Die gehoor snap wel die drie is nie regtig in beheer nie en dat iets groters aan die gang is. Dit voel of selfs jy deur iemand bekyk word wat elke beweging dophou.

As jou verhaal in ’n donker vertrek afspeel, gaan lig een van jou karakters wees – of dit nou fisiek deur die slim gebruik van beligting is, of dalk ’n karakter is wat die regte vrae op die regte tyd vra. In die donker vertel elke “lig” ’n storie. Hier help die beligting om jou aandag te fokus: Groen LED’s dui die binnelyne van die vertrek aan, rooi word gebruik vir iemand wat jou dophou, en wit vir ventilasie – en die waarheid.

Ons is nog hier is een van vyf produksies wat vir die NATi Jong Sterre-projek gekeur is en raak temas aan soos hoop, wanhoop, geslagsgeweld, trauma, familie, toestemming en triggers. Om as gehoorlid te hoor dat “nee” steeds “nee” beteken, selfs wanneer jy bang is, of dat háár stilgemaakte liggaam steeds aan háár behoort, moet jou oë op die een of ander manier oopmaak – vir jouself, jou huismaat, ’n drawwer of die 16-jarige wat haarself vir die huwelik hou. En as dit jou soos ’n hou in die maag tref, dan vat jy dit “soos ’n man”, want meisiekinders vat genoeg.

Elke beweging en stemtoon is presies waar dit hoort, maar kom tog natuurlik oor – met egte vrees en egte wanhoop wat die gehoor duidelik saam met die akteurs ervaar, amper soos ’n muis wat in ’n hok na ’n slang staar.

Wat die stuk so treffend maak, veral met die ontknoping, is dat ons almal ’n baasspelerige Shanice ken of ’n Simone wat in haar vrye tyd honger magies kos gee. Die toneelspel deur al drie akteurs is eg en outentiek. Elke beweging en stemtoon is presies waar dit hoort, maar kom tog natuurlik oor – met egte vrees en egte wanhoop wat die gehoor duidelik saam met die akteurs ervaar, amper soos ’n muis wat in ’n hok na ’n slang staar. Die dialoog is spitsvondig en kol-kol regtig snaaks totdat jy agterkom dat jy al hoe meer angstig lag. 

Die stuk nooi jou uit om narratiewe te ondersoek waarvan jy self deel is, of die speletjies waarvan jy deel word of jy nou wil of nie, en stories wat aan jou vertel word om jou aandag van die waarheid af te trek. Ons is ook nog hier. Ons soek ook ’n pad uit – en as jy nie die pad soek nie, is jy dalk die een wat die mure bou.

Ons is nog hier
5 OKT 17:30 | 10 OKT 17:00
HMS Bloemhof Skoolsaal
R120 | R150 by die deur
Geen o.14 (T)

Facebook
Twitter
LinkedIn