SPIER TONEEL
‘Moffie’: ’n aanklag teen wreedaardigheid
Produksie: Moffie
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Verskaf
David Viviers moet in die solostuk Moffie nie net sy eie karakter, Nicholas van der Swart, aan die gehoor oordra nie, maar ook die kompleksiteit van die vele karakters met wie Nicholas in die loop van sy lewe te doen kry en die hele omgewing wat daarmee saamkom. Hy skep ’n volronde karakter en laat die gehoor as’t ware alles deur die lens van sy eie ervaring beleef. Meer kan ’n mens nie vra nie, meen Marina Griebenow.
Rowe, blougatte, browns, balsakke, PT, varkpan, terrs, PB’s, 2,4 km met ’n R4, boots en battle jacket, staaldak, Buffels, Koevoet, blou koeverte met Oshivelo-stempels en gesensorde briewe, naweekpas, korporaals, sammajoors, ’n bed wat gesquare is, inspeksie, opfokke, JL’s in Oudtshoorn en Bloemfontein, Esmé Euvrard, Sondagversoeke, civviestraat, troepe wat bossies is en dekking slaan as hulle harde geluide hoor, Bedfords, step-outs, sissies, rooinekke, die grens, Swapo, Savimbi se manne en spoorsnyers.
Dis woorde wat nie net ’n hele bestaan oproep nie, maar daarmee saam ook ’n ideologie wat sy pond vleis geëis het – letterlik. Die lys is nog lank en die gevoelens wat dit opwek ambivalent, want dit was enersyds so bekend en alledaags en andersyds so ’n vernietigende aanklag teen ’n regering wat ’n kommunis agter elke bos gesien het en boonop wit bevoorregting ten koste van die lewe van duisende jong mans wou bewaar. Die Bosoorlog was brutaal, wreed, onverskoonbaar, en die prys daarvoor te hoog.
Hierdie lys woorde dek egter nie die stiltes nie, die alomteenwoordige donker waaroor niemand gepraat het nie – en eintlik steeds nie oor praat nie – maar wat uiteindelik buite die weermag uiting gevind het in nagmerries, woedebuie en geweld, moeilike sosialisering, drank- en dwelmverslawing, onverdraagsaamheid teenoor wat anders is en ’n verromantisering van en nostalgie oor die dienspligjare as die tyd toe seuns manne geword en lewenslange vriendskappe aangeknoop het. Dit is moeilik om te glo dat vriendskappe wat op gedeelde trauma gegrond is, werklik blywend kan wees.
Die publikasie van André Carl van der Merwe se boek Moffie, gegrond op dagboekinskrywings gedurende sy tyd in die weermag en daarna, het aanvanklik ’n frisson veroorsaak, maar genadiglik word die sluier effens gelig met ’n spesifieke fokus op die ervarings van ’n gay soldaat, Nicholas van der Swart (David Viviers), wat in 1981 opgeroep word vir sy diensplig van twee jaar. Onthou, terwyl hy in die weermag altyd ’n teiken vir diskriminasie sou wees en die potensiële slagoffer van onverpoosde en ongebreidelde geweld, was homoseksualiteit in daardie tyd steeds ’n strafregtelike oortreding. Die oplossing was gevolglik om nooit daaroor te praat nie, met ander woorde vir die gay soldaat is daar ’n addisionele vlak van trauma.
In Philip Rademeyer se hande word André Carl van der Merwe se roman ’n kleinood op die verhoog wat terselfdertyd intiem genoeg is om die komplekse gevoelens en menseverhoudings van ’n gay jong man in daardie milieu te verwoord sowel as om die enorme materiële onkoste en geografiese omvang van die Bosoorlog in jou verbeelding oor te dra.
In sy programnota besing die regisseur, Greg Karvellas, die lof van Philip Rademeyer wat die boek vir die verhoog verwerk het. Dis verstaanbaar. Ek is al lank ’n lojale bewonderaar van al Philip se werk. Hy skryf meesterlik en die reikwydte van sy emosionele intelligensie, empatie en dapperheid is bewonderenswaardig. Verder is sy vroeëre dramas The View en Ashes juis hartverskeurende toonbeelde van sy insig in die soms noodlottige gevolge van gay-diskriminasie.
In Philip se hande word André Carl se roman ’n kleinood op die verhoog wat terselfdertyd intiem genoeg is om die komplekse gevoelens en menseverhoudings van ’n gay jong man in daardie milieu te verwoord sowel as om die enorme materiële onkoste en geografiese omvang van die Bosoorlog in jou verbeelding oor te dra.
Die teks word briljant gesteun deur die ander kreatiewe medewerkers, waaronder Niall Griffin met sy minimalistiese en hoogs intelligente stel- en kostuumontwerp. Jy stap in en op die verhoog lê daar ’n hoop opgestopte balsakke met kolligte daaragter. Die gebied op en om die balsakke word dan die hele leefwêreld wat in die stuk uitgebeeld word. Charl-Johan Lingenfelder is weer sy briljante self met ’n klankbaan so treffend dat jy voel of jy alles eerstehands saam met Nicholas ervaar terwyl jou hart in jou keel klop. Kieran McGregor se atmosferiese beligtingsontwerp komplementeer die stel en die gebeure perfek. Daarsonder sou jy nie voel asof jy ook jou arms in die lug moet gooi of dekking moet slaan om ’n aanval van gevegshelikopters af te weer of saam met Nicholas jou oë skrefies trek om in die halflig en stof uit te maak wat aangaan nie.
Greg, wat deesdae in Duitsland woon, was lank die inwonende regisseur by die ou Fugardteater en het gevolglik heelwat belangwekkende produksies op sy kerfstok. Sy vaardigheid lê in die fyn kuns om ’n span visionêre kreatiewe medewerkers byeen te bring en die bydraes wat hulle met sy leiding ontwikkel, dan in ’n formidabele eindproduk saam te voeg. Met Moffie doen hy dit weer en verdien beslis ’n klop op die skouer van Eric Abraham en die Common Humanity Arts Trust wat die produksie vervaardig.
Mag die lesse wat Moffie ons leer net vermenigvuldig tot onverdraagsaamheid en diskriminasie uiteindelik ’n ding van die verlede is.
’n Mens bêre altyd die lekkerste vir laaste. In dié geval is dit David in die rol van Nicholas. Ek het die sonderlinge voorreg om David sedert sy studentedae te ken toe hy vreesbevange ’n Afrikaanse rol in Die buffel van Tsjechof onder die knie moes kry toe hy nog nie regtig Afrikaans gepraat het nie.
Dit is ook nie verbasend dat David ’n bekroonde skrywer is nie, want ’n groot deel van sy talent lê opgesluit in sy vermoë om ’n teks te deurpriem, die laaste moontlike betekenis daaruit te tap en dit dan aan ’n gehoor oor te dra met panache en oortuiging. Om dié rede skitter hy in Shakespeare-rolle, soos Antonio en Stephano in The Tempest by Maynardville se opelugteater in 2025 en weer as die melankoliese hofnar Feste in Twelfth Night vanjaar. Sy flair vir komedie (’n mens kan jou doodlag vir hom) weerhou hom nie daarvan om hoogs dramatiese rolle ewe bedrewe te vertolk nie.
Sy verantwoordelikheid in Moffie as ’n solostuk van 90 minute lê daarin dat hy nie net sy eie karakter aan ’n gehoor moet oordra nie, maar ook die kompleksiteit en persoonlikhede van die vele karakters met wie Nicholas in die loop van sy lewe te doen kry – om nie eens te praat van die hele omgewing wat daarmee saamgaan nie. Dit strek van sy kinderdae tot waar hy as jong man sy diensplig doen. Dit is ’n formidabele taak, maar te danke aan David se meesterlike spel voel dit asof jy elkeen van daardie karakters ken, goed en sleg. Jy raak saam met hom gefrustreerd met sy pa, rou saam met hom oor die dood van sy geliefde boetie en die selfdood van ’n weermagvriend, hou saam met hom asem op by die aanskoue van die pragtige nekspiere van die man wat later nie net die aandag van sy oë eis nie maar ook sy hart, ervaar sy vrees dat hy as gay ontmasker gaan word en die ontsettende gevolge sal moet dra, voel sy futiele woede teen die stelsel wat alles insluk en uitspoeg en dan weer die ontsettende uitputting wanneer die wêreld by tye net te veel word. David skep ’n volronde karakter en laat die gehoor as’t ware alles deur die lens van sy eie ervaring beleef. Meer kan ’n mens nie vra nie.
Dit is my oortuiging dat David eendag die mantel sal dra as een van ons land se grootste akteurs. Die tekens is almal daar en ek is bly ek kan sy werk op sy reis daarheen ervaar.
Wat Moffie betref: Dit is verblydend dat gay mense sedertdien minstens grondwetlike beskerming ontvang het, maar in te veel plekke ter wêreld bestaan die gevaar tans dat die regte wat gewen is, omgekeer kan word. Mag dit nooit hier gebeur nie en mag die lesse wat Moffie ons leer net vermenigvuldig tot onverdraagsaamheid en diskriminasie uiteindelik ’n ding van die verlede is.
Daar is nog vele stories oor die Bosoorlog en verpligte diensplig wat vertel moet word sodat die verlede beter verstaan kan word. Die verhoog is een van die beste plekke daarvoor. Soos in Bloed & Bodem van Marina Albertyn, Seun van Dana Snyman, Kanarie van Christiaan Olwagen en ’n handjievol ander.
Moffie
6 OKT 18:00 | 10 OKT 20:00 | 11 OKT 10:00
Adam Small-ouditorium
R210-R350 | R240-R380 by die deur
Geen o.14 (V, T, G)




