EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

Dié jong digter draai nie doekies om nie

Produksie: Hoogste bome
Deur: Zandri van Greunen
Foto’s: Verskaf

Vir Pieter Krog is gedigte nie net iets wat op papier staan nie, maar iets wat uit sy mond uit kom. Met twee projekte op Spotify agter sy naam, werk dié jong digter nou aan ’n nuwe digbundel wat hy nie sommer met handskoene wil aanpak nie.

“Dis só vreemd. Dis eintlik out of this world,” sê Pieter Krog laggend toe ek hom vra hoe dit was om sy gedigte tydens Hoogste bome vir die eerste keer by die Toyota Stellenbosch Woordfees voor te lees. Pieter, oftewel “Pieter Gedigte”, soos die ouens buite Aandklas hom noem en sy Instagram-gebruikersnaam lui, se gedigte tingel gereeld deur die blare van die bome in Victoriastraat.

Sy verse se enjambement word soms gebreek as hy moet aandag gee aan sy graad in Menslike Hulpbronbestuur hier op Stellenbosch, maar tussendeur die studies het hy ook vanjaar sy eerste digbundel, Sonneblom na blou, in die vorm van vyf digalbums op Spotify vrygestel. Kort daarna verskyn sy tweede kreatiewe werk, Regte wêreld, as ’n tipe podsending op dieselfde platform.

Dié twee digalbums is ’n mengelmoes van musiek, stemopnames en natuurlik Pieter se skryfwerk wat hy saam met ander eendersdenkende, kreatiewe vriende opgeneem het.

Gedigte was nog altyd vir my iets wat uit my mond uit kom. Dit was nooit iets wat ek kan sit en met die pen skryf of só op die foon sien nie.

“Ek dink die eerste keer wat ek ’n gedig geskryf het, was in graad twee,” sê hy en frons effe. Sy pa, Willem Krog, het vir hom baie gedigte voorgelees omdat disleksie op ’n jong ouderdom by hom gediagnoseer is. “Gedigte was nog altyd vir my iets wat uit my mond uit kom. Dit was nooit iets wat ek kan sit en met die pen skryf of só op die foon sien nie,” vertel hy.

Toe ek hom vra met watter skryfwerk hy homself deesdae besig hou, vertel hy dat hy tans aan ’n nuwe digbundel oor Afrikanerskap beitel. Vir jong mense soos ons is dit soms tricky om die moeilike verlede van Suid-Afrika klein te kry, maar ook die feit dat Afrikaans gebruik is om nie-wit Suid-Afrikaners te onderdruk. Dié is natuurlik ’n bielie van ’n tema vir enige digter om aan te pak, maar hy hou die mense wat in die Khaya-kafee kloek, koel en kalm dop terwyl hy antwoord: “Ek het net half besef in myself dat ek nie Afrikanerskap kan ontsnap nie en dis iets waarin ek myself moet tuismaak. Die digbundel waaraan ek nou werk, is daai proses van myself daarin tuismaak om gemaklik te voel om te sê ek is ’n Afrikaner.

“Ek voel daar is nog steeds baie spasies waar Afrikaans nie hande vashou nie, net oor ongemak. Baie digters probeer óm dit skryf, maar ek dink dis so nodig om daaroor te praat, al voel jy ‘Jis, ek kan eintlik nie dit sê nie’, maar om dit net te sê,” vertel hy. Hy noem digters soos Ryan Pedro, onder andere, wat vir hom ’n vars blik  gegee het op sy eie kultuur.

Hy skuif rond in sy stoel en vertel hoe sommige digters vir jong digters soos hy indirek sal aanmoedig om juis nie oor hierdie kwessies te skryf nie, maar om eerder oor moderne issues – soos kapitalisme – sy versreëls te slyp. Pieter laat my egter mooi verstaan dat hy nie hier is om versigtig te wees nie, maar om te probeer ’n gesprek tussen verskillende mense deur sy skryfkuns aan te hits.

Hierdie ingesteldheid kom na vore in Pieter se digkuns waar hy in Sonneblom na blou fokus op die ervarings van sy interne wêreld nadat hy op ’n road trip met sy beste vriend gegaan het, maar dan in Regte wêreld dinge in die samelewing sien wat aan hom karring.

Hoewel hy soms vrae kry oor sy van, sien hy nie die mense binne sy familie anders nie en lag selfs toe hy vertel hoe hy eers in graad sewe besef het dat sy tannie Antjie Krog boeke skryf.

Ons begin toe weer oor sy skryfwerk praat en hoe moeilik dit soms kan wees om te weet na wie se kritiek om te luister. “Jy gaan die kritiek kry en ek dink jy moet by baie mense kritiek vra, alhoewel jy weet jy gaan nie noodwendig daarmee saamstem nie, maar om in die eerste plek daaraan gewoond te raak dat jou werk gekritiseer gaan woord,” sê hy en bieg dat dit vir hom ’n rukkie gevat het om nie emosioneel daaroor te word nie, veral as dit daai persoonlike gedigte is.

Ek voel daar is nog steeds baie spasies waar Afrikaans nie hande vashou nie, net oor ongemak. Baie digters probeer óm dit skryf, maar ek dink dis so nodig om daaroor te praat, al voel jy ‘Jis, ek kan eintlik nie dit sê nie’, maar om dit net te sê.

’n Kelnerin is met ’n seer hart op soek na die eienaar van bestelling 59 en ek besluit om vir Pieter te terg oor hoe baie gedigte hy weekliks op Instagram deel terwyl hy alles anders juggle. “Mens skryf derduisende gedigte wat dieselfde is,” sê hy en vee sy hand oor die tafelblad. Om dié tameletjie te oorkom, het hy vir homself ’n streng skryfskedule geskep. In plaas van reekse kyk of slaap, skryf hy tot die voëltjies begin sing en gaan dit dan die volgende dag met vars oë (of so vars soos hulle kan wees ná ’n deurnagdigsessie) na.

Die gesprek eindig, die kelnerin het die eienaar van bestelling 59 uitgesnuffel – ’n oom met sy sonbril wat vir lewe en dood aan die punt van sy neus klou, terwyl hy met ’n bier in die hand sit en nulle-en-kruise speel met die sonkolle wat oor die sement dans – en feesgangers drom buite die Khaya saam vir die volgende item.

Terwyl ek by Ryneveldstraat afstap, dink ek: Goddank vir jong mense soos Pieter wat nie skroom om moeilike dinge oop te dig nie.

Pieter Krog se digalbums is op Spotify beskikbaar.

Facebook
Twitter
LinkedIn