SPIER TONEEL

Uys en tannie Evita: Die pasmaats wat nooit ontmoet het nie

Produksie: Weerklink van ’n wanklank en Evita@91
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Stefan Els

As ’n mens nie van beter geweet het nie, sou jy dink dis een mens met ’n ongelooflike skerp humorsin en gevatheid. Maar nee, die twee sal waarskynlik nooit ontmoet nie, want hulle beweeg in absoluut verskillende wêrelde. Uys die kunstenaar en tannie Evita die politieke rainmaker.

Dit is immers danksy haar ingryping dat staatspresidente gekies is, sy wat vertrou is om ’n brief aan Nelson Mandela op Robbeneiland te gaan oorhandig.

Jete, sy het selfs die gordyne vir die president se amptelike woning in Kaapstad gemaak.

Saterdag, op die voorlaaste dag van die Toyota Stellenbosch Woordfees, het hulle wêrelde vir ’n klein ruk naby mekaar beweeg, Uys met ’n vertoning van Weerklink van ’n wanklank, en later die dag Evita@91.

Uys se vertoning, waar hy die gehoor op ’n reis deur sy loopbaan geneem het, begin nostalgies, met Pietertjie wat sy eerste eisteddfod doen. Sy grootste wens is om ’n langbroek te kan dra, maar sy pa skop vas. Hy weet hoekom, vertel Pietertjie. Dis omdat sy pa bang is sy stem gaan dan breek en dan kan hy nie meer daai hoë note haal nie.

Hy is nie hartseer gespaar nie, en later sou Uys die stukke moes optel nadat sy ma haar eie lewe geneem het. Sy verhouding met sy pa was goed en sleg, maar uiteindelik was dit een waar hulle mekaar gevind het. Uys het later die versorger geraak toe sy pa op sy siekbed beland.

Terug by tannie Evita, wat nie skaam is oor haar rol in die bevryding van Suid-Afrika nie. O nee, sy het darem vir Pik (Botha), FW (de Klerk) en die lot mooi beduie, hoor! Maar met die nuwe bestel het sy besef sy moet dinge bietjie anders doen, en ná Mandela moes sy Thabo Mbeki eers goed bekyk en ontrafel.

Die grande dame het op 91 nog niks van haar sprankel en skerp sin vir humor verloor nie. Politici word steeds nie ontsien nie, en met die vertoning het jare se fyn waarneming gesorg vir blinkgespoelde diamante wat aan die gehoor uitgedeel is.

Dan eindig sy met: “Mense vra my hoekom ek aan die ANC behoort. Wel, sê ek, ek doen dit vir my kleinkinders, en vir julle almal se kleinkinders.”

Uys groet met ’n parmantige swiep van rooi lipstiffie op sy lippe. Tannie Evita, wel, sy skud alle oordadigheid af en staan fier en regop in die kras lig van die verhoog.

Weerklink van ’n wanklank en Evita@91 is eenmalig op 10 Oktober by die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied.

Facebook
Twitter
LinkedIn