SPIER TONEEL

Wanneer ’n toneelstuk voel of dit jóú storie is

Produksie: ge-gebergtes
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Jaco Marais

Teater moet uitdaag en vir jou ’n venster op die wêreld bied. Maar soms slaan dit jou so hard slaan dat dit voel of iemand vir wie jy lief is, self op die verhoog is. Dis presies wat Ilza Roggeband by ge-gebergtes ervaar het.

Die knop in my keel wil nie sak nie. Ek stap kar toe en sit my sonbril op. Al wat ek eintlik wil doen, is om langs die rivier te gaan sit en huil.

Dis Sondagoggend en ek het pas ge-gebergtes gesien. Dis nie net die professor se storie nie. Dis my ma se storie ook. Sy is op 5 Desember 1931 gebore en met haar volgende verjaardag sal sy 95 wees.

Toneel 1 – Overture vir solo stem: verootmoediging

Op 90 is die wêreld klein, prioriteite anders. Moenie val nie.
Dink jou pille. Moenie ná 13:00 rooivleis eet nie.

Los die deur snags oop dat hulle kan kom kyk of jy asemhaal in jou klein enklave van voorstedelike versorging.

Onthou jou pins en passwords.

In die jaar 2026. Met oorlogswolke wat saampak. Stommerike aan die stuur. En jy wat waad deur die wêreld wat jy nie meer verstaan nie.

My ma woon nog op haar eie in ’n aftreeoord. Soggens net ná nege bring hulle haar oggendpille en saans om en by halfagt die aandpille. In die oggend word Die Burger by haar voordeur gelos. In die vrieskas is bakkies kos wat ek vir haar kook en in die yskas is daar jogurt, sap en brood. Ons moes ’n paar maande gelede die soetgoed begin rantsoeneer, want haar soettand en ouderdom het ophou saam speel. Net een pak koekies. Net ’n paar suiglekkers in die kleipotjie wat my oorlede pa gemaak het. Wanneer ons vir haar sjokolade vat, is dit ’n kleintjie.

Die helder oomblikke is helder, maar so nou en dan raak dinge uit fokus. “My ma en my boetie is so goed vir my,” sê sy onlangs vir haar buurvrou. Haar ma en haar boetie is ek en my 24-jarige seun, Zac.

Die carers wat my ma se medikasie bring en kom as sy die noodknoppie druk, noem haar tannie of ouma of mevrou. Hulle name is Natalie en Zizi en Miché. “Why don’t you move your mother to the clinic?” vra een. “Don’t move your mother to the clinic. We will look after her here,” sê die ander een. “Nee, mevrou is nooit moeilik nie,” sê nog een, maar ek weet sy jok.

Toneel 2 – Die koor van carers
Ons is die koor van carers
Ons is die koor van carers
Ons is die koor van carers
Ons is die koor van carers

Ons sorg, ons swoeg, versag
Die koor van carers ooh-hoo
Die koor van carers ooh-hoo

Die las van besige families

Verlig ons ooh-hoo
Gewetes van afwesige kinders

Sus ons.

Ons is die koor van carers
Ons word – soos bloed.
Kyk mooi, asof ons eie.
Ooh – hoo

Die koor van carers
Ooh – hoo
Ons kam,
borsel,
trek aan.

Ons is die koor van carers
Ons is die koor van carers
Ons is die koor van carers
Ons is die koor van carers

Die carers wat my ma se medikasie bring en kom as sy die noodknoppie druk, noem haar tannie of ouma of mevrou. Hulle name is Natalie en Zizi en Miché. “Why don’t you move your mother to the clinic?” vra een. “Don’t move your mother to the clinic. We will look after her here,” sê die ander een. “Nee, mevrou is nooit moeilik nie,” sê nog een, maar ek weet sy jok.

Ek en Zac gaan kyk na die kamer in die kliniek. Dis klein in vergelyking met my ma se ruim eenslaapkamer-eenheid met die aparte badkamer, kombuis en sitkamer. Die bed waarop sy in haar eie plek slaap, is dieselfde dubbelbed waarop sy en my pa geslaap het. Van hout gemaak en stewig.

In die kamer in die kliniek is ’n enkelbed. Daar is ’n bedkassie en ’n smal dubbeldeurkas vir klere. Daar is drie etes per dag – aandete is vieruur die middag – en sorg al om die klok. Dit kos R30 000 per maand.

WOORDFEES: - GE-GEBERGTES - Met Carel Trichardt, Daneel van der Walt, Jayden Dickson, Ntombi Makhutshi, Miché van Wyk.

Toneel 4 – Probleme wat nie regtig is nie

Versorger: Party dae wil ek my goed vat en loop. Vir R8 000 ’n maand só getreat word? Ek is beter as dit. Maar waar sal ek gaan, met my Okiep-matriek? Dan was ek maar my swart hart met Sunlightseep. En smile, en doen my werk.

Almal is darem nie so nie. Van hulle kyk jou in die oë. Hulle sê asseblief en dankie. En bedoel dit. Hulle kan partykeer nie onthou wat hulle eie naam is nie, maar hulle onthou joune. Hulle roep jou, soos ’n kind in die nag. Jou hand is hulle ankerpaal, jy hou hulle in hierdie wêreld. Iemand om aan te raak. As hulle mense ver en weg is.

Die medikasie wat my ma kry, word verpak sodat elke oggend en elke aand se pille vir een week in sy eie hokkie is. Hulle noem dit ’n blister pack. My ma is op die hoogste moontlike plan by haar siekefonds. Dit kos meer as R17 000 per maand. Elke maand wil die apteek net nog ’n druppel uitwurg en stuur hulle ’n rekening vir R403,57. Dit maak my so befok dat ek ’n bottel spuitverf wil vat en in groot groen letters voor hulle kantore wil gaan spuit: Julle gulsige bliksems!

Ek weet R30 000 vir ’n smal bedjie en aandete om vier is vir die meeste buite bereik. Ek weet dit. Wat doen ander mense? Wie moet sorg? Hóé moet ’n mens sorg? Hoekom voel dit soms vir my of bejaardes uitgebuit word?

Toneel 8 – Ek het nie gedink ek gaan hartseer wees nie

Suster: As ek kon kies, sou ek net nagskof werk. My kinders is nou groot, die mense hier is makliker in die nag. Die meeste van hulle slaap maar net. Ek gaan in die kamers in. Ek luister. Ek luister hoe hulle asemhaal. Party snork ’n bietjie. Partykeer is dit stil, hoor jy niks, die skouers gaan nie op en af nie. Maar hulle lewe. Sonder lug in hulle longe.

As hulle nie kan nie slaap nie, vra hulle vir pille. Van hulle kan nie self toilet toe gaan, roep my om te kom help. Van hulle roep my nie, en val dan, of hulle kan nie weer hulle bed kry nie. Druk die panic button. Van hulle word honger. So 11 o’clock se kant, wil hulle iets hê om te eet.

Elke twee ure stap ek om. Kyk ek vir die slapende mense. Hulle is almal wit. Wit hare, wit velle. Bleek soos spoke onder die flitslig.

Niemand berei jou voor op die versorging van ’n bejaarde ouer nie. Niemand nie. Ek wil nie kla nie en ek weet ons is bevoorreg dat my pa gesorg het. Ek weet daar is mense wat nie so gelukkig is nie. Ek weet R30 000 vir ’n smal bedjie en aandete om vier is vir die meeste buite bereik. Ek weet dit. Wat doen ander mense? Wie moet sorg? Hóé moet ’n mens sorg? Hoekom voel dit soms vir my of bejaardes uitgebuit word?

My ma wil nie skuif na “die oumense” toe nie. Sy wil in haar eie plek bly. Ek weet ons gaan meer sorg moet kry om daar na haar te kyk. Ek praat met my susters. Ons wil net die beste vir my ma hê. Zac, my ma se gunsteling-mens in die hele wêreld, sê hy gaan volgende week vir Ouma nuwe gordyne opsit.

Ek moet haar elke keer herinner om nie die sleutels in die deur te los wanneer sy sluit nie. “Ons kan nie van buite in as die sleutels aan die binnekant in die slot is nie,” sê ek. “Ja, ek sal onthou,” sê sy. Soms onthou sy.

“ ’n Mens moenie so oud word nie,” sê my ma die ander dag. “Ek wil nie ’n las wees nie,” sê sy.

“Moenie so baie kos bring nie,” sê sy, kind van die groot Depressie en een wêreldoorlog wat nog nooit in haar lewe vermors het nie.

“Ek weet nie wat ek sonder julle sou doen nie,” sê sy vir ons.

“Is daar nie iets soets nie?” vra sy.

“’n Mens moenie so oud word nie,” sê sy weer en weer.

Dankie aan Saartjie Botha vir die gebruik van grepe uit haar teks van ge-gebergtes. Die speelvak by die Toyota Stellenbosch Woordfees is reeds verby, maar dit sal hopelik weer op die planke wees.

Facebook
Twitter
LinkedIn