SPIER TONEEL
Afrikaans is die pa wat gaan seep koop
Produksie: Boerlesque
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Verskaf
Welkom, dames en here, femme kweens, soft bois, non-binary butterflies en studs.
Hierrie is Afrikaans se amptelike (belated) birthday paartie. Die ou girl is nou al oor die muur. ’n Hele honderd jaar oud. So, los maar die briefies, blomme en geskenke. Hier wil ons die ou heilige koei onner vier oë spreek. Maar moet tog nie dink dis ’n droewige affêre nie, asseblief! Dis tog ’n paartie after all. Skop jou skoene uit en maak jou gemaklik, want Boerlesque is ’n show wat jou van begin tot einde ’n pap tyd gaan gee.
Die moeder van die huis, noem haar sommer Tannie (Roland du Preez), is ’n Karen-argetipe of sorts. Lyk of Tannie die blonde bob van Bambi Kellermann, Evita Bezuidenhout se controversial sussie, afgesteel het. Verder kan jy haar deur ’n ring trek. Hakies, satynbloes en pêrels. Al klik-klakkend skel sy haar twee dogters, Sussa (Dawn Fischer) en Meisie (Celeste Loots), om die huis reg te trek vir die groot makietie.
Sussa, met haar onnerdanigheid en voorliefde vir ’n quirky truitjie, probeer hard om vir Tannie te beïndruk. Sy vee uit, maak bed op en dra gediggies soos ’n skouperd voor. Meisie aan die annerkant het weer nie ooghare vir die all of a sudden se gevreetkoop met Afrikaans nie. Sy wil Ingels sing, onder die rok in vloek, bikini’s dra en Italiaanse ouens pomp. Sy wil al die Afrikaanse ordentlikheid wat in haar keelgat afgedruk is, uitspoeg.
Maar die matriargale Tannie gaan eers ’n goeie fight opsit. Nie onder haar dak nie. Sy span sommer ’n Steve Hofmeyr-treffer ook in om haar saak te stel.
Tannie het egter ’n weakness soos alle anti-heroes. Die vertoonkas, ook genoem sideboard, vol Royal Alberts en porseleinbreekgoed. Ironies dan dat dit die woord breek in het. En soos dinge maar gaan met teater waar goed in die oomblik gebeur, soms buite ’n mens se bereik, tuimel ’n spul borde en koppies vêr te vroeg uit die kas uit. Die gehoor snak na hul asem. Die niggies en nefies begin kraai van die lag, ene senuwees, wanneer ’n mens mos op jou lekkerste xhou (skater).
Maar toe wys die span waarvan hulle gemaak is en improviseer al om die insident en kap aan, want soos die Godin van Teater êrens gexhorro het, sekerlik met ’n glasie MCC in die hand, the show must go on!
Tannie het egter ’n weakness soos alle anti-heroes. Die vertoonkas, ook genoem sideboard, vol Royal Alberts en porseleinbreekgoed. Ironies dan dat dit die woord breek in het.
En het hulle nou vir jou ’n show opgesit.
Toe begin speel hulle sommer nog sterker. Skielik kry die kabaret vol parodie ’n dieper draai wanneer die twee sussies hul Tannie oor hul pa konfronteer. Die een wat gaan seep koop het. Die ensemble weet hoe om ’n stuk te laat asemhaal. Met komiese tydsberekening asook met ernstiger, realer tonele.
Die karakters ondergaan ook verwisselinge waar elkeen met hul waarheid gekonfronteer word, tot kerkmuis Sussa trek los en sê:
Ons het gesteel van Maleisië, van Indonesië, van
die KhoiKhoi en die coloureds en die Xhosa en die Moslems totdat dit
alles op ons hopie lê en ons kon sê “kyk na ons magtige kultuur” soos ’n
bleek, geurlose, wit Frankenstein gestik uit die dooie, afgekapte ledemate
van mindere kulture. En na al die moeite en al die diefstal, is Afrikaans nog
steeds so wit en smaaklos soos melkkos.
Snotklappe en klapsoene word saam uitgedeel. Du Preez het ’n skerpsinnige teks beet, een wat knyp en byt, maar mens ook lat voel.
Snotklappe en klapsoene word saam uitgedeel. Du Preez het ’n skerpsinnige teks beet, een wat knyp en byt, maar mens ook lat voel. Kwessies soos politieke korrektheid, onteiening, vroulikheid en kultuur word met pittige satire aangevat en soms met surprisingly teer en eerlike moments, soos wanneer Tannie en Sussa saam nostalgies raak oor kleintyd-memories.
Als aan’t wag vir Afrikaans of vir Pappa om te kom kuier. Die digter en skrywer Gaireyah Fredericks vang iets hiervan vas wanneer sy in haar gedig “Suid Afrika!” uit haar bundel Vernacular skryf:
Suid Afrika word nie op die hoek van my straat
op die dak van my hut of in die oopblou hemelruim
gevind nie, maar ge-nes in die mikke van my
belewenisse en groei uit die jeugdige wortel van my
toekoms, want my komvandaan bly geanker
In my gees en in my moedertong…
Fischer se Sussa was ’n hoogtepunt. Sy weet hoe om hart in komedie te sit. Nee kyk, as daai vrou eers met haar groot bruin oë en rasperstem begin bieg uit plekke baie dieper as wat ons sien in meeste komedie, dan is jy hooked. Sy laat jou as kyker veilig voel. Seker maar daai girl wat na ’n mens kyk by ’n deurmekaar patsy/party.
En dit is nogal so ’n jol die.
Loots is weer so kalm soos ’n psalm. Die emo-girl met die vuil bek. Sy ground die meeste tonele waarin sy is sonder om ooit die materiaal te swaar aan te pak. Loots pas goed in haar rol en vat haar tyd met komiese oomblikke wat gelei het tot oopbek gelag uit die gehoor.
En die trio kan sing dat dit bars, dit harmoniseer lat dit goed gaan. Nogal nie sommer hierjy-kabaret nie. Onder die regisseur, Bianca Flanders, se leiding is die drie spelers in tip-top shape, grounded én perfect getime met hulle komedie.
Behalwe vir Hofmeyer word daar ook gek geskeer met o.a. Die Antwoord en eer gebring aan Johannes Kerkorrel en die groep Florence + The Machine, Chappell Roan en Paris Paloma. Die liedjies word gedraai en gevleg of uitmekaargetrek.
Afrikaans, wat meer kan ons vir mekaar sê.
Jy weet hoe ek oor jou voel. Jy is die tong van my drome, maar ook die doring in my kies. Daar spook nog kleintjies in skoolklere van 1976 wat jou naam fluister. Dan weer kids wat skaam voel oor die klank van hulle harte nie klink soos die standaard wat in skole as kurrikulum koning kraai nie.
Tog is jy myne.
Ons s’n.
Boerlesque
9 OKT 17:00
Drostdy-teater
R180-R250 | R210-R280 by die deur




