WOW

Bekende skrywers WOW leerders

Onderhoud: WOW Skrywersgesprekke: Graad 8-10
Deur: Zandri van Greunen
Foto’s: Zandri van Greunen

Die skrywers François Bloemhof en Celeste Loriston het hoërskoolleerders as deel van WOW se skrywersgesprekke daaraan herinner dat groot stories dikwels in jou eie leefwêreld en in jou eie taal begin, skryf Zandri van Greunen.

Al het Heléne de Clerq die skrywers François Bloemhof en Celeste Loriston aan die groep hoërskoolleerders voorgestel as “glansganse” (celebrities), het die twee skrywers soos doodgewone mense hulle passie vir die letterkunde met die stampvol US Biblioteek-ouditorium gedeel.

Die gesprek was deel van die Woorde Open Wêrelde (WOW)-inisiatief wat daarop gemik is om ’n belangstelling in taal, letterkunde en die kunste in skole en gemeenskappe aan te wakker. Jonathan Ball-uitgewers en die ATKV het hande gevat met WOW vir dié geleentheid.

Heléne het met François gesels oor die verskeidenheid kreatiewe projekte waarmee hy besig is. “Idees kom maar net in my kop op,” het François vertel.

 ‘Om te skryf om volwassenes te beïndruk gaan nie suksesvol wees nie,’ het François Bloemhof gesê en die leerders aangemoedig om eerder stories vanuit hulle eie leefwêreld en in húlle taal te vertel.

Leerders het hom veral gepeper met vrae oor sy boek Een keer om die son, wat gegrond is op die gewilde TV-reeks. Het hy die TV-reeks gekyk? Het hy seker gemaak die karakterbeskrywings pas by hoe die akteurs lyk?

François het elke vraag geduldig beantwoord en hier en daar selfs ’n grappie ingewerk, veral toe een van die onderwysers sê sy is geskok oor hy nog só goed lyk omdat sy “die Bloemhof-boekies al van skool af onthou”. Hierop het François skertsend geantwoord: “So jou eintlike vraag is hoe ek nog lewe?”

Toe Heléne vra wie almal in die gehoor eendag skrywers wil word, het ’n paar skaam siele dit gewaag om hulle hand op te steek. François het nuttige raad met hulle gedeel: “Om te skryf om volwassenes te beïndruk gaan nie suksesvol wees nie.” Hy het die leerders aangemoedig om eerder stories vanuit hulle eie leefwêreld en in húlle taal te vertel.

Hy het verder vertel skrywers moet altyd ’n “compromise” met hulle stories aangaan. “Dit moet ’n kruising wees tussen dít wat jy graag wil vertel en dít wat jy dink mense graag sal wil lees.”

Daarna was dit Celeste Loriston se beurt om te gesels oor die nuutste boek uit haar pen, Staan op vir die Six, wat aanvanklik ’n suksesvolle toneelstuk was wat sy vir haar skool geskryf het.

Dié boek is ’n soort Romeo-en-Juliet-storie wat afspeel in ’n bendegesteisterde gebied wat as die Six bekend is. Astrid is die hoofkarakter wat opstaan teen die bendegeweld deur die #bendesmustfall-veldtog te loods.

‘Jy móét ’n droom hê wat jy najaag, maak nie saak hoe dit gaan by die gemeenskap, huis of skool nie,’ het die skrywer Celeste Loriston gesê.

Party mense kan dalk krities wees oor ’n wit, middeljarige vrou wat ’n boek oor bendegeweld skryf, maar volgens Celeste is die verhaal gegrond op wat sy self by die kinders gehoor het in die twintig jaar wat sy skoolgehou het.

Sy het gedeeltes uit verskillende hoofstukke van die boek voorgelees wat die leerders geweldig geniet het, maar ook ernstig gesels: “Jy móét ’n droom hê wat jy najaag, maak nie saak hoe dit gaan by die gemeenskap, huis of skool nie,” het sy gesê.

Albei skrywers het vertel hoe die wêreld waarin jong mense hulleself bevind, gedurig aan die verander is. Dit is waar die uitdaging vir jeugboekskrywers lê. Celeste het tong in die kies vertel hoe haar dogter haar daarop gewys het dat Facebook ‘nie eintlik meer ’n ding is nie”.

Ná die gesprek het leerders met meer as net ’n groter liefde vir die letterkunde by die US Biblioteek-ouditorium uitgestap. Hulle het ook uitgestap met die wete dat elkeen hulle eie “kaboem” moet vind, soos Celeste dit noem. “Dit hoef nie groot te wees nie, solank dit net vir jóú gelukkig maak.”

Facebook
Twitter
LinkedIn