RESENSIE
Moenie moan nie, doen iets!
deur Jo-Ann Floris
Produksie: PEN-Afrikaanslesing: Wat beteken mediavryheid vandag?
Foto’s: Carolyn Meads en Verskaf
Om binne hoorafstand van jou gehoor te wees, hinder én help ’n joernalis.
Dit is, verduidelik die veteraan-joernalis Max du Preez omdat die joernalis dan vasgevang word om te skryf net wat die teikengehoor wil (of dink hulle wil) hoor. Dit beteken ook daar word nie diep genoeg gekrap en gevra nie.
Maar dit beteken ook daardie leser se wêreld word nooit verruim nie. Hulle grense word nooit verder en verder geskuif nie. Inteendeel, hulle eie wêreld raak kleiner en benoud en angstig.
Hy het Dinsdag by die Toyota US Woordfees op Stellenbosch ’n uitdaging gestel ter wille van goeie, onafhanklike en dapper joernalistiek – dink buite jou dampkring!
“Daar is die ding van confirmation bias. Soms is dit taal, soms omgewing. Maar dit lei die soort stories wat gedoen word, en die standpunte waaroor geskryf word.”
Dit bring sy gesprek terug na “binne hoorafstand van jou leser bly” ’n doelbewuste versuim wat hom al meer as een keer sy werk gekos het.
“Dit is wat redakteurs destyds gesê het: Bly binne hoorafstand van jou leser, moenie hulle wegstoot nie.” Maar dit kan tog nie net gaan oor wat hulle wil hoor nie, maar ook oor wat hulle behoort te weet. “Joernaliste moet aktiviste wees vir ’n ingeligte samelewing. Ons is nie die chirurge nie, ons is daai dokter in die trauma-afdeling van ’n hospitaal.”
Bedoelende as daar ’n probleem is, gryp in, en vinnig.
Dis ook hoe Vrye Weekblad ontstaan het. Du Preez was deel van die sogenaamde Dakar Safari in 1987, waar ‘n groep prominente Afrikaner-meningsvormers met die ANC in, onder meer, Dakar ontmoet het om die water te toets vir uiteindelike demokrasie.
Dit is hierheen waar nuus uit Suid-Afrika aan hulle gestuur is – negatiewe berigte in die Afrikaanse pers oor wat hulle dink onderhandelinge was.
Dit is ook hier waar die saadjie van ’n vrye pers in Afrikaans geplant was.
“Oom Bey (Beyers Naudé, kerkman en onbeskaamde anti-apartheidsaktivis) het altyd reguit gepraat. En eendag sit ons so buite en ons kry hope negatiewe nuus. Ek sê hoe dit my frustreer. “Hy antwoord: ‘Moenie moan nie, doen iets daaraan’.”
Du Preez het met sy koerant Vrye Weekblad baie van die swere oopgesteek. Vlakplaas (die veiligheidspolisie se standplaas vanwaar hulle onder meer aktiviste gemartel het), die Burgerlike Samewerkingsburo (wat niks meer as die apartheidsregering se doodsengel was nie), ander vergrype van die regering.
Dit was nodig om daai tyd dapper te wees as joernalis – en buite hoorafstand van die lesers van Afrikaanse media en die regering te beweeg – anders sou daardie soort stories nooit die lig gesien het nie. In soverre dat joernaliste stories soos hierdie moet oopvlek, is daar ook ’n ander, broodnodige rol: Om Suid-Afrikaners te laat besef ’n korrupte regering is nie sy land se mense nie.
“Dit het niks te doen met sonskyn-joernalistiek nie. Dit het alles te doen met lesers bewus maak van die krag en energie van mense en organisasies wat elk op hulle eie manier verandering help bewerkstellig.
“Die land is nie ’n hopelose plek omdat die regering sleg is nie. Al hierdie nuwe stemme en inisiatiewe verrys. Suid-Afrika het die vryste media op die kontinent – ons moet daai voorreg gebruik.Ons moet ons lesers vertel van die magte, kragte en energie in die land. As ons ons werk goed doen, sal die gemoed in die land nie so swartgallig wees nie.”
En om dit te doen, herinner Du Preez, moet jy gereeld buite hoorafstand van jou lesers beweeg, om te gaan hoor en kom oorvertel wat hulle nie self sou hoor nie.