BOEKGESPREK
Gay pionier steeds ‘helder ligsuil’ 28 jaar ná sy dood
Jan-Jan Joubert
Koos Prinsloo oor begeerte en slagting
Oude Leeskamer
Koos Prinsloo is op baie vlakke die baanbreker van robuuste gay-letterkunde in Afrikaans en bly vir baie mense die voorste eksponent daarvan. Byna dertig jaar ná sy vroeë afsterwe in ’n tyd toe MIV-vigs ’n doodsvonnis was, het Gerrit Olivier Prinsloo se skryfwerk uiteindelik ook in Engels toeganklik gemaak deur dit te vertaal in die pasverskene teks Koos Prinsloo: Place of slaughter and other stories. Charl-Johan Lingenfelder het hom uitgevra.
Allereers: Wat ’n voorreg vir die gehoor om blootgestel te word aan die taalbeheersing en vakkennis van die twee gespreksgenote. Ekself het die gelyke daarvan nog nooit beleef nie. Daarom dan ook ’n belydenis: Hoewel ’n mens deurgaans geboeid kon volg en by die gedagtegang kon bly, kan ’n mens in ’n verslag soos dié nie aan daardie taalbeheersing en vakmanskap reg laat geskied nie. Iemand moes ’n video gemaak het.
Dus, vir die rekord, enkele fragmentariese hoogtepunte. Eerstens, Olivier, voormalige departementshoof van Afrikaans aan Wits en later dekaan van lettere daar, se opmerking dat Prinsloo se werk telkens in opstand is teen manlike mag, net om hartverskeurend omgekeer te word in die verhaal oor sy telefoongesprek met sy pa. Dit vat Prinsloo se werk bondig saam.
Ja, daardie mense was wie hulle was, maar dit het nie gegaan oor wie hulle was nie, want in die verhalende opset was hulle mos nie wie en wat hulle was nie.
Tweedens, Prinsloo se opstand teen die wyse waarop die gay-belewingswêreld oor geslagte heen deur voorgangerskrywers soos Hennie Aucamp, Ernst van Heerden en I.D. du Plessis alte esteties en versuiker verwoord is. Gaywees gaan tog maar in ’n groot mate om die lyflike en om wellus, weliswaar in verskillende grade van voorkeur en wildheid. Daaroor was Prinsloo, so weet ons, voorwaar nie beskroomd nie, maar ’n pionier.
’n Eie kantaantekening: Prinsloo se kritiek op Aucamp vind amusant weerklank in Herman Lategan se onlangs gepubliseerde outobiografiese vertelling Hoerkind waarin hy by geleentheid waarneem hoe Aucamp ’n baie rowwe manlike prostituut, op die oog af ’n pas vrygelate tronkvoël, suksesvol benader en wegvoer van die Seepuntse promenade, net om die onwaarskynlike tweemanskap enkele ure later uit die Labia-teater in Oranjestraat te sien kom waar hulle pas ’n Sweedse kunsrolprent gekyk het. Lategan wonder tereg wat Aucamp se metgesel daarvan moes dink.
’n Derde hoogtepunt uit Olivier en Lingenfelder se gesprek: Prinsloo se veelbewoë en veelbesproke “geskryfdes”. Olivier het die punt duidelik gemaak dat Prinsloo se letterkunde daardie destydse bedompige geskinder oor wie nou eintlik wie was – watter regte mense as karakters in sy kortverhale herkenbaar was – oorleef en oortref het. Ja, daardie mense was wie hulle was, maar dit het nie gegaan oor wie hulle was nie, want in die verhalende opset was hulle mos nie wie en wat hulle was nie. Hulle was meer, want hulle was karakters en nie mense nie. Kuns is tog suiwerder, sterker getregter, as alledaagse belewing en werklikheid – dit put daaruit, maar transendeer dit dan. Dit is tydloos en waar dit ruimtelik gewortel is, is dit nie ruimtelik gebonde nie.
Vierdens was Olivier en Lingenfelder se gesprek ’n verduideliking van en ’n ode aan Prinsloo se dapperheid. In ’n tyd van oordeel, gevaar en liefdelose hardvogtigheid waarna sommige van ons mense tans ál dolerend wil terugkeer, het Koos Prinsloo homself blootgestel soos min mense ooit sal. Hy het die prys daarvoor betaal op baie vlakke. Maar 28 jaar ná sy dood wys hierdie vertalingswerk opnuut Koos Prinsloo se letterkunde staan verwond, maar onoorwonne as ’n helder ligsuil in ons taal en in die wêreldletterkunde.