RESENSIE

Niemand op aarde doen dit soos hy nie

Susan Booyens
Gert Vlok Nel
The Daisy Jones Bar

Dis ’n gryserige Donderdagmiddag en ’n skraal windjie waai van die wingerd af deur die Daisy Jones Bar waar ’n lojale skare met drankies in die hand vir die man van die dag wag.

Op die kop eenuur stap die enigmatiese Gert Vlok Nel kitaar in die hand en bekfluitjie om die nek skamerig saam met Schalk Joubert tussen ons deur na die verhoog. Daar’s ’n skerm regs waar sy lirieke in Nederlands wys, met ’n paar kunsfoto’s van sy ou vriend Willem Mulder, ook hier om die geleentheid te verewig.

Dis immers nie elke dag dat Gertjie Beaufort-Wes verlaat nie. En ander mense kan sy liedjies sing, ja, maar niemand op aarde doen dit soos hy nie.

Hy streel sy akoestiese kitaar se snare en val dan sonder seremonie weg met “Nijmegen deur my trane”, sy stem onmiskenbaar maar nog effe stram, die woorde en Schalk se baskitaar hartverskeurend mooi. Die beeld van die papierbootjie talm lank nadat die note wegsterf.

Gert verwelkom ons dankbaar en sê hy’t maande laas aan ’n kitaar geraak – “seker gepraat ook”, voeg hy droog by. En dis dan ook die laaste wat hy tussenin gesels, want hy weet almal is hier vir die liedjies. Hy ryg hulle in soos verflenterde gebedevlaggies wat wapper aan ’n draad: “Soos ’n trein riding into rain”, “Tuesday”, “Beautiful in Beaufort-Wes”, “Koos”, “Timotei”, “Mr Bean se laaste happy scene”, “My Broken Souvenirs” en “For Those In Peril On The Sea (of For The Lovely Young)”.

En dan is die uur verby en dit voel of ons saam met Gert weg was op ’n lang, lang reis en niemand is lus om van die trein af te klim nie. Gert bedank almal wat daar was en Saartjie Botha by naam. Daar is ’n hartlike omhelsing tussen hom en Schalk, sy vriend wat so gemaklik en verruklik saam met hom baskitaar speel dis of hulle ’n hartkamer deel. Vandag se weergawe van “Koos” was transendenteel.

Ek huiwer nog ’n wyle om vir Gert te vra of hy later vir Nardus Engelbrecht sal poseer vir ’n feeskoerantfoto, maar hy wys dit hoflik van die hand, ook die aanbod van ’n lift dorp toe. Sê weer hy’t lanklaas gepraat. Hy waai toe ek wegry van die plaas, sigaret in die hand.

Daar is ’n hartlike omhelsing tussen hom en Schalk, sy vriend wat so gemaklik en verruklik saam met hom baskitaar speel dis of hulle ’n hartkamer deel.

Frases uit sy songs maal in my gedagtes en ek verbeel my ’n vliegtuig skryf die woorde teen die nou minder grou lug, voor die wind dit wegvee. 

  “Die dood, beautiful en blou…”

  “Op die ou end sal dié tipe cliché ons inhaal en ons sal in ons eie woorde val…”

  “Sonneblomme kom aaklig om…”

  “Tintin in Tibet is die enigste boek waarin Tintin ooit gehuil het…”

  “…en skielik was jy vry…”

  “Koebaai Koos, koebaai…”

  “Gertjie… Rhyming with lonely…”

  • Gert Vlok Nel se laaste vertoning is op 14 Oktober om 19:00 by The Daisy Jones Bar. Ouerbegeleiding. Bespreek by Webtickets
Facebook
Twitter
LinkedIn