BOEKGESPREK

De Ruyter: ‘Die kriminaliteit is selfs groter’

deur Jo-Ann Floris
EasyEquities Skrywersfees: Truth to Power: My three years inside Eskom
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Tot agt maande gelede het André de Ruyter nie veel gehad om oor te glimlag nie. Hy het ’n aanslag op sy lewe oorleef toe hy vergiftig is, en vakbonde en politici het sy kop geëis.

By die Toyota US Woordfees gesels die voormalige uitvoerende hoof van Eskom met ons uit Amerika en elke nou en dan verskyn ’n breë glimlag op sy gesig.

Wat hom laat glimlag, is dat sy openbaarmaking van die misdaadsindikate en ongebreidelde korrupsie en diefstal by Eskom, waaroor hy in die moeilikheid by die politieke base beland het, selfs groter is as wat hy in sy boek Truth to Power: My three years inside Eskom beskryf.

Die ander ding wat hom laat glimlag: Dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aan die voorpunt staan van die ondersoeke, en nie die dikwels polities gelaaide Valke of polisie nie. 

Dan natuurlik ook as hy praat oor die nuwe rigting wat sy beroepslewe ingeslaan het: Hy en sy gesin bevind hulle in Connecticut in die VSA, waar hy aan Yale Universiteit oor openbare beleid met betrekking tot groen krag en die oorgang van tradisionele kragopwekkingsmetodes, asook befondsingmodelle daarvoor, klasgee.

Hy het Saterdag uit Amerika ingeskakel vir die gesprek met Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, prof. Malegapuru Makgoba, ’n voormalige Eskom-voorsitter en Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings. Die gesprek in die EasyEquities Skrywersfees in die Boektent by die Toyota US Woordfees is gelei deur die politieke ontleder en dosent  in politieke studies en internasionale betrekkinge, dr. Piet Croucamp.

“Wat nou op die lappe kom,” sê De Ruyter in antwoord op Croucamp se vraag of hy goed teruggehou het in die boek, “maak dit duidelik die kriminaliteit en korrupsie by Eskom is selfs groter as wat ek in die boek beskryf.”

Hy bevestig ook sy vorige stellings dat Eskom in sy huidige vorm nie volhoubaar is nie.

“Een groot probleem is dat Nersa, wat die tariewe bepaal, so agter is met aanpassings dat indien hy nou die prys van elektrisiteit sou aanpas na waar dit behoort te wees, die skok vir die ekonomie te groot gaan wees. Die koste om kragopwekkingskapasiteit te vervang, is groot – en ons kragstasies is verouderd en word nie onderhou nie. Daar is regtig nie meer ’n opsie nie – Eskom moet ontbondel word en die verskillende eenhede moet die ruimte kry om onafhanklik te groei.”

As voorstaander van groen energie, of alternatiewe vorme van kragopwekking, staan hy vas.

“Windplase, krag op dakke (sonpanele). Wat son en wind produseer, moet aan die kragnetwerk gekoppel word, maar die regering staan steeds in die pad daarvan. Ons beweeg nie vinnig genoeg, of met oortuiging nie.”

Hermann sluit hierby aan.

Hy beskryf die verlammende kragsituasie in die land as ’n “vernietigende geleentheid”.

“Die Kusile-kragstasie wat teen R200 miljard deur die regering gebou is, wek gemiddeld sowat 4 700 megawatt op. Tans wek krag op dakke gemiddeld 5 000 megawatt op. Suid-Afrikaners het dus in minder as ’n jaar reggekry om die miljarde wat deur die regering gespander is, se kapasititeit verby te steek.”

Croucamp het De Ruyter aangevat oor die besluit om George Fivaz, voormalige polisiekommissaris, se maatskappy te gebruik om die forensiese ondersoek na misdaad binne Eskom te doen. Hy wou weet of dit nie beter sou wees om ’n minder “polities sensitiewe” maatskappy aan te stel nie.

Die besluit is in omstredenheid gedompel veral na ’n ondersoekende storie deur Jacques Pauw oor minstens een lid van die ondersoekspan wat verbind is met politieke moorde in die apartheidsera.

Tog staan De Ruyter by sy besluit.

“Ek het heeltemal binne die wet opgetree. Minister Pravin Gordhan (minister van openbare ondernemings) is ingelig, en hy het saamgestem ons moet meer inligting en data versamel. Nie ’n enkele sent van Eskom-geld is spandeer om die ondersoek te befonds nie.”

Hy erken egter die onthullende stuk het die befondser in so ’n mate afgeskrik dat die finansiering vir die ondersoek gestaak is.

Vir Makgoba is privatisering nie die oplossing nie. Maar dan moet Eskom dit vinnig  regkry om politiek en bestuur te skei. “Want daar is twee groot probleme by Eskom. Een is politieke inmenging, die ander is regulering, bestuur. Aan wie rapporteer hulle nou eintlik? Op die oomblik is dit Gordhan, Gwede Mantashe (minerale), Barbara Creecy (omgewing), die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge. Dit kan mos nie werk nie. Dan, die meeste rade se lede word nie op meriete aangestel nie, maar deur politieke geknoei. Ons sit met te veel gekke, wat min verstaan van beleid.”

“Nou, meer as ooit vantevore besef ons hoe broodnodig ons sterk, etiese leierskap het,” sê hy.

Die laaste woord gaan aan De Ruyter.

“Ons moet begin om verby die dinamiek (tussen belanghebbendes) te kyk en die hulp vat wat ons kry. As jou huis brand en jou buurman bied sy tuinslang aan, gaan jy nie eers vra of die tuinslang groen of blou is nie. Jy gaan dit gryp en jou huis red.”

  • Titel: Truth to Power: My three years inside Eskom
    Deur: André de Ruyter
    Uitgewer: Penguin Random House South Africa
    Gesprek was op 14 Oktober 2023 
Facebook
Twitter
LinkedIn