BOEKGESPREK
Wanneer geweld en liefde lepellê
deur Nadine Petrick
EasyEquities Skrywersfees: Onder ’n bloedrooi hemel
Foto’s: Pierre Rommelaere
“Dit was die swaarste paar maande van my lewe.” Dis waarskynlik nie ’n oordrywing nie. Annemarie van Niekerk, die skrywer van die opspraakwekkende Onder ’n bloedrooi hemel, maak haar eerste openbare verskyning nadat sy twee maande en twee weke gelede ’n beroerte gekry het tydens ’n gesprek met Azille Coetzee by SASNEV. Die oploop daartoe was ’n harde maand op die pad; die een boekbekendstelling na die ander, oor hierdie boek met die moeilike inhoud. Dit wat sy wou uitskryf, moes sy oor en weer konfronteer. The nature of the beast, en toe byt die hond.
“Ek is nie op volle kapasiteit nie, wees my dus genadig,” skerts Annemarie met Lindie Koorts as sensitiewe gespreksleier. Almal wat kom luister, is waarskynlik dieper geraak as wat sy sou kon raai en die pleidooi is oorbodig.
Op 15 Augustus 2015 vertrek Annemarie terug na Nederland, na ’n vakansie in Frankryk. Sy was besig om haar koffer uit te pak, toe biep haar foon. Met ’n kort, kriptiese boodskap wat laat weet: Ruben Gouws en sy ma is vermoor. Sy het haar koffer weer gepak en is dadelik lughawe toe om hierdie ding te konfronteer. Sy moes ’n vraag vir haarself kom beantwoord: Waar kom die verskriklike geweld in Suid-Afrika vandaan? Skielik is ’n plaasmoord ’n realiteit wat jy aan jou eie liggaam voel, en daar is die saadjie vir die boek geplant.
Onder ’n bloedrooi hemel word beskou as faksie, soos Truman Capote se In cold blood. Feite en fiksie word verweef tot ’n narratief waar genres vloeibaar is; waar dialoog ingespan word om kleintyd-herinneringe en geskiedkundige feite oor te dra, al is die gesprekke natuurlik nie absoluut korrek nie.
Sy kom uit ’n gesin waar die alledaagsheid gelaai was met rassisme, vertel sy, en as kind kan jy helaas nie wyer dink nie. “Swart mense is minderwaardig. Swart mense is nie heeltemal mens nie. Swart mense is net goed genoeg om te werk.” Dit alles onder die wakende oog van Hendrik Verwoerd; want sy portret het in die huis gehang. Al die leuens word deel van jou fabric totdat jy self begin vrae vra.
Die groter tema in die boek is die ongemaklike verweefdheid van geweld en liefde. Hoe sy as kind, as rebel, gereeld pakslae gekry het en dan haar pa ’n drukkie moes gee met die belofte dat sy “dit nooit weer sal doen nie.” Daar was ’n immerteenwoordige verwarring oor die liefde wat seermaak. So ook in die kerk. So ook in die skool.
Dié gloeiende ongemak, die verweefdheid van liefde en geweld vind later neerslag in haar verhouding met Denzil, ’n swart man. Die verhouding vind plaas net voor die demokratiese politieke oorgang – hulle albei kampvegters vir die saak. Gemoedere het hoog geloop en geweld het ingetree. “Ek het dit weggepraat as historiese aggressie.” Geweld teen vroue, want dis hoe dit is.
Aan die ander kant van die munt is die verhouding ’n steen des aanstoots tuis – haar pa het aanhoudend briewe geskryf om haar te bekeer van haar verhouding met die swart gevaar. Woorde wat seermaak,’n aanslag op papier. Geweld, altyd maar teenwoordig in ons gemoed.
Die verhouding en die nadraai het haar selfvertroue vernietig, in depressie laat verval. Sy het swaar getrek. Wie was sy nou eintlik? En ook, skokkend, hoeveel geweld word in jou eie naam gepleeg? Want kom ons wees eerlik – daar is ’n historiese skuldlas wat op ons almal se skouers rus. Ons is gebore in die stelsel; ons het baat gevind by die stelsel en as ons eerlik moet wees, baat die volgende én volgende generasies steeds. Die gevolge van apartheid, of ons daai realiteit in die oë wil staar al dan nie, is nog nie verby nie. Die voordele bly; die nadele ook.
Hoewel die boek worstel met kwessies wat ons almal ten diepste raak, is die hemel nie nét rooi gevlek nie. Daar skyn ook mooi. Daar is die finale bewustheid dat ons nie die geskiedenis kan wegvat of herskryf nie, maar ons kan in ons direkte omgewing goeie goed doen. Ons kan ’n verskil maak. Hoewel ons almal sukkel met generational trauma, is daar immer die kapasiteit vir goedheid.
Skuld, mag, aandadigheid en keuse. Alles woorde wat deur die gesprek resoneer. Ruben Gouws en sy ma is vermoor. Derduisende ander mense ook.
Kom ons wees mekáár genadig.
- Titel: Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: ’n Memoir
Deur: Annemarié van Niekerk
Uitgewer: Tafelberg