RESENSIE

Strykkwartet voer mee met klankreise

deur Willem Bester
Produksie: The Dante String Quartet: Points of Origin
Foto’s: Verskaf

Die bekroonde Dante-strykkwartet word as een van die voorste ensembles in die VK beskou. Van die vier spelers is twee Suid-Afrikaners – die “beter helfte”, het Zoë Beyers (eerste viool), volgens programnotas en die webwerf, tong ferm in die kies geskerts. Sy is ’n Stellenbosse boorling en deesdae onder meer die konsertmeester van die BBC Filharmoniese Orkes. Ian Watson (tweede viool) het onder Suzanne Martens aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer voordat hy sy studies in Skotland voortgesit het. Die ander helfte van die ensemble is dan Carol Ella (altviool) en Richard Jenkinson (tjello).

Volgens Albert Combrink se gedetailleerde programnotas – beskikbaar by Inside-the-Concert-with-Albert-Combrink-Dante-Quartet.pdf – is die instrumentkonfigurasie van die strykkwartet “ ’n lakmoestoets… een van die grootste uitdagings” vir enige komponis. Vrydagaand se uitvoering was inderdaad ’n kragtoer van epiese proporsies.

Die program het geopen met Haydn se Strykkwartet in B-mol majeur (“Sonsopkoms”), op. 76, nr. 4, ’n relatiewe laat werk uit die meester se oeuvre, met ’n meer simfoniese begrip as sy vroeëre kwartette. Met sy omvangryke klank het die ensemble goed vertoon, van die delikate adagio tot die indrukwekkende finale.

Volgende was twee Amerikaanse komponiste aan die beurt. George Walker (1922 – 2018) was die eerste swart komponis wat in 1996 die Pulitzer-prys vir Musiek vir sy werk Lilacs ontvang het. Dit is egter die Lyric for Strings – aanvanklik die tweede beweging van sy eerste strykkwartet, later uitgebrei en deesdae selfstandig uitgevoer – wat aangebied is. Dis aantreklike werk in die Amerikaans elegiese skool – dink Copland, en natuurlik, Barber – en is sielvol uitgevoer.

Caroline Shaw (1982 – ), nog ’n Pulitzer-wenner, se Plan & Elevation: The Grounds of Dumbarton Oaks (2015) was net voor pouse op die program. Geïnspireer deur die fisieke ruimtes van Harvard se Dumbarton Oaks-instituut buite Washington, DC, en met titels soos “The Ellipse” en “The Cutting Garden” vir die vyf bewegings, is daar ’n besliste argitektoniese onderbou aan die musiek. ’n Mens het tog gevoel dit kon nie heeltemal kers vashou by die res van die program nie. Dit het niks met die uitvoering daarvan te make nie; dit is eerder die komposisie wat ’n bietjie na effekbejag voorkom.

Oor Beethoven se Strykkwartet Nr. 7 in F-majeur, op. 59, nr. 1, gekomponeer in opdrag van die Russiese graaf Razumovsky, had een kritikus van die tyd die volgende te sê, aldus die programnotas: “Die konsepsie is diepgaande en die konstruksie uitstekend, maar hulle word nie maklik begryp nie.” Vandag is dié natuurlik ’n standaardwerk in die repertoire, maar steeds van simfoniese strekking, en dit was ’n indrukwekkende vertolking deur die kwartet. Van die sprankelende allegro tot die verruklike adagio het die dinamiese omvang van die groep veral opgeval. Die musici het hulle ooglopend geniet in die “Thème russe”.

Die konsert is afgesluit met ’n toegif wat oor twee kontinente gestrek het. Carol Ella is ’n bedrewe verwerker en het iets spesiaals voorberei: ’n Skotse reel gevolg deur “Qongqothwane”, die bekende Xhosa click song, wat tradisioneel goeie geluk wil oordra. Daar was dus baie voetestamp op die verhoog, ’n ekstra lekkerny aan die einde van ’n marathon-uitvoering.

 




Facebook
Twitter
LinkedIn