RESENSIE
Die roekeloosheid van Joni
deur Nadine Petrick
Produksie: Reckless daughter: Joni Mitchell
Foto’s: Desmond Painter
Dis reeds ’n instelling dié – Danie, Kerneels en Desmond. Elke jaar by die Woordfees kry ’n mens kans om te induldge in drie van die grootste musiek-nerds (vergewe my, kêrels) in die land, se uitgebreide kennis oor ’n spesifieke musikant. Springsteen, Paul Simon, Dylan… maar waar is die vroue?, wonder jy. Gelukkig het hulle hierdie jaar self tot inkeer gekom.
Hierdie jaar gesels Marais, Breytenbach en Painter oor Mitchell. Joni Mitchell. “Baie taai teef,” skerts Lise Swart uit die musiekhoekie. Sy moes wees om in ’n totaal manlike georiënteerde wêreld te oorleef, vind mens deur die gesprek uit. Soos gewoonlik word die narratief deur liedere en video clips ondersteun, en hierdie slag sit Schalk Joubert, Lise Swart, Andries Bezuidenhout en die Lätti-egpaar, Riku en Jackie, reg om te vertolk. Ook, soos elke jaar (ek dink al dis bietjie aspris!), sukkel Danie met sy PowerPoints. Maak nie saak nie, dis die uur en ’n half tydens die jaarlikse Woordfees waartydens ’n mens maar net kan terugsit en luister en ongetwyfeld heelwat meer ingelig aan die anderkant uitstap.
Ons begin in 1970 waar sy “Both sides now” geskryf het, werk deur tot by ’n lewensveranderende aneurisme (drie pakkies sigarette ’n dag het sy tol geëis) in 2015 wat haar in haar spore gestuit het, tot by 2022 waar sy ’n verbysterende roerende vertolking van die einste “Both sides now” by die Newport Folk Festival gelewer het. Sittend, natuurlik, met ’n snikkende Brandi Carlisle wat waghou.
Ons hoor ook van haar liefdeskind waarmee sy later herenig is, haar vurige verhouding met Leonard Cohen (wat haar beskuldig het dat sy van sy beste reëls gesteel het), haar ewige kompetisie met Bob Dylan en al die musikale invloede in haar lewe. Met Rachmaninoff as ’n sterk invloed is dit g’n wonder dat sy haarself as ’n cut above haar manlike eweknieë van daai era beskou het nie.
’n Heerlike toevoeging tot die jaar se band is Schalk Joubert, nie net een van ons land se vernaamste bass players nie, maar ook ’n ongelooflike groot aanhanger van Jaco Pastorius. Laasgenoemde was ’n geniale, vernuwende baskitaarspeler wat ook Joni Mitchell se musiek destyds na ander vlakke ge-elevate het. Joubert verduidelik en illustreer sommer terstond die gebruik van die sogenaamde sus chords, oftewel suspended chords, wat Mitchell so graag gebruik het. ’n Terloopse musieklessie, so tussendeur.
Die band sing deurlopend van Mitchell se grootste treffers – “Big yellow taxi”, “A case of you” en “No regrets coyote”. Die oorwegend ouer gehoor geniet hulleself gate uit, en sings selfs hier en daar saam. Laat die honde huil!
Al waaroor ’n mens nou wonder, is watter vrouesanger hulle volgende jaar gaan kies om oor te praat? No pressure, boys!