BOEKGESPREK
Elise se pad van seun tot vrou vol kinkels, sonskyn en skadu
Jan-Jan Joubert
Twee Lewens
Boektent
Elise Bishop was 23 jaar oud voordat sy mens geword het, want dit was toe, in die middel van die jare sewentig, dat sy ’n geslagsveranderingsoperasie ondergaan en biologies die vrou geword het wat sy altyd was.
Haar gesprek by die Woordfees met Elmari Rautenbach was ’n hoogtepunt vir die ongeveer dertig mense wat in die Boektent teen die onplesierige weer kom skuil het.
Bishop is, sover bekend, die derde mens in Suid-Afrika op wie ’n geslagsverandering uitgevoer is, en sy is vanjaar sewentig jaar oud. Haar lewensverhaal is vol kinkels, met sonskyn en skadu in wisselende maat. Sy is geseënd met die puntenerige geheue vir detail wat van haar ’n puik bankamptenaar gemaak het, ’n vonkelende vertelstyl en ’n bruisende sin vir humor.
Elise is in 1952 op Graaff-Reinet gebore as Pierre Bishop. Haar ouers het hulle seuntjie genoem na die Springbok-skrumskakel Pierre de Villiers, want hulle het gehoop hy word ’n puik rugbyspeler. Maar hy het nie.
Eendag het hy vir hom vroueklere gaan koop by Truworths en Foschini, en twee blokke straataf gestap (in De Aar, in die 1970’s!) met geen mens wat hom as man geëien het nie.
Pierre het van kleins af met ’n fyn stemmetjie gepraat, ’n handsak gedra, blomme gerangskik en klere vir sy pop gestik. Op Graaff-Reinet was hy – so vertel Elise – ’n rariteit. Sy oupa het gedink hy sal maar vir Pierre ’n rok koop dat hy tog om vadersnaam uit sy fase kan kom, maar toe dra Pierre die rok pal. Toe vat die oupa die rok, sny dit stukkend en verbrand dit in die kaggel. Pierre het lank daaroor gehuil.
Ná sy diensplig het Pierre sy loopbaan begin op De Aar, waar hy met drie ouer vroue bevriend geraak het. Eendag het hy vir hom vroueklere gaan koop by Truworths en Foschini, en twee blokke straataf gestap (in De Aar, in die 1970’s!) met geen mens wat hom as man geëien het nie. Hy het ’n psigiater gaan spreek en is as transseksueel na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gestuur vir ’n operasie om van geslag te verander.
Dit het toe nooit in Kaapstad gebeur nie, maar wel, nadat hy weer verhuis het, in Pretoria. Dit was nadat hy vir Sophia Meyer onmoet het – een van twee mense wat voor hom ’n geslagsverandering ondergaan het. Dit is ’n bittersoet verhaal hoe hy die teater binnegestoot word “en vir oulaas die lunsriem vasgryp om darem tot siens te sê”.
Ten slotte het Bishop ’n wenk gehad vir gay aktiviste, naamlik om minder aggressief te wees in die strewe na sukses…
Bishop huiwer nie om haar operasie te beskryf in die besonderhede waaroor almal wonder nie. ’n Onverwagse situasie is dat sy op mediese voorskrif aanvanklik drie keer per week seks moes hê om te keer dat enige vernuwing toegroei – ’n vereiste wat nougeset nagevolg is.
Met verdrag het sy ’n man (met kinders) ontmoet, en ’n troudatum is vasgestel, maar toe verongeluk hy vier dae voor hulle voor die kansel sou staan. Sy is later wel getroud, en dit was ’n verhaal op sigself. Sy kom Stellenbosch toe en ’n verhouding met ’n vrou ontstaan. Dit lei tot ’n sielestryd, want Elise wonder of sy dan alles neem uit die verlede, en niks behou nie. Berusting volg as sy besef haar geliefde is juis lesbies, en bemin haar dus spesifiek omdat sy volkome vrou is.
Die gehoor was geboeid, meelewend, geamuseerd en aangedaan. Ten slotte het Bishop ’n wenk gehad vir gay aktiviste, naamlik om minder aggressief te wees in die strewe na sukses – raad wat vele reënboogstryders straks gerus ter harte kan neem.