RESENSIE

Puik Afrikaanse musiek met 'n gotiese hoed

Jennifer Pape
Die heks van Hexriviervallei
Drostdy-teater
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Met die eerste oogopslag herinner Marcia Moon aan 4 Non Blondes se Linda Perry met haar hoed en kitaar en super cool vibes. Daar is selfs klanke en ritmes wat my laat terugdink aan die 90’s se alternatiewe musiek, maar Marcia se liedjies is egter uniek Afrikaans. Sy speel al kitaar van jongs af en skryf nog altyd haar eie liedjies.

Marcia sê sy vind veral inspirasie in ou Afrika- en Afrikaanse mites en legendes soos die spookstories van Langenhoven. Sy het die lirieke van Die heks van Hexriviervallei geskryf nadat sy daarvan te hore gekom het op ’n besoek aan die vallei. Dis die tragiese storie van ene Elise Savoye in die 17de eeu, wie se aanstaande vir haar ’n disablom in die berg moes gaan haal en toe van die kranse neergestort het. En so handel ook baie van haar eie lirieke oor tragedie en die liefde.

Die heks van die Hexriviervallei as opvoering het sterk gotiese elemente met die keuse van liedjies soos “Tussen die berge”, “Aardwolf in my tuin”, en “Die heks van Hexriviervallei. Verse wat sy tussen die liedjies opvoer, word amper gefluister. Daar is selfs ’n “spook” wat deur die donker teater beweeg. Mens sien haar nou en dan uit die hoek van jou oog. Ek het half verwag dat die verhoog een of ander tyd in mis oortrek gaan word.

Die musiek sluit twee cover-liedjies in, Laurika Rauch se “Toemaar die donker man” (Ingrid Jonker) en Clarabelle van Niekerk se “Ek is bang”, en albei dra perfek by tot die spookagtigheid van die tema. Sy sing hierdie twee liedjies pragtig en atmosferies, en ek kan sien die gehoor wil-wil net hande klap, al is ons nie veronderstel om tussenin applous te gee nie. 

Marcia Moon speel deurentyd briljant kitaar, span af en toe selfs ’n bekfluitjie in en sing heerlik en modern al is die lirieke verweef met tragedies.

Marcia Moon speel deurentyd briljant kitaar, span af en toe selfs ’n bekfluitjie in en sing heerlik en modern al is die lirieke verweef met tragedies. Die kontrabasklanke van Johan Smit is beautiful en Ryno Posthumus se klavier gee diepte aan elke liedjie. Met die musiek self kan ek geen fout vind nie, maar ek sou graag meer kohesie tussen die musikante wou sien wat kleredrag betref, miskien ook dalk elemente op die verhoog self wat tot die tema bydra. 

Ná die tyd hoor ek van die toeskouers met Marcia gesels: “Dit was nou fantasties, ek het dit glad nie verwag nie. Dit was so anders.”

Dis baie waar woorde, want Die heks van Hexriviervallei is beslis ’n opvoering wat die moeite werd is om by te woon. Ek hoop om dit dalk weer in die toekoms te kan sien en om nog baie van Marcia Moon se liedjies te hoor. 

Facebook
Twitter
LinkedIn