BOEKGESPREK

Jeanne en Agnes se stories soos warm karos teen kilheid van die lewe

Jo-Ann Floris
Sneeu in die Karoo
Die Khaya

Hoe lekkerder Jeanne Goosen se versorger, Agnes Morao, skryf, hoe kwater en meer gefrustreerd raak die deurwinterde skrywer. Want haar woorde wíl net nie kom nie. Dit is mos nie die natuurlike orde van dinge nie, of hoe?

Eintlik was dit net so ’n terloopse opmerking van Jeanne se kant af aan Agnes dat sy iets moet skryf, want hoe anders sou sy tog die tyd omkry in die Karoo-dorpie Nieu-Bethesda, ver van die naaste dorp, ’n afgesonderde gemeenskap?

Die twee is daar weg uit Johannesburg, vir Jeanne ’n soort sabbatsreis.

Op eerste oggend word hulle begroet met die sneeu wat val. 

“Skryf dit, Agnes,” sê Jeanne.

“Maar hoe moet ek dit skryf?” vra Agnes.

“Skryf: ‘ ’n Sneeukombers lê oor die dorp.’ ”

En toe laat waai Agnes. Eers kliniese, chronologiese beskrywings, maar later ontdooi haar skryfvingers en gedagtes en sy raak meer beskrywend oor die mense op die dorp, en hul persoonlikhede.

En Jeanne sukkel steeds.

Dit is die inleidende storie wat Petrovna Metelerkamp, uitgewer en jare lange vriendin van Goosen, vertel by die boekbespreking by die Woordfees.

Jeanne het toe geskryf. En toe verskyn ’n baie ongewone boek: Die een helfte Jeanne, die ander helfte Agnes.

Langs Petrovna sit Tendai Magumise, wat Agnes se Tswana in Engels vertaal het, wat toe verder deur die uitgewer in Afrikaans vertaal is.

Soos uit die vertellings van Jeanne blyk, was die boek omtrent net so kompleks soos sy. En die produk is ewe briljant.

Jeanne én Agnes skryf nou al tussen die sterre, maar hulle kan met tevredenheid neerkyk oor hulle unieke skryfnalatenskap.

Jackie Nagtegaal, die gesprekleier, stuur die twee vroue behendig en kry hulle sover om ’n bietjie in Jeanne – én Agnes – se wêreld te klim.

Dit is die jaar 1992. Demokrasie is nog in sy nappies en vol koliek, maar daar is hoop. Dit het nog nie heeltemal gearriveer in Nieu-Bethesda nie, maar gaan die twee gedurende hulle verblyf daar help werk.

Die bespreking gee die twee vroue ’n gesig. Elkeen met hulle eie goed waardeur hulle moet worstel, maar ook hoe hulle deur verskillende oë na dieselfde omgewing om hulle kyk en dit ervaar. Hulle raak mekaar se spieëls, sien hulleself en mekaar daar.

Dit is Petrovna wat al Jeanne se skryfsels, notas en manuskripte bymekaar gemaak het toe die skrywer se gesondheid begin agteruitgaan. Onder al die geskrifte was daar die manuskrip wat die eerste deel van die boek sou word, maar ook die Croxley-hardebandboek waar Agnes tussen die bladsye met die lyntjies geleef het.

Tendai vertel die vertaling “het maklik gekom”, al was dit die eerste keer dat sy so iets moes aanpak. “Agnes se storie laat voel jou of jy self daar was, só goed is dit geskryf.”

Met die skryfwerk wat vir Agnes so maklik vloei – en Jeanne wat net wroeg – raak sy in ’n stadium kwyt: “The arrogance with which white people think (as sy sien Agnes sukkel nie).”

Die bespreking gee die twee vroue ’n gesig. Elkeen met hulle eie goed waardeur hulle moet worstel, maar ook hoe hulle deur verskillende oë na dieselfde omgewing om hulle kyk en dit ervaar.

Dit was Jeanne, sê Petrovna: bedonnerd soos min, maar altyd gereed om haar battles te konfronteer.

Die vertaling van Agnes se gedeelte was ongewoon, vertel sy, want hier en daar het sy primitiewe Afrikaans gebruik. “Ons moes versigtig wees om steeds vir Agnes te laat praat, uit háár mond uit.”

Maar Jeanne kon baie twak praat, onthou Petrovna skielik, en Jackie beam – Jeanne het immers vir lank by hulle tuisgegaan, en daarom het hulle heerlik weggelê aan daai stories wat sy kon opdis.

“So het sy ons almal laat glo haar broer het selfmoord gepleeg – sy het selfs gedigte en goed daaroor geskryf,” vertel Petrovna.

En toe, op ’n dag, ontmoet sy ’n vrou op Groot-Brakrivier. Die twee raak aan die gesels en die vrou sê sy en Jeanne se broer het saamgewerk.

“Hoe dan nou?” dink Petrovna hardop, “Hy het dan selfmoord gepleeg?”

Dis toe dat sy uitvind die broer is nie te lank voor dit nie oorlede aan ’n hartaanval.

“Ja, ook die stories oor haar ma en pa het van dag tot dag verskil,” onthou Jackie. “Dit het net afgehang op watter dag jy haar vang!”

Maar nou ja, deur die foltering en wroeging het die beste stories hulle verskyning gemaak, stem die gehoor en die sprekers saam.

Daarom voel die storie inderdaad soos ’n kombers teen die koue.

Facebook
Twitter
LinkedIn