BOEKGESPREK

TV-koning wat die woord ‘sepie’ gehaat het

Susan Booyens
Die private Franz Marx
Boektent
Foto’s: Natalie Gabriels

Die bekroonde akteur, skrywer-regisseur en akademikus Chris Vorster se biografie-wat-nie-’n-biografie is nie, Franz Marx: Uit die perd se bek, het in Augustus by Protea Boekhuis verskyn. Maar wie was die ietwat knorrige en uiters private Franz Marx, skepper van onder meer Agter elke man en M-Net se trefferreeks Egoli: Plek van Goud, régtig – en hoe belangrik is sy bydrae tot ons televisiebedryf? 

Franz is ongelukkig in September verlede jaar ná ’n propvol baanbrekerslewe in die ouderdom van 78 aan Covid-verwante komplikasies oorlede. Woensdagoggend teetyd in die Boektent is daar in ’n onderhoudende gesprek tussen Vorster, Franz se jare lange vriende die omroeper Nic de Jager en televisievervaardiger Marida Swanepoel, en met die formidabele Sandra Prinsloo aan die stuur, aan hom hulde gebring en kleurvolle staaltjies gedeel.

Die boek is ’n verwerking van ure se persoonlike en professionele gesprekke wat Chris vir sy doktorsgraadtesis met Franz gevoer het – en daar is glo nog báie materiaal wat dit nie tot in die boek gemaak het nie. Hoewel daar oor sy vormingsjare geskryf word, bevat Uit die perd se bek nie sensasionele openbarings “waarin Kwêla of Pasella sou belangstel” of ontboesemings oor sy sekslewe nie – in sy eie woorde: “Daar was soveel stories oor my, maar oor wie is daar nie? As dit ’n gay ou is, het ek stories daaroor gehoor. As dit vrouens is, het ek gehoor ek het hulle bygekom in my kantoor. Dit het my nooit gepla nie, as jy jouself vir ’n toffie uitgee, gaan die mense aan jou suig. Dít het ek altyd geweet, maar hulle het nooit die waarheid geweet nie. Hulle het nooit geweet ek het twee kinders grootgemaak nie, nooit geweet ek was getroud nie; nie geweet wie is my vriende nie, nie geweet met wie ek sosialiseer nie. Hulle het nooit geweet van my private lewe nie.” 

Sandra, wat desjare saam met Franz – “hy was ’n ongelooflike akteur!” – by Truk toneel gespeel het, het Chris geterg die titel van die boek, “Uit die perd se bek”, is slim gekies en dat dit hom “vrywaar van ’n hele klomp goed”. Volgens Chris het Franz altyd gehoop iemand sal ’n studie oor hom doen en het hy sy volle samewerking gegee, en veral later “sagter geword” en meer gedeel.

Hy was net vir twee mense bang: Francois Swart en Anna Neethling-Pohl.

Die gehoor het aan Marida se lippe gehang toe sy vertel het van botsings tussen haar en Franz oor veral skedulerings van Egoli en hoe die duisende episodes se kosbare opnamebande bewaar is – of nie…! Hy’t glo nie omgegee of mense van hom hou of om vyande te maak nie, maar toe albei mettertyd in die Kaap kom aftree het, was hulle boesemvriende en hy was volgens haar uiters lojaal.

Nic het gespot hoewel Franz nie ’n tipiese gelowige mens was nie, was hy heimlik ’n “baie diep Dopper” wat sy kategismus uit die kop geken het. Hulle het gereeld vasgesit en maklik was hy nie, “maar hy was ’n eerlike ou, ’n man van inbors en met integriteit”. Nic en Chris het amusant vertel van Franz se passie vir vinnige karre, wat hom soms in die moeilikheid laat beland het. Hy’t juis TV bo teater gekies “omdat hy nie die nut daarin kon sien om arm te wees nie”, aldus Nic. “Hy was net vir twee mense bang: Francois Swart en Anna Neethling-Pohl.”

As deel van sy studie het Chris gaan kyk na Franz se lewensverloop en dit vergelyk met die opkoms van TV-vervolgverhale wêreldwyd. Dit was fassinerend om te hoor hoeveel van ’n wetenskap dit is om ’n daaglikse drama oor jare suksesvol te hou, en hoe Franz sy navorsing oorsee gaan doen het, maar ’n unieke model vir Egoli geskep het deur bv. ’n cliffhanger in die proloog in te sluit en meer storielyne en humor in te bou. O, en hy het die term “sepie” met ’n passie geháát! Dit was ’n “TV-dagvervolgverhaal”, baie dankie.

Teen die einde van ’n baie vol lewe waarin hy blykbaar verveling nie kon hanteer nie, was Franz volgens Marida gereed om dood te gaan. “Hy het als gedoen en als bereik. Ek dink hy was reg.”

Facebook
Twitter
LinkedIn