RESENSIE
TikTokkers tjank toe Tollie begin uithang
Willem Bester
Tollie Parton
The Daisy Jones Bar
Foto’s: Nardus Engelbrecht (agter die skerms) en verskaf
Ek moet seker erken ek is amptelik middeljarig. Nie omdat ek tussen Woordfees-shows ’n uiltjie wil knip nie, en selfs nie omdat mense skaars tien jaar jonger as ek my deesdae “oom” noem nie. Nee, die aftreeoord en saggedrukte kos is op die horison omdat ek in ’n tou buite ’n kroeg staan en die enigste een is met ’n papierkaartjie, terwyl almal rondom my staan en TikTok.
Ek gebruik nie TikTok nie. Facebook was ’n fout en Instagram het ek vinnig agtergelaat. Twitter het ek glad nie betree nie, net sodat ek nie toksiese poepholle soos Elon Musk se idees oor die wêreldpolitiek en -ekonomie en kinders-by-die-dosyne per ongeluk raaklees nie. Voorts het ek ’n enorme filosofiese probleem met apps wat dink hulle is ET en die heeltyd wil huis toe bel. Noem dit ’n effens ooraktiewe dog goed ingeligte vervolgingswaan.
Die geleentheid is Tollie Parton se eerste verskyning by die Toyota US Woordfees. Dit voel vir my of ek ’n randkarakter in ’n Hunter S. Thompson-roman is, hoewel daar niks sterkers – wettig of onwettig – as kafeïen in my bloedstroom is nie. Ek is ook nie op soek na die American Dream nie… eerder na ’n verklaring vir ’n Eg Suid-Afrikaanse Fenomeen op ’n Chinese platform, ’ n fenomeen waarvan ek maar vroeër die oggend te wete gekom het.
Van die ouens buite lyk rof en dronk. Ek besluit om nie te drink nie, want ek wil op my hoede bly sou iemand lus raak om my te donner. (Daar hang ’n Woordfees VIP-kaartjie om my nek, wat ek vir die oomblik nie wegsteek nie, denkende ek gaan dalk die mediakaart moet speel om betyds te sit.) Almal is ongeduldig, want Schalk (wat nie kan sing nie) se show het baie laat geloop, en die toegangstoestel se netwerksein is so doeltreffend soos Eskom. My papierkaartjie help net mooi niks nie, want dié moet ook geskandeer word.
Rondom my praat mense oor hoe hulle kaartjies bekom het. Die vrou voor my hou vir ’n ruk op Tollie op TikTok kyk en sê sy het kaartjies by Tollie self gekry. “Ken jy haar?” vra ek. “Nee,” sê sy. Maar sy is ’n follower en sy wys my die boodskap waarin Tollie haar die kaartjies aanbied en haar naam vra.
Uiteindelik beweeg die mensemassa, die ongeduld nou tasbaar, gemeng met ’n spulse afwagting. Binne is die vreemdste groepering mense wat ek nóg by ’n show gesien het: Jonk, oud, ge-Botox, gay, straight, butch, femme, nie-binêr, enkel, ménage, dronk, nugter, ge-coiffe, sonder hare, opgedress, iets wat onder die kroegligte soos kakie lyk. Tensy my verbeelding my op hol gesit het, was daar selfs pêrels. Het die wegraping plaasgevind en net ons het agtergebly?
Die huisligte doof, en daar staan sy. Groot uitrusting en groter hare, met beligting wat Norma Desmond sou laat terugdeins. Die eerste liedjie speel en Tollie se lippe bewe in mimiek. Die gehoor is ver verby bronstig opgewonde, want Tollie se plastiekpenis hang uit.
Tollie is die bliksem in, oor homofobie – oor hoe die samelewing LGBTQIA+-mense in die algemeen hanteer – maar nie spesifiek oor gender nie.
’n Agterplaasfopdosser is sy nie. Maar dis ook nie die mees afgeronde drag act in die geskiedenis nie: Sy is ’n Afrikaanse tannie met ’n moerse following, nie ’n filmsterkloon wat in die plaaslike stamkroeg ’n regular gig het nie. Sy doen nie self haar grimering nie – daarvoor is Sasha Le Strange verantwoordelik – en anders as baie ander drag queens vandag mimeer sy nog die liedjies.
Haar grappe kry gestalte in ’n liminale konteks, net soos Tollie self. Tollie is die bliksem in, oor homofobie – oor hoe die samelewing LGBTQIA+-mense in die algemeen hanteer – maar nie spesifiek oor gender nie. (Terwyl die naamlose aanlyn-moraliteitsbrigade eksistensieel oor voornaamwoorde kibbel en kanselleer, bly drag essensieel subversief. Daar moet oomblikke van Brendan O’Carroll se “man in ’n feckin’ dress” wees of die slenter werk nie. Hoe lank sulke ondermyning maatskaplik aanvaar sal word, bly ’n kommerwekende vraag.)
Tollie praat oor hoe sy op Vanrhynsdorp grootgeword het: “In ’n klein dorpie kan almal sê jy’s gay, behalwe jy.” Ons dek Steve Hofmeyr, Amelda Claassen, Jurie Els en Patricia Lewis. Dis tyd vir beledingskomedie, en Tollie loop met haar dildo die gehoor in. Dis nie seker of hulle wil saamspeel nie. Aanvanklik is “afgetree” en “huisvrou” die enigste antwoorde op: “Wat doen jy?” Later is daar iemand wat waag en sê hy is ’n NG predikant. Ek reken die hoop beskaam nie, maar ek hou ook nie my asem op nie. Dit lyk of die dildo iewers langs die pad verlore geraak het.
Tollie is terug op die verhoog. In die gehoor is daar ’n pa wie se seun onlangs uitgekom het, en wat Tollie gekontak het om sy seun se gemeenskap beter te verstaan. Tollie roep pa en seun verhoog toe – onbeplan, sê sy – en sing vir hulle Adele se “I Drink Wine”. Pa en seun vee trane af. Die same-sex couple voor my klap, een-hand, vingers in die lug en vee trane af. Ek kyk af en maak ’n nota. Toe ek opkyk, lyk dit of almal trane afvee. Omdat ek steeds sukkel om my eie emosies oor dié saak te vertolk, kyk ek liewer weer af en maak nog ’n nota: “Safe space. Affirmative space. Donnerse trane.”
“Ek weet ek het nou net ’n comedy show opgefok,” sê Tollie. En dan is alles verby; dit is sowat 40 minute sedert ek kom sit het. “Is dit klaar?” vra iemand my. “Dit lyk so,” sê ek, maar bly sit om te kyk wat gaan gebeur. Meer as die helfte van die gehoor staan en wag vir ’n fotogeleentheid saam met Tollie; die res drink en rook buite.
Ek loop in ’n oudstudent vas en ons klets beleefd vir ’n paar minute. Ek gaan sit weer. Dis 15 minute later en dit lyk of die show regtig vroeër klaar was. Niemand blyk egter bedroë te voel oor ’n kortgeknipte show nie. Daar is steeds sowat 50 mense wat geduldig wag vir ’n foto. Op die verhoog flits nog ’n kamera… iemand omarm Tollie met ’n gebaar wat sê: “Dis my Tollie.”
Omdat ek steeds sukkel om my eie emosies oor dié saak te vertolk, kyk ek liewer weer af en maak nog ’n nota: “Safe space. Affirmative space. Donnerse trane.”
“Was dit goed?” teks ’n vriendin my. Ek teks terug:
Dis relatief. So-so as drag show, orraait as insult comedy, maar off the scales in terms of social commentary and engagement. In ’n stadium het omtrent die hele gehoor gesit en tjank oor ’n coming-out story. Ek het nog nooit so iets gesien nie.
Ek dink nie dis ’n onregverdige waardebepaling nie. As daar vanaand een minder homofoob is of een minder LGBTQIA+ kid wat met ’n beklemming om die hart gaan slaap, dan verdien Tollie myns insiens elke oomblik en sent van haar faam. Shit, ek wonder of sy haar plastiekpenis teruggekry het.
- 15 Oktober om 17:00. ’n Streng ouderdomsbeperking van 18. Bespreek by Webtickets.