RESENSIE

KroonWild(e) van die Woordfees

Marina Griebenow
Die sewe doodsondes
Oude Libertas-teater
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Na afloop van Kurt Weill en Bertolt Brecht se grensverskuiwende werk Die sewe doodsondes by die Oude Libertas-amfiteater bly ’n mens sit en jou gedagtes loop na amper ’n dekade gelede toe Astor Piazzola se tango-opera Maria de Buenos Aires ook by hierdie einste venue gedebuteer het.

Toe het jy daar gesit en gewéét jy het iets besonders beleef, en die gevoel in jou gemoed deel jy met honderde mense reg oor die wêreld wat al dieselfde ervaring gehad het. Jy weet ook jy sal dit vir die res van jou lewe koester. Matthew Wilde se ballet chanté, glo ’n mens, gaan dieselfde pad loop.

Terwyl die verhaal van Anna I en Anna II hom voor jou afspeel, verwonder jy jou telkens aan die hoë produksiewaardes en fyn afronding. Dan onthou jy die kreatiewe span van Die sewe doodsondes was onder meer betrokke by een van die mees ambisieuse en asembenemende blyspele wat Kaapstad nóg beleef het, naamlik West Side Story, ’n produksie van die voormalige Fugard-teater wat lag-lag enige musiekblyspel op Broadway of in die West End sou kon troef.

Die sewe doodsondes is geskep deur Wilde (regisseur), Charl-Johan Lingenfelder (vertaler en musiekregisseur) en Louisa Talbot (choreograaf) in hulle pogings om hulle lewe en loopbaan uit die kloue van die Covid-pandemie terug te gryp. Met behulp van die Toyota US Woordfees en Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati) skep hulle ’n ware kunswerk wat jou siel voed en jou sin vir die estetiese bevredig.

Wilde is konsepsueel ’n geweldige sterk regisseur. As ervare operaregisseur werk en dink hy ook op ’n skaal wat nie alle regisseurs die voorreg het om te doen nie. Tog voel dit of hy altyd aan die kleinste detail aandag gee – en dít is wat dikwels sy werk onderskei.

In Die sewe doodsondes is daar 5 sangers, 7 dansers, 7 musikante en 1 akteur – ’n groot rolverdeling in enige taal. Sy keuse van Bianca le Grange as Anna I is geniaal. Sy het reeds as Anita in West Side Story haar staal en veelsydigheid gewys en daarvoor verskeie toekennings verower. Sy skitter in hierdie werk as sy in haar blink swart rok en hakskoene die verhoog beheers. Haar bemeestering van die moeilike musiek is eweneens merkwaardig en haar musikaliteit ’n vreugde. ’n Mens moet veral haar diksie vermeld. Daar is nie onderskrifte nie, maar met Le Grange op die verhoog is dit nie nodig nie. Elke woord is klokhelder.

In Die sewe doodsondes is daar 5 sangers, 7 dansers, 7 musikante en 1 akteur – ’n groot rolverdeling in enige taal. Sy keuse van Bianca le Grange as Anna I is geniaal.

Die uitsonderlike jong danser Simone Neethling is heeltemal opgewasse as Anna I se alter ego. Sy pas uitstekend in die rol van die onderdanige Anna II, want met haar lenige lyf en lang bene het sy ’n byna boaardse vermoë om ineen te smelt asof sy verdwyn. Birrie le Roux se kostuums vir haar is nommerpas. Dit is veral die lae en lae pienk tulle waarin sy in ’n stadium verrys wat ’n mens bybly.

Die wit tasse wat die dansers aandra om die kostuum- en toneelveranderings te bewerkstellig is só slim. Dit is natuurlik Wolf Britz se idee. Hy maak lank reeds opgang as stel- en beligtingsontwerper en ryg ook die toekennings in. Die stel van Die sewe doodsondes self is bedrieglik eenvoudig – houtskerms waaragter die briljante orkes van sewe, die Flat Mountain Project, Weill se besonderse klankbaan speel onder leiding van die nimlike pianis en medemusiekregisseur Louis Zurnamer. Die orkes bestaan uit Annien Shaw (viool), Robert Jeffrey (kitaar/banjo), Mike Magner (trompet), Jarryd West (perkussie), Mariechen Meyer (kontrabas) en Matthew Foster (klarinet).

Britz span ’n ander opkomende teatermaker, Kirsti Cumming, in om met haar innoverende videografie teen die einste skerms die Amerikaanse stede voor te stel wat met die sewe doodsondes saamgaan. Die skerms raak skielik vloeibaar wanneer Anna se familie bestaande uit Arthur Swan as die pa (tenoor); Siphesihle Mdena as ’n broer (tenoor); Lwazi Dlamini, ook as ’n broer (bariton); en Garth Delport as die afgesloofde ma (bas) om die kombuistafel verskyn en baie knap hulle sangbydraes lewer.

Die produksie begin met ’n kleinerige ateljee “binne” die skerms vanwaar die akteur Carel Nel, byna soos ’n huldeblyk, baie gepas dele voordra uit Hennie Aucamp se skryfwerk oor Die sewe doodsondes, ’n werk wat Aucamp “totale teater” genoem het en waarvan hy reeds ’n woordelikse vertaling voltooi het. Lingenfelder doen ’n nuwe “singbare” vertaling, maar steun op die werk van Aucamp vir toeligting.

Anna I som die verhaal die beste op wanneer sy sing:

Suster Anna is mooi, ek’s meer prakties

Sy is so effens mal, maar my kop is reg

Ons is eintlik glad nie twee persone

Selfs al sien jy twee van ons.

Beide ons naam is Anna

Saam het ons slegs een verlede asook slegs een toekoms

Een hart en een spaarrekening

En ons doen net wat goed is vir die ander

Nie waar nie, Anna?

Waarop Anna II net antwoord:

Ja, Anna.

Tipies van die Berlynse kabaret is daar deurgaans ’n ondertoon van morele verval en jy is bewus van Anna I se ambisie wat die brose Anna II amper knak.

Hulle vaar die bose wêreld in om geld te maak om vir hulle familie ’n nuwe huisie in Louisiana te bou. Die sewe doodsondes kniehalter egter hulle pogings in elke stad waar hulle kom. In Chicago is dit luiheid, in Memphis trots, in Los Angeles woede, in Philadelphia vraatsug, in Boston wellus, in Baltimore hebsug en in San Francisco afguns. Tipies van die Berlynse kabaret is daar deurgaans ’n ondertoon van morele verval en jy is bewus van Anna I se ambisie wat die brose Anna II amper knak. Die satire loop dik deur die are van hierdie werk.

Talbot se choreografie is merkwaardig. Die energie van die dansers Liam Alexander, Zoe Aldridge, Crystal Finck, Mihlali Gwatyu, André Maarman en Philasande Majikela is tasbaar en hulle eb en vloed soos golwe oor die hele verhoogruimte. Onder die Oude Libertas se sterre is dit lewegewend.

By elke kunstefees ontdek ’n mens ’n juweel wat jou hartsverbintenis met daardie fees word. Die sewe doodsondes sal vir my altyd ’n kosbare herinnering bly van ’n stuk uitsonderlike teater waar elke onderdeel bygedra het tot ’n briljante geheel.

  • 15 en 16 Oktober om 20:00. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn